
3 minute read
Wat is noodhulp?
from DWN Mei 2022
Noodhulp of eerstehulp is die noodbehandeling van beserings. Volgens die SafeTech noodhulpopleidingshandleiding word noodhulp vir drie redes toegepas: Om ‘n persoon aan die lewe te hou, om te voorkom dat ‘n besering of toestand vererger en om spoedige herstel te bevorder. Kardiopulmonêre resussitasie (KPR) (of die algemene naam – hartmassering) is ‘n belangrike vaardigheid wat deel van noodhulp vorm.
Wat moet in my noodhulp sakkie wees vir die huis?
Advertisement
• Wondreinigers (ontsmettingsmiddel) soos Dettol of Savlon • Gaas om wonde mee skoon te maak • ‘n Skêr • ‘n Tangetjie, om skerp voorwerpe uit die vel te trek • Twee paar mediese handskoene • Haakspelde • Driehoeksverbande • Rolverbande • Kleefverband (pleister) • Pleisters van verskillende groottes • Salf vir brandwonde • Antiseptiese salf • Medikasie om koors af te bring • Pynpille • Antihistamien vir allergiese reaksies • Maagmedikasie teen krampe of diarree • Opgevoude ruimtekombers (space blanket) om pasiënt warm te hou
Noodnommers:
112 vanaf selfoon 10177 Nasionale nood nommer
Ambulansdienste in ons omgewing
HEMS 082 695 1240
NetCare 911
082 911 ER24 084 124 BestCare Ambulans Diens 082 402 1416 ProMed Ambulans Diens 066 292 6614 Fun-Cure Ambulans Diens 079 626 1175
MENSE IS STRES
Dr Marius Potgieter (Kruiedokter en pastorale berader)
Die grootste bron van allerlei ongesteldhede en siektes is nie die fisiese aspekte nie maar emosioneel-geestelik. Hiervan is stres in al sy vorme sekerlik die gevaarlikste oorsaak van ongesteldheid en siektetoestande. Dit veroorsaak selfs ‘n verswakte immuunstelsel wat mens makliker vatbaar maak vir vyandige virusse en bakterieë!
Medemense en stres:
Stres word meestal deur medemense en/of die samelewing veroorsaak. Hoe beter jy met ander oor die weg kom, hoe minder stres sal jy ervaar. Daar is enkele riglyne wat kan help: • Leer om ander mense onvoorwaardelik te aanvaar – dit is een van die kernpunte van liefde (en nie gevoel nie). Alle ander mense is anders as jy en daarom sal ‘n mens altyd ruimte vir verskille moet maak; soms is daar kleiner verskille, soms groter verskille. Dat ons mekaar kan aanvul is egter een van die wonderlike aspekte van mens-wees – daarom moet ons verskil want mense wat dieselfde is kan nie “aanvul” nie maar wel “aanval”! • Tree altyd met respek op teenoor alle mense – en jy sal respek terugkry. Wees bewus daarvan dat alle mense se optrede beïnvloed word deur hulle agtergrond asook hulle positiewe of negatiewe ervarings: die grootste krimineel het ‘n geskie- denis wat hom en sy optrede beïnvloed het. Moet dus nie ander se optrede of houding sien as noodwendig ‘n reaksie op jóú nie. • Daar is mense wat jou in die verlede seergemaak of ernstig benadeel het. Dit het tot woede en bitterheid gelei. Miskien is daar nog steeds ‘n wrok teen iemand in jou hart. Dit maak ‘n mens fisies siek. So ‘n wrok kan nie die seer wegvat nie en ook nie die betrokke persoon terugbetaal nie. Dit is net soos iemand wat gif drink en dink dat sy vyand sal dood gaan!
Vergifnis as medikasie:
Die enigste reaksie wat ‘n verskil kan maak en wat weer vir jou vrede kan gee, is om te vergewe. Dit beteken nie om iets goed te keur nie, en ook nie om goed oor so iemand te voel nie. Dit beteken egter om iets as afgehandel te bekou en nie vergelding te eis nie; ‘n mens besluit om nie as regter op te tree nie maar dit aan God, wat die harte ken, oor te laat. Dit kom daarop neer dat ‘n mens die “rekening” opskeur en nie betaling eis nie. So het God met ons gemaak. Hy het ons rekeninge (wat onbetaalbaar groot was) teen die kruis vasgespyker en Jesus daarvoor laat betaal. Uit dankbaarheid doen ons dit teenoor ander mense sodat ons opreg kan bid “vergewe ons ... soos ons ook ander vergewe”. Maak gerus ‘n lysie van mense uit jou verlede wat jy onthou jou seergemaak of kwaad aangedoen het. Skryf net hulle voorletters in jou joernaal. Ondersoek jou hart en indien jy gehoorsaam wil wees (en die resultaat van innerlike vrede en daarmee saam gesondheid wil ervaar), sê vir die Here waarvoor jy elkeen van hulle vergewe en bedoel dit. As jy die insidente onthou en oor die betrokke mense dink, herinner jouself (en die vyand, die bose) daaraan dat jy hulle vergewe het. Die vergeet kom eers met die loop van jare, maar om vergifnis te gee is ‘n keuse en is onmiddelik.