12 12
DIE BONTEBOK
Izak met sy Koedoe
51 DUIM KOEDOE IN NAMIBIË
Deur: Loutjie Hanekom
D
ie aanloop na die jag het verlede jaar begin op ‘n jag in Phillipstown. Izak, my seun, is ‘n protea veldskietskut en ons het al baie saam gejag, maar ‘n Koedoe het nog elke keer vir Izak ontglip. So het ons toe verlede jaar by familie in Phillipstown gejag en daar is koedoes in die omgewing, maar dis nie een van die spesies wat gewaarborg kan word dat hy daar sal wees soos die ander wild op die plaas nie. Die laaste agtermiddag van die jag het ons egter besluit om die berg met die Cruiser aan te durf opsoek na koedoes. Na ‘n lang stamperige rit op die Cruiser kry ons drie bulle. Ons besluit om die Cruiser te los en agter hulle aan te stap toe hulle om ‘n koppie beweeg. Uiteindelik toe ons om die koppie kan sien is die 3 bulle onder in die kloof en hopeloos te ver om te skiet. Ons pak toe die lang pad aan terug na die Cruiser en ry berg-af huis toe. Onder in die kloof gaan ons deur ‘n riviertjie en ek gewaar die koedoes teen die oorkantste helling. Roelo stop toe om deur die verkyker te kyk en
ons volgende stap te beplan. Izak wat agterop sit sien ook die koedoes en hy dink ons stop sodat hy moet skiet. Ons is mos hier om Koedoes te jag. Die volgende oomblik klap die skoot en ons sien die een bul is raakgeskiet, maar hy hardloop saam met die ander twee. ‘n Klein entjie verder sien ons hy sak uit en gaan lê. Roelo vra heel verbaas hoe ver die skoot was? Izak het met my 6.5x55 met die Swarofski DS op geskiet. “Dis 613m Oom” kom Izak se antwoord van agter asof dit nie juis ‘n prestasie was nie. ‘n Perfekte bladskoot op ‘n mooi jong koedoebul. Net daar begin ons die volgende koedoejag beplan. Izak wou ‘n groot bul skiet, maar met sy eie geweer. Toe kom 2020 met al die inperkings en dit begin lyk al meer of die groot koedoejag nog ‘n jaar sal moet wag. Maar toe die jag op ‘n stadium oopgemaak word, word ek genooi om saam met een van my vriende te gaan jag, maar ‘n week voor die jag word die organiseerder van die jag positief getoets vir Covid 19. Gelukkig ken ek die jag-ondernemer en
‘n vriend van my het ‘n tyd terug vir my gesê hy wil baie graag sy seun op ‘n jag vat. Ek bel vir Izak wat op Worcester by die kollege studeer en vra hoe sy klasse is en soos enige goeie student het hy nie ‘n probleem om 2 dae se klasse te mis vir ‘n jag nie. Ek reël met Eben en so word dit toe ‘n pa-en-seun jag. Ons ry toe die Woensdag tot op die plaas Graspan naby Modderrivier. Die aand begin ons toe die volgende dag se jag beplan. Die koedoes se pryse is egter gekoppel aan horinglengtes en ons besluit dat ons nog kans sien vir die prys bo 40 duim, maar R12 000 vir ‘n bul bo 50 duim is bietjie rof. Eben stel ons egter gerus en sê dat hy nog nooit in die 10 jaar wat hy jagters uitvat ‘n 50 duim bul geskiet het nie en dat die bulle in die area nie sommer so groot raak nie. Na ‘n lekker steak-braai en kuier om die vuur is ons bed toe en vroeg die volgende oggend maak ons koffie en almal is opgewonde oor die jag. Ons het besluit dat ons elkeen ‘n koedoe wil skiet, dus het daar ‘n groot taak