
6 minute read
51 DUIM KOEDOE IN NAMIBIË
Izak met sy Koedoe
51 DUIM KOEDOE IN NAMIBIË
Advertisement
Deur: Loutjie Hanekom
Die aanloop na die jag het verlede jaar begin op ‘n jag in Phillipstown. Izak, my seun, is ‘n protea veldskietskut en ons het al baie saam gejag, maar ‘n Koedoe het nog elke keer vir Izak ontglip. So het ons toe verlede jaar by familie in Phillipstown gejag en daar is koedoes in die omgewing, maar dis nie een van die spesies wat gewaarborg kan word dat hy daar sal wees soos die ander wild op die plaas nie. Die laaste agtermiddag van die jag het ons egter besluit om die berg met die Cruiser aan te durf opsoek na koedoes. Na ‘n lang stamperige rit op die Cruiser kry ons drie bulle. Ons besluit om die Cruiser te los en agter hulle aan te stap toe hulle om ‘n koppie beweeg. Uiteindelik toe ons om die koppie kan sien is die 3 bulle onder in die kloof en hopeloos te ver om te skiet. Ons pak toe die lang pad aan terug na die Cruiser en ry berg-af huis toe. Onder in die kloof gaan ons deur ‘n riviertjie en ek gewaar die koedoes teen die oorkantste helling. Roelo stop toe om deur die verkyker te kyk en ons volgende stap te beplan. Izak wat agterop sit sien ook die koedoes en hy dink ons stop sodat hy moet skiet. Ons is mos hier om Koedoes te jag. Die volgende oomblik klap die skoot en ons sien die een bul is raakgeskiet, maar hy hardloop saam met die ander twee. ‘n Klein entjie verder sien ons hy sak uit en gaan lê. Roelo vra heel verbaas hoe ver die skoot was? Izak het met my 6.5x55 met die Swarofski DS op geskiet. “Dis 613m Oom” kom Izak se antwoord van agter asof dit nie juis ‘n prestasie was nie. ‘n Perfekte bladskoot op ‘n mooi jong koedoebul. Net daar begin ons die volgende koedoejag beplan. Izak wou ‘n groot bul skiet, maar met sy eie geweer. Toe kom 2020 met al die inperkings en dit begin lyk al meer of die groot koedoejag nog ‘n jaar sal moet wag. Maar toe die jag op ‘n stadium oopgemaak word, word ek genooi om saam met een van my vriende te gaan jag, maar ‘n week voor die jag word die organiseerder van die jag positief getoets vir Covid 19. Gelukkig ken ek die jag-ondernemer en ‘n vriend van my het ‘n tyd terug vir my gesê hy wil baie graag sy seun op ‘n jag vat. Ek bel vir Izak wat op Worcester by die kollege studeer en vra hoe sy klasse is en soos enige goeie student het hy nie ‘n probleem om 2 dae se klasse te mis vir ‘n jag nie. Ek reël met Eben en so word dit toe ‘n pa-en-seun jag.
