
9 minute read
NAMIBIË JAG SEBRA-LEK EN ELANDBULLE
Mooi Sebra geskiet op die jag. Hulle is omtrent vollop in die wêreld rondom Windhoek NAMIBIË JAG -
Deur: Schalk Van Van Der Merwe
Advertisement
SEBRA-LEK EN DIE ELANDBULLE
Ons was aan die jag suid van Windhoek, besig om ‘n vriend te help om van die diere van sy veld af te kry. Dis droog in Namibië, so droog dat President Geingob vroëer die jaar ‘n noodtoestand aangekondig het. Die beplanning het ‘n week of twee langer geneem as gewoonlik. Ek moes van ‘n lastige griep-bors herstel en deesdae moet die gewere se uitvoerpermitte mos al die pad Pretoria toe, maar binne ‘n maand se tyd vandat ons gevra is om te kom help, land ons in Windhoek. Ons jaggeselskap het bestaan uit myself, my pa, swaer, en ‘n vriend van ons uit die Kaap.
Ons het goed begin en veral onder die blouwildebeeste en gemsbokke gejag. Laat oggend, die derde dag, het ons by die stoor gedraai om die oggend se bokke by die slagpale af te trek. Ons was weer voorspoedig en het, terwyl die bakkie gewas word, ‘n oomblik gevat Soos afgespreek sou ek die res van die oggend tot laat middag te voet die rante agter die skuur verken, oorstap tot by Sebra-Lek en die kloof langsaan die anderkant afwerk tot op ‘n punt waar die manne op die bakkie my weer oor die radio sal opspoor. Met die smaak van bitter koffie nog op my tong is ek padlangs agter die stoor uit, my .270 oor die skouer, skietstokke in die hand. Ek is so ver ek kon padlangs, voor ek die eerste trop blouwildebeeste tussen die vaalbos wat op die kwartsen mikarante groei kon uitmaak. Met goeie skuilplek tussen my en die bokke was ek sonder te veel moeite onder hulle en kon ek een oor die skietstokke plattrek. Ek het herlaai, die skoot se dop in my sak gesteek en bly staan, gehoop vir ‘n skoot op ‘n tweede bok. Hulle het egter met die klap van die skoot koers gekies deur die kloof onder my en in ‘n ruigte anderkant weggeraak. Ek het die blouwildebees se are gesny, hom sover ek kon in ‘n skadukol ingesleep en net daar gelos om later met die bakkie op te tel. Ek is verder die rant uit tot by Sebra-Lek aan die anderkant. Die lek en die kaalte om
om ‘n brötchen met ‘n koppie swart koffie af te sluk. die blok sout was verlate. Ek het ‘n bietjie spore gekyk rondom die lek en ‘n goeie wildspaadjie gesoek om te volg. Een paadjie was besonders snuif-getrap en ek het my eie spore in hom begin maak soos dit kronkel al met die rivier langs.
Ek het hom hoor hardloop voor ek hom gesien het. ‘n Pragtige bergsebra het deur die loop voor my gedraf en aan my kant van die rivier in die rant bo my gaan staan. Ek het my skietstokke staangemaak en aangelê, die slot toegedruk. Die hings het met sy lyf versteek tussen die swarthaak na my staan en kyk. Die kruisie van my Schmidt und Bender op my geweer wou net nie vassuig op my gestreepte teiken nie en ek moes
deur die teleskoop sien hoe hy na ‘n oomblik of twee sy kop skuins draai, teen die rant uitkyk en wegvlieg. Teleurgesteld, wou ek net die skietstokke se bene toeknyp toe die sebra se maat, net so ‘n mooi hings, ook deur die rivier voor my uitdraf. Danksy die eerste een was die meeste van my voorbereidingswerk klaar gedoen en toe hy min of meer in dieselfde opening as die eerste een gaan staan was hy minder sukesvol met die wegkomslag. Soos met die blouwildebees van vroeër het ek die hings gebloei en net so gelos. Ek het die plek in die pad wat naaste aan die sebra gemerk sodat ons hom nie later hoef te soek nie en weer teruggewerk wildspaadjie toe, kloof af. ‘n Paar uur later was ek onder in die kloof soos ek met die manne afgespreek het ons mekaar sou kry.
Vandat ons jag begin het was ons op die uitkyk vir die elande. Ons het sporadies elande raakgeloop, maar dan was dit net ‘n klomp koeie, en die bulle onder hulle was nie swaar genoeg om werk van te maak nie. Die oggend na die pragtige sebra onder Sebra-Lek was ons weer besig in dieselfde area. Die rante bo Sebra-Lek is teen die noordgrens van die plaas. Dit was ‘n area waaraan ons die week nog nie veel aandag gegee het nie. Ons het tot op daardie stadium goed genoeg gedoen in die oop vlaktes van die plaas en dan is die laai van die diere in die rowwe diep klowe en klipperige koppe nie eenvoudig nie. Baie keer moet jy ‘n bok oorsien net omdat jy hom nie sal kan laai waar hy staan nie. Die swarthaak het ook in die hoër plekke posgevat en was dit minder van ‘n plesier om tyd daar te spandeer as in die ooptes. Nietemin, my pa het verplig gevoel om daar

‘n draai te maak om die drade te kyk en ook seker te maak daar is niks vasgevang in die gang teen die grense nie. Ons geselskap het vroeg ‘n blouwildebees en ‘n kort ruk later ‘n gemsbok geskiet, relatief naby aan die pad, so ons kon sonder te veel sweet naby kom en die “winch” uitrol. Die stoor se sinkdak het ‘n kilometer of twee onder ons geblink en ons het besluit om af te werk soontoe om die slagters aan die gang te kry. Heel oggend lank het ons eland spