
3 minute read
Pyn en ly(ei)ding en littekens
from DWN Mei 2022
Phil Louw
Pyn en lyding is onvermybaar, en pyn sal daar altyd wees. Lyding is jóú keuse. As ‘n mens net daaraan dink dan kry ‘n mens maklik ‘n beklemming om jou hart. Want ons leefwêreld is vol pyn en lyding. En hoe meer ons daaraan dink hoe moeiliker word dit om hierdie emosionele gedagtes uit jou kop uit te verban. Pyn en lyding. Dié twee word soos vinkel en koljander saam in sinne gebruik. Dis amper sinoniem. Tog, hoe langer ‘n mens daaroor tob, dan “marineer” die gedagte en dit knaag en knaag aan ‘n mens totdat jy uiteindelik besef daar is ‘n alternatief. Daar is pyn en lyding en daar is pyn en leiding. Pyn is ‘n normale reaksie op die dinge wat in die lewe gebeur. Dit is ‘n wond. Dit is seer. Gebroke verhoudings veroorsaak pyn. Trauma veroorsaak pyn. Verlies veroorsaak pyn. Wêreldgebeure veroorsaak pyn en lyding. Op die oog af kan mense hulle deesdae maklik op die wipplank tussen werkloosheid, hongersnood, swaarkry en lyding bevind. Die vraag is dus nie of ons pyn gaan hê nie. Die vraag is wat ons daarmee doen. Dra ons dit saam? Laat ons toe dat dit ons lewe oorheers? Of gebruik ons dit om te leer, om taai te word, immuniteite op te bou teen pynlike situasies wat hul weer in die toekoms kan herhaal. Slaan ons as gevolg daarvan dalk ‘n nuwe rigting in? Help ons eendag iemand wat in dieselfde bootjie as jy is of was? Laat pyn ons opgee of opstaan? Laat ek toe dat my pyn in lyding verander? Met ander woorde koester ek die wonde só dat dit nooit gesond word nie en ‘n blywende wond is? Of is daar ‘n moontlikheid dat my pyn vir my leiding kan gee sodat ek ‘n nuwe plek in my lewe kan ontdek en daarmee saam ‘n nuwe en sterker ek? Dit herinner aan dié storie. “Wat het dáár gebeur oom?” vra kinders by aanskoue van ‘n indrukwekkende litteken aan ‘n man se nek. Hy wat reeds drie nekoperasies ondergaan het. Dan spot hy met groot oë en ‘n dramatiese stem: “My kop het ‘n paar jaar gelede morsaf gebreek en dit is waar die dokters dit weer vasgewerk het.” Littekens is sigbare getuienisse van fisieke pyn wat in die verlede lê. Dit is nog sigbaar, maar jy kan daaroor praat en daaraan raak sonder dat dit nog seermaak. Die vel by ‘n litteken is dikker en sterker as wat dit voor die besering was, want jy is sterker as jou wond eers gesond is. Ek weet nie watter wonde jy het nie. Ek weet nie hoe groot en hoe diep dit is nie. Elkeen van ons verskil en ons wonde en genesingstyd verskil ook. Mag jou wonde van pyn en lyding jou ook na ‘n beter plek lei. En nou? Wat maak ‘n mens hiermee wanneer jy weer afwaarts spoed op hierdie wipplank wat afwaarts wip, en jy besef jy gaan jou daar onder weer ordentlik stukkend val. Vertrou dat hierdie keer daar iemand sal wees om jou weer boontoe te kan lei. Iemand wat jou littekens van vorige veldslae ken en vir jou iets kan beteken terwyl jy aan jou nuwe wonde en seer werk. Jesus se pyn en lyding aan die kruis het vir ons die weg gebaan om volkome genees te word. Deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Daarom kan ons as verloste sondaars in hierdie gebroke wêreld, met al sy pyn en lyding, deur Sy leiding met dankbaarheid leef en werk. Amen – dit is so.
Advertisement