Ons ry toe die Woensdag tot op die plaas Graspan naby Modderrivier. Die aand begin ons toe die volgende dag se jag beplan. Die koedoes se pryse is egter gekoppel aan horinglengtes en ons besluit dat ons nog kans sien vir die prys bo 40 duim, maar R12 000 vir ‘n bul bo 50 duim is bietjie rof. Eben stel ons egter gerus en sê dat hy nog nooit in die 10 jaar wat hy jagters uitvat ‘n 50 duim bul geskiet het nie en dat die bulle in die area nie sommer so groot raak nie. Na ‘n lekker steak-braai en kuier om die vuur is ons bed toe en vroeg die volgende oggend maak ons koffie en almal is opgewonde oor die jag. Ons het besluit dat ons elkeen ‘n koedoe wil skiet, dus het daar ‘n groot taak
voorgelê om vier koedoes te kry. Eben sê toe ons moet nomineer wie eerste skiet, want ons gaan van die bakkie af moet skiet aangesien die terrein nie van so aard is dat ons koedoes geskiet gaan kry as ons loop nie. Die dice val toe op JG, Japie se seun, om eerste te skiet. By die plaas aangekom het ons eers die eienaar gaan groet en hy gee toe vir ons ‘n man by wat die plaas ken. Toe ons daar van die oom se huis af ry besef ek hierdie kan ‘n lang dag raak. Die plaas is 4000ha en is net buite om is wildwerend gespan. En dit is tipies bosveld met ‘n paar klipkoppies. Na ‘n uur en n half se rondry gewaar ons die eerste twee koedoebulle. Hulle hardloop egter weg en verdwyn tussen ‘n klompie doringbome. Ons ry nader met die Cruiser en ons sien een bul tussen die takke. Dit is gelukkig nie ver nie en JG skiet die bul met ‘n mooi kopskoot. Ons kry die Cruiser redelik naby en na ons foto’s geneem het laai ons die jong bul op die bakkie en gaan laai hom op die plaas af. Volgende aan die beurt is Izak. Toe ons wegry uit die plaas vra hy benoud: “Pa, wat as ek ‘n 50 duim bul skiet”. Ons lag almal en sê dat dit moontlik maar statisties hoogs onwaarskynlik is. So as ‘n koedoe jou ‘n skoot gee, vat dit. Ons ry toe weer vir twee ure, en ‘n papwiel later voor ons ‘n enkele koedoebul gewaar. Izak is reg met sy geweer, maar die koedoe gee ons nie ‘n skoot nie. Ons begin toe soek in die rigting waar hy verdwyn het. Na wat soos ‘n ewigheid gevoel het sien ons weer die bul, maar hierdie keer is hy nie alleen nie. Hy is saam met vier ander bulle, maar hulle verdwyn weer in die bosse. Ons ry toe in die rigting waar hulle verdwyn het, maar ry ons vas in ‘n klomp klippe en kan nie verder vorentoe gaan nie. Net toe Eben wil begin terugstoot gewaar ons weer die bulle. Eben sê hulle is te ver, maar ek oorreed hom om bietjie te wag. Die bulle begin een vir een in ‘n oop kolletjie in te stap. Japie wat agter op sit meet die afstand met die rangefinder. 322m. Eben, nog steeds ongemaklik oor die afstand, omdat hy baie met jagters te doen kry wat sy geweer een keer ‘n jaar as hy gaan jag uithaal, sê vir Izak om te wag toe die eerste bul uitstap. Toe die tweede een uitstap sê Eben: “Dis die een”. Feitlik onmiddelik daarna klap die skoot en die bul sak in sy spore neer. Eben is amper meer opgewonde as Izak en stuur onmiddellik die werker om te gaan vasstaan by die plek waar die bul geval. Ons sukkel om ‘n ander pad nader aan die koedoe te soek met die Cruiser. ‘n Halfuur later en met baie moeite en padmaak is die Cruiser binne redelike dra-afstand. Min het ons geweet wat vir ons wag. Daar aangekom is dit ‘n monster van ‘n bul. Aan sy horings se verweer kan jy sien hy is nie meer vandag se kind nie en sou hy waarskynlik deur n jonger bul in die trop vervang word. Ons almal is oorweldig deur die ongelooflike dier wat voor ons lê. Izak het net gesê: “Baie dankie pa”.
Dit was ‘n voorreg om dit saam met my seun te kon beleef en te weet dat die bul met ‘n perfekte kopskoot geskiet is. Net daar het ek weer die waarde besef van al die opofferings wat ons gemaak het om hom die geleentheid te gee om sy Protea kleure te kon kry in veldskiet. Ek sal enige ouer aanraai om sy kind die geleentheid te gee om aan ‘n skietsport deel te neem. Dit leer hom veiligheid en dit gee hom selfvertroue om te jag en daardie een skoot wat jy kry te kan vat in die jagveld.
Die middag toe ons na ‘n lang gesukkel die bul uiteindelik by die bakkie het is ons terug plaas toe om die bul te gaan aflaai en natuurlik dit wat ons almal vermoed het te bevestig. Wel, die bul het toe 51 duim gemeet en 165kg uitgeslag, maar dit was alles die moeite werd. Ek en JG het toe elkeen laat agtermiddag ons koedoes geskiet, maar nie een so groot nie. Ons het mos gesê moontlik, maar statisties onwaarskynlik.
