Gr 8-Ekonomiese en Bestuurswetenskappe-Handleiding
Graad 8 • Handleiding Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Besit en gepubliseer deur Optimi, deel van Optimi Central Services (Edms) Bpk. Impalalaan 7, Doringkloof, Centurion, 0157 info@optimi.co.za www.optimi.co.za
Afgesien van enige billike gebruik vir die doel van navorsing, kritiek of resensie soos toegelaat onder die Wet op Outeursreg, mag geen gedeelte van hierdie boek in enige vorm of op enige manier elektronies of meganies, insluitend fotokopiëring, bandopname, of enige inligtingstoring-en-herwinningstelsel, gereproduseer of versend word sonder die uitgewer se skriftelike toestemming nie.
Die uitgewer dra geen verantwoordelikheid vir die voortbestaan of akkuraatheid van URL’e van eksterne webwerwe of webwerwe van derde partye waarna daar in hierdie publikasie verwys word nie, en waarborg nie dat enige inhoud op sulke webwerwe akkuraat of toepaslik is, of sal bly nie.
Daar is gevalle waar ons nie die kopiereghouer kon kontak of opspoor nie. Die uitgewer is bereid om enige foute of weglatings so gou as moontlik reg te stel indien die saak onder ons aandag gebring word.
Reg.nr.: 2011/011959/07
Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Handleiding
Graad 8
Aangepas vir KABV
Í7(È-A-EMS-SG017Î
S Loots B Pretorius
Leselemente
LEERDOELWITTE
Wat jy aan die einde van die les moet weet (uit die KABV geneem)
DEFINIEER
Definisies van konsepte om die inhoud te kan verstaan
WENKE
Enige inligting, buiten die inhoud, om jou deur die leerproses te begelei
AKTIWITEIT
Vrae wat in die les voorkom en beantwoord moet word ten einde jou kennis van die les te toets
OEFENING
Ter afsluiting van die spesifieke eenheid. Formatiewe assessering.
STUDEER/HERSIENING
SAMPLE
Tyd wat bestee word om die inhoud te bestudeer met die afsluiting van die eenheid en ter voorbereiding vir die toets of eksamen
Voorwoord
Baie welkom by Ekonomiese en Bestuurswetenskappe. Die vak handel oor die doeltreffende en effektiewe gebruik van verskillende soorte private, openbare of kollektiewe hulpbronne om menslike behoeftes te bevredig. Ekonomiese en Bestuurswetenskappe is ’n praktiese vak wat leerders toerus met werklike lewensvaardighede vir persoonlike ontwikkeling en gemeenskapsbou. Die inhoud is van toepassing op Suid-Afrika se unieke situasies ten opsigte van gemeenskappe, besighede, ens.
Hier is ’n paar wenke oor hoe om die handleiding te gebruik:
• Dit is noodsaaklik dat jy deur al die eenhede in die handleiding werk.
• Elke les bevat gepaste aktiwiteite wat jy moet voltooi om die les beter te verstaan.
• ’n Oopboektoets aan die einde van elke eenheid sal jou kennis oor daardie eenheid toets. Dit sal voorbereiding vir toekomstige toetse en eksamens vergemaklik.
• Jy word ook van ’n werkboek voorsien wat al die nodige antwoordblaaie bevat wat jy benodig om die aktiwiteite wat verband hou met finansiële geletterdheid te voltooi. Daar word in die onderskeie aktiwiteite aangedui wanneer jy die werkboek moet gebruik.
• Jy benodig ’n sakrekenaar om jou te help met die finansiële geletterdheidsgedeeltes.
• Dit is belangrik dat jy tydskrifte en koerante lees oor verskillende onderwerpe wat in die handleiding behandel word om sodoende groter indieptekennis van die onderwerpe op te bou.
• Jy moet ook weet wat met die land se ekonomie en finansiële sake gebeur.
SAMPLE
Studiewenke
Ekonomiese en Bestuurswetenskappe bestaan hoofsaaklik uit drie afdelings, naamlik die ekonomie, entrepreneurskap en finansiële geletterdheid. Jy moet duidelik tussen die drie afdelings kan onderskei. Jy moet ’n groot hoeveelheid werk deur die jaar voltooi. Dit is belangrik dat jy die regte studiemetodes gebruik om vir toetse en eksamens voor te berei.
Hier is ’n paar studiewenke wat jy kan gebruik:
• Vluglees elke hoofstuk voordat die werk verduidelik word.
• Luister aandagtig; 70% tot 80% van leer en verstaan vind plaas terwyl werk verduidelik word.
• Maak seker dat jy elke woord of begrip in die les goed verstaan. Gebruik die woordelys agter in die handleiding of ’n woordeboek.
• Fokus en konsentreer op elke stap van die gedeelte wat behandel word. Moenie dat jou gedagtes afdwaal nie.
