
1 minute read
AKTIWITEIT 3.1
1.3.1 Staatsinkomste
DEFINIEER
Behoeftes: Iets wat noodsaaklik is vir ons om te oorleef, bv. kos, water, skuiling, ens. Belasting: Geld wat ’n land se inwoners aan die regering moet betaal vir die goedere en dienste wat die regering voorsien om behoeftes te bevredig Direkte belasting: Belasting wat inwoners direk aan die regering betaal vir goedere en dienste gelewer Heffings: Addisionele belasting en fooie wat by die prys van goedere en dienste gevoeg word Indirekte belasting: Belasting wat inwoners indirek aan die regering betaal deur ondernemings en munisipaliteite, bv. BTW. Inkomste: Geld wat jy ontvang vir goedere wat jy verkoop of dienste wat jy lewer Uitgawes: Geld wat spandeer word om basiese behoeftes te bevredig
Die regering is verantwoordelik om in alle landsburgers se basiese behoeftes te voorsien. Hiervoor benodig die regering baie geld. Huishoudings en besighede dra nie net by tot ons land se ekonomie nie, maar ook tot die regering se begroting deur belasting te betaal.
Belasting is die land se grootste bron van inkomste. Die regering vorder twee soorte belasting in, naamlik direkte en indirekte belasting.
Voorbeelde van direkte belasting • Inkomstebelasting: Belasting wat die regering op ’n individu se jaarlikse persoonlike inkomste hef, bereken as ’n sekere persentasie. • Maatskappybelasting: Belasting wat die regering op ’n onderneming se wins hef.
Voorbeelde van indirekte belasting • Belasting op toegevoegde waarde (BTW): Belasting wat op goedere en dienste gehef word wat ons by ondernemings koop. Suid-Afrika se BTW-koers is tans 15%. • Sondebelasting: Belasting wat op goedere gehef word wat ’n negatiewe invloed op die verbruiker het, bv. sigarette en alkohol. Die doel van sondebelasting is om verbruikers te ontmoedig om hierdie produkte te koop. • Invoerbelasting: Belasting wat op goedere gehef word wat ons van ander lande aankoop en invoer. • Munisipale belasting: Belasting wat direk deur munisipaliteite gehef word vir vullisverwydering, riooldienste, ens.
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), ook bekend as SARS, is ’n organisasie wat verantwoordelik is daarvoor om inkomstebelasting vir die Suid-Afrikaanse regering in te vorder.