4 minute read

Die Magaliesberggebied

Die Magaliesberggebied (1)

As mens begin oplees en kyk na die Magaliesberggebied, is dit eintlik verstommend watter interessante stukkies en brokkies inligting mens kan versamel juis oor die bekende bergreeks wat hier deur ons eie De Wildt-gebied loop. Dit is miskien ‘n goeie idee om uit verskillende hoeke na die Magaliesberggebied te kyk om sodoende ‘n groter prentjie vir onsself te skep. Voor die koms van die Blankes, dui bronne vir ons daarop, dat noord en suid van die Magaliesberg aan die begin van die 19de eeu, die gebied bewoon was deur die Bakwenas. Hulle was bekend as die “Krokodil-mense” omdat hulle die krokodil as totemdier gehad het. Hulle was ‘n welvarende stam wat in groot ommuurde stede gewoon het. Hul huise was goed en netjies gebou met oorhangende grasdakke. Die sendeling Campbell, volgens bronne, was die eerste blanke wat in 1820 met die Bakwenas kontak gemaak het. Hulle word deur hom in sy geskrifte die Boqains genoem. Gedurende 1825 stuur Silkaats sy spioene uit die toentertydse Oos-Transvaal, tans Mpumalanga, om die gebied by die Magaliesreeks te verken. Hy beweeg gedurende die tyd met al sy besittings uit die hedendaagse Ermelo-omgewing in ‘n westelike rigting. Hy bereik die Kashanberge (Magaliesberg) en vestig hom hier om sodoende sy strooptogte uit te voer. Aanvanklik was sy blyplek by Wonderboompoort, maar skuif later na die huidige Silkaatsnek. Later skuif hy nog verder met sy mag na die Marikana-omgewing. Wes van Silkaatsnek is daar hoë kranse waarvandaan hy teregstellings van veroordeeldes laat plaasvind het deur hulle daar af te gooi. Die Bakwenas is deur Silkaats oorrompel en hul stede is verbrand. Die jong manne en vrouens is deur hom weggevoer om as draers van die buit op te tree. Enige weerstand is op wreedaardige wyse met moord gestraf en alle stede verwoes en afgebrand. Beskrywings van die wreedaardige wyses wat gebruik was om die Bakwenas uit te moor, word beskryf in geskrifte. Met die besoek van Moffat aan die gebied in 1829, het hy slegs op murasies en geraamtes afgekom. Die oorblywende Bakwenas wat gevlug het en die moord oorleef het, het hulle huise in wilde vyebome gebou en selfs op pale om hulle te beskerm teen die roofdiere. Bibliografie: 1. Becker, P. 1962,Path of Blood. Longmans Green & Co, Londen. 2. De Beer, B.K.1975, Agter die Magaliesberge. Postma Publikasies, Johannesburg. 3. Deparment of Native Affairs, 1953, The Tribes of Rustenburg and Pilansberg district by P.L. Breutz. Ethnological Publications. No. 28, Government Printers, Pretoria.

Advertisement

Soutpan (Tswaing-krater) en omgewing

Sowat 40 km noord-wes van Pretoria op die Soutpanpad, wat by Onderstepoort verbyloop, vind ons ‘n reuse groot krater van sowat 1.13 km in deursnee. Vir jare het wetenskaplikes gereken dat dit ‘n vulkaniese uitbarsting is. Dit is egter later bewys dat dit wel deur ‘n meteoriet veroorsaak is. Nadat talle ontledings gedoen is, is vasgestel dat die verskillende rots- en grondlae ‘n duidelike impakdeformiteit toon. Die impak is gevorm deur ‘n meteoriet wat teen hoë spoed die aarde daar getref het. Hoë drukking en ‘n temperatuur van sowat 10,000 grade C het die rotslae waarteen dit gebots het, uniek vervorm. Die vermoede is dat die meteoriet ‘n deursnee van 30-50 m gehad het. Die slag van die impak moes oorverdowend gewees het en winde van tot 1,000km/h het verwoesting gesaai onder plant en dier. Enige bome en plante binne ‘n radius van 20-30 km is platgevee. Alle lewende wesens het 100% longskade opgedoen en verwoesting sover as 40 km van die impak is enorm. Die relatiewe “jong” krater is sowat 220,000 jaar oud. Dit is amper rond met ‘n rand van sowat 60m. Dit was tot in die 1950’s ‘n bron van sout wat binne die pan gemyn is. Soutpan is een van die besbewaarde meteorietkraters in die wêreld en is daar reeds baie navorsing gedoen op die krater en omgewing. In die vroeë 1860’s het die ZAR die streek waar Tswaing geleë is, begin opdeel in plase vir landboudoeleindes. Die krater self was die middelpunt van een so ‘n plaas wat dan ook Zoutpan genoem is. Plase soos Kromkuil in die noorde, Stinkwater in die ooste, Rietgat in die suide en Klipgat en Winterveld in die weste het ontstaan. Gedurende die 1890’s is Zoutpan oor uitgemeet en het die noord-oostelike gedeelte ontstaan met die naam Uitspan. Zoutpan en Uitspan het geval onder die Pretoriase magistraatsdistrik en het ook vier reserwe-gebiede vir swart inwoners ingesluit. Die vier gebiede het weer geval onder die jurisdiksie van vier kapteins, nl. Andries Maubaan, Zwartbooy, Sjambok en Hans Makapaan. Daar was sendingstasies in die vier gebiede onder meer by Hebron in die suid-weste, Jericho in die noorde en Wallmannsthal verder oos, wat later ‘n belangrike rol gespeel het in die stigting en vestiging van Ga-Rankuwa en Mabopane. Dit is dus duidelik dat Soutpan ook sy rol gespeel het in die geskiedenis van ons nabye omgewing. ‘n Besoek aan die Tswaingkrater kan waarlik ‘n interessante uitstappie wees om mens ‘n idee te gee van die impak wat die meteoriet op die omgewing gehad het. Bibliografie: 1. Nel, L. 2004, Anderkant die Magalies; Die wêreld van die Wonderboom, Brummeria, Kontreiboeke SA BK. 2. De Jong, R.C., 1995, A Short History of the Settlement around Tswaing, National Cultural History Museum, Pretoria.

This article is from: