
2 minute read
AKTIWITEIT 4.3
AKTIWITEIT 4.2
Voltooi hierdie aktiwiteit in jou skrif.
Lees Thando se storie en beantwoord die vrae.
Thando en sy gesin bly op ’n afgeleë landelike gebied. Daar is geen dorpe of stede met groot winkelsentrums naby hulle nie en Thando se ouers besit nie ’n motor nie. Thando en sy jonger suster loop elke dag rivier toe om water in houers te skep. Die gesin bewerk hul eie groentetuin en oes vrugte van bome wat hul aangeplant het. Die gesin hou ook beeste en skape aan vir vleis en melk. Thando en sy gesin werk hard, maar darem word daar in al hul basies behoeftes voorsien.
Vergelyk jou gemeenskap met Thando se selfonderhoudende gemeenskap in terme van die volgende opskrifte:
4.2.1 Vervoer 4.2.2 Toegang tot basiese dienste 4.2.3 Toegang tot winkelsentrums 4.2.4 Inkomste
1.4.3 Moderne gemeenskappe
DEFINIEER
Moderne gemeenskap: ’n Gemeenskap wat gekenmerk word aan sy hoë vlak van ontwikkeling en beskikbaarheid van gespesialiseerde fasiliteite, goedere en dienste
Mense wat in groot geïndustrialiseerde dorpe en stede woon het toegang tot baie fasiliteite en word as moderne gemeenskappe geklassifiseer. Met ander woorde, daar is ’n verskeidenheid goedere en dienste en ook gespesialiseerde goedere en dienste beskikbaar in ’n moderne gemeenskap. Jy sal oplet dat ’n moderne gemeenskap ’n groter bevolking as ’n selfonderhoudende en landelike gemeenskap het.
Die volgende fasiliteite en dienste is gewoonlik in moderne gemeenskappe beskikbaar: • Groot winkelsentrums • Tegnologie • Mediese sorg, bv. hospitale, klinieke en doktors • Hoofpaaie en snelweë • Primêre, sekondêre en tersiêre onderrig • Ontspanningsgebiede soos parke, pretparke, ens. • Kultuurfasiliteite soos teaters en danslokale
Mense wat in moderne gemeenskappe woon, het toegang tot tersiêre instellings wat hulle in staat stel om ’n hoër vlak van vaardigheid en opvoeding te bekom. Aangesien mense in moderne gemeenskappe ’n goeie inkomste kan verdien, handhaaf hulle ’n hoer lewenstandaard.
Weens moderne gemeenskappe se groter bevolkings en hul hoër vaardigheidsvlakke, word baie sakegeleenthede geskep om ’n verskeidenheid goedere en dienste aan hierdie gemeenskappe te lewer. Goedere en dienste word op grootmaat vervaardig en verkoop; dus dra moderne gemeenskappe by tot ’n land se ekonomie.
1.4.4 Landelike gemeenskappe
DEFINIEER
Landelike gemeenskap: Dit is ’n ylbevolkte gebied buite ’n stad of dorp, gekenmerk deur plase en oop ruimtes. Inwoners van landelike gebiede het nie toegang tot al die fasiliteite, dienste en tegnologie van stedelike gebiede nie.
Inwoners wat in landelike gebiede woon het nie toegang tot al die fasiliteite, dienste en tegnologie van ’n moderne gemeenskap nie, maar moet nie met ’n selfonderhoudende gemeenskap verwar word nie.
Mense in landelike gebiede dra hoofsaaklik tot die primêre sektor by, bv. mynbou, bosbou en landbou. Hulle koop goedere en dienste van die regering en groter besighede wat in moderne gemeenskappe voorkom aan. Hierdie gemeenskappe is baie afhanklik van bestaande infrastruktuur soos paaie, water en elektrisiteit om hul produkte te lewer en aan die ekonomie deel te neem.
AKTIWITEIT 4.3
Voltooi hierdie aktiwiteit in jou skrif.
Beantwoord die vrae.
4.3.1 Wat is die naaste moderne gemeenskap aan waar jy woon? Woon jy self in ’n moderne gemeenskap? Beskryf in tien sinne die moderne gemeenskap waarin jy woon of die een naaste aan jou.
4.3.2 Gebruik koerante, tydskrifte en die internet om inligting oor die leefstyle en lewenstandaard van twee verskillende gemeenskappe of lande te kry. Vergelyk die volgende: • Armoede • Werkloosheid • Bevolkingsgrootte