6
De Wildt Nuus
Mei 2022
De Wildt neem afskeid van oom Manie Lemmer Op inisiatief van Sandy Roberts, is daar onder leiding van die nuwe De Wildt Nuusredaksie op 12 Maart 2022 ‘n geselligheid by die Margaret Roberts Herbal Centre vir oom Manie en tannie Marie Lemmer gereël. ‘n Huldeblyk toekenning is aan oom Manie oorhandig as blyk van waardering vir sy uitstaande toewyding en onbaatsugtige diens aan die gemeenskap oor die afgelope 30 jaar. Oom Manie en tannie Marie is voorspoed toegewens met die nuwe fase in hulle lewe en die lewensreis wat vir hulle voorlê. Hulle gaan DV die volgende paar maande in Bloemfontein deurbring. Dankie aan Sandy vir die heerlike koek en muffins wat sy gebak het. Oom Manie het die koek gesny en almal het daarna heerlik gesmul en koffie of tee gedrink terwyl daar saam gekuier is.
Oom Manie laat ‘n groot leemte in De Wildt... Kobus Oosthuyzen Ons het in 1983 ons intrek geneem in De Wildt en het De Wildt leer ken met oom Manie. De Wildt en Manie Lemmer en tant Sannie was sinoniem. Hul was die gom wat De Wildt aan mekaar gehou het. Oom Manie was die kampvegter vir De Wildt en sy mense. Enige persoon wat iets snaaks wou doen moes eers by oom Manie verby kom. Oom Manie was een van die stigters van die De Wildt Helpmekaar Maatskappy wat oor die jare heen baie vir De Wildt en sy mense gedoen het. Hulle het gesorg dat De Wildt die landelike omgewing tot nou toe gebly het. Hy het al die jare as direkteur gedien en dit was vir ons ‘n voorreg om saam met hom te kon werk as die destydse Delta Zero. Daarmee saam was oom Manie die redakteur van die De Wildt Nuus en was hy die groot dryfveer agter die nuusblad. Saam met hom was tant Sannie wie baie artikels vir De Wildt Nuus geskryf het. Ons het oom Manie leer ken as ‘n persoon wie se woord sy eer was, hy was absoluut betroubaar, eerlik en opreg, hy boesem vertroue in, is hardwerkend ens. Hy was ‘n groot steunpilaar in die gemeenskap. Nou begin ‘n nuwe seisoen in oom Manie se lewe. Ons is dankbaar dat ons oom Manie lewendig verloor en dat ons hom en tant Marie, sy pragtige nuwe vrou, die beste en mooiste toekoms saam kan toewens. Mag hulle nog baie jare saam gespaar bly en die lewe ten volle geniet. Oom Manie laat ‘n groot leemte in De Wildt en hy sal vir seker gemis word. Ons glo nie daar is iemand wat alleen sy skoene sal kan volstaan nie. De Wildt sal nooit weer dieselfde wees sonder hom nie. Oom Manie Lemmer, ons groet jou, mag die Here jou ryklik seën.