• Neem aktief aan die les deel deur vrae te vra of te beantwoord.
• Hersien elke dag die werk wat behandel is.
• Vra vir hulp as jy dit benodig Dit is belangrik om alle werk te verstaan voordat jy met die volgende afdeling begin.
Jaarplan
EENHEID 1
Les 1: Hersiening
STUDEER/HERSIENING
Die volgende les sal jou geheue verfris oor wat in graad 7 in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe behandel is
1.1.1
Die ekonomie
Die geskiedenis van geld
Duisende jare gelede het mense in hul eie behoeftes voorsien. Hierdie gemeenskappe was selfonderhoudend en onafhanklik van enigiemand anders. Die eerste ekonomiese stelsel was ’n bestaansekonomie, wat beteken het dat mense slegs genoeg van dít wat hulle nodig gehad het, geproduseer het. Hulle het byvoorbeeld mielies vir mieliemeel geplant en beeste vir melk aangehou.
Mense het goedere vir ander goedere verruil en nie geld gebruik nie, maar eerder handel gedryf met niebederfbare artikels, soos skulpe, sout, kleiskywe en lewende hawe. Dit het as ruilhandel bekend gestaan. Ruilhandel het egter sekere probleme laat ontstaan:
• Goedere het geen vasgestelde waarde gehad nie, omdat verskillende gemeenskappe verskillende waardes aan items geheg het.
• Voordat ruilhandel suksesvol kon plaasvind, moes die twee partye betrokke by die proses elk gehad het wat die ander party wou hê.
SAMPLE
• Sommige goedere was slegs op sekere tye van die jaar beskikbaar en kon nie geberg word nie, bv. bederfbare kos.
Geld is uitgevind om ruilhandel te vervang. Die belangrikste rol van geld is dat dit vir goedere en dienste geruil kan word, wat die ruilhandelproses uitskakel. Geld as ruilmiddel het die beperkinge van ruilhandel oorkom, naamlik om ’n party te vind wat dit wat jy wil hê, beskikbaar het en dit wil hê wat jy beskikbaar het.
Geld verwys na enigiets van waarde wat algemeen as betaalmetode vir goedere en dienste aanvaar word, maar dit is gewoonlik in die vorm van muntstukke en banknote. Sedert geld se vroeë ontstaan as effektiewe plaasvervanger vir ruilhandel het dit só verweef geraak in die moderne samelewing dat ons ons nie ’n wêreld daarsonder kan voorstel nie.
Behoeftes en begeertes
Behoeftes en begeertes beïnvloed die manier waarop individue, families/gesinne, gemeenskappe en lande leef, werk en geld spandeer. Mense se behoeftes en begeertes is onbeperk, maar die hulpbronne wat nodig is om hierdie behoeftes en begeertes te bevredig, is beperk.
’n Behoefte verwys na iets wat noodsaaklik is vir ons om te oorleef. Om hierdie rede noem ons dit primêre behoeftes. Voorbeelde van primêre behoeftes is kos, water, skuiling, ens.
’n Begeerte verwys na iets wat ons graag wil hê, maar nie nodig het om te oorleef nie. Om hierdie rede noem ons dit sekondêre behoeftes. Voorbeelde van sekondêre behoeftes (begeertes) is selfone, luukse-motors, juweliersware, ens.
2. Behoeftes aan veiligheid en sekuriteit: persoonlike, emosionele en finansiële sekuriteit, asook gesondheid.
3. Sosiale behoeftes: geselskap, liefde en vriendskap.
4. Agtingsbehoeftes: erkenning, respek, aanvaarding en sukses.
5. Selfverwesenlikingsbehoeftes: selfontwikkeling, kreatiwiteit en spiritualiteit.
Goedere en dienste
Wanneer jy iets koop of verkoop, is jy deel van die kringloop van goedere, dienste en geld in die ekonomie. Goedere verwys na goed wat ons kan sien, ruik, voel of proe, wat ons in winkels kan koop.
Dienste verwys na dade wat verrig word om behoeftes te bevredig. ’n Persoon wat ’n diens lewer, “verkoop” sy kennis en vaardighede aan die persoon wat wil hê die diens moet gelewer word, bv. ’n dokter of ’n loodgieter.
Dit is onmoontlik om almal se behoeftes en begeertes te bevredig. Daarom moet goedere en dienste op effektiewe en doeltreffende maniere gebruik word.
Ongelykheid en armoede
Ongelykheid verwys na verskille in mense se omstandighede, waar een persoon of groep ’n hoër inkomste verdien en beter fasiliteite, meer geleenthede en toegang tot gehaltedienste het as ’n ander persoon of groep.
Armoede beteken dat mense nie geld het om hul basiese behoeftes te bevredig nie. Faktore wat bydra tot armoede is:
• Ongelykhede van die verlede.
• Ongeletterdheid en ’n gebrek aan onderwys en opleiding.
• Die heersende ekonomiese toestand in die land.
Die produksieproses
Produksie is die proses waartydens natuurlike hulpbronne gebruik word om bruikbare produkte vir verbruikers te skep ten einde hul behoeftes of begeertes te bevredig. Sekere insette is nodig om hierdie proses moontlik te maak. Hierdie insette staan as produksiefaktore bekend.
’n Entrepreneur beskik oor die vermoë om al die produksiefaktore saam te voeg om ’n suksesvolle onderneming te bestuur. Die vier belangrikste produksiefaktore is natuurlike hulpbronne, kapitaal, arbeid en entrepreneurskap.
1.1.2 Entrepreneurskap
Besighede
’n Besigheid is ’n winkel of maatskappy wat goedere of dienste vir geld verruil.
’n Formele onderneming dryf handel in die formele sektor, is by die regering geregistreer en betaal belasting aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). Formele ondernemings is onderhewig aan wetgewing soos deur die Departement van Arbeid gereguleer. Voorbeelde van formele ondernemings is maatskappye soos Checkers, Pick n Pay, Makro, ens.
In teenstelling met formele ondernemings dryf informele ondernemings handel in die informele sektor, is nie by die regering geregistreer nie en betaal nie belasting nie.
Werkers in sulke ondernemings word ook nie deur die Departement van Arbeid beskerm nie. Voorbeelde van informele ondernemings is straatsmouse, karwagte, vlooimarkte, ens.
Daar is drie verskillende soorte besighede:
• Produsente en vervaardigers
SAMPLE
Dit is die ondernemings wat goed verbou of maak. Hulle gebruik natuurlike hulpbronne of grondstowwe om goedere te produseer of te vervaardig. Hulle verkoop dan hierdie goedere aan kleinhandelaars wat dit op hul beurt aan verbruikers verkoop.
• Handelsondernemings
Dit is ondernemings soos kleinhandelaars wat goedere by produsente of vervaardigers koop en dit teen ’n wins aan verbruikers verkoop.
• Diensondernemings
Diensondernemings “verkoop” hul kennis en vaardighede aan verbruikers wat wil hê die diens moet gelewer word, bv. ’n dokter of ’n loodgieter.
Formele en informele besighede kan beide produsente en verbruikers in die ekonomie wees
Die entrepreneur
’n Entrepreneur is ’n persoon wat ’n winsgewende idee in ’n besigheid omskep. ’n Entrepreneur moet bereid en in staat wees om risiko’s te loop, mislukkings te aanvaar en nuwe en innoverende idees uit te dink. Hulle is aanhoudend besig om nuwe maniere te vind om produkte te verbeter, koste te verminder en winste te vermeerder.
Sommige eienskappe van ’n entrepreneur sluit die volgende in:
• Innoverend/kreatief
• Bereid om risiko’s te loop
• Geesdriftig
• Selfversekerd
• Toegewyd
• Duidelike visie
• Volhardend
• Buigsaam
• Mededingend
1.1.3 Finansiële geletterdheid
Rekeningkundige begrippe
• Kapitaal: Geld wat ’n persoon gebruik om hul eie besigheid mee te begin.
• Bates: ’n Besigheid se waardevolle besittings waaruit die besigheid voordeel trek deur ’n inkomste te genereer, soos masjinerie en geboue.
• Laste: Geld wat ’n besigheid aan ’n persoon of ander besigheid skuld.
• Inkomste: Geld wat jy ontvang vir goedere wat jy verkoop of dienste wat jy lewer.
• Uitgawes: Al die geld wat ’n besigheid spandeer om skuld te betaal of om sy onkoste te dek
SAMPLE
• Wins: Die verskil tussen geld verdien en geld uitgegee wanneer inkomste meer as uitgawes is. Dit is al die inkomste van ’n besigheid minus al sy uitgawes. ’n Wins word gemaak wanneer ’n besigheid se bates en/of eienaarsbelang sy laste oorskry.
• Verlies: Wanneer ’n besigheid se inkomste minder as sy uitgawes is.
• Begroting: Die beraamde inkomste en uitgawes vir ’n sekere tydperk.
• Besparing: ’n Gedeelte van die geld wat jy verdien en wat jy wegsit om later weer te gebruik of in rykdom te omskep.
• Bankwese: ’n Bank is ’n finansiële instelling wat kliënte se deposito’s gebruik om beleggings te maak of te spaar, wat lenings toestaan, en buitelandse valuta wissel. ’n Bank vra geld vir dienste gelewer.
• Finansiële rekords: Formele dokumente waarin die transaksies van ’n onderneming of individu weerspieël word. Finansiële rekords sluit inkomste-en-uitgawestate, belastingopgawes, ens. in.
• Transaksie: Enige aktiwiteit waarby geld betrokke is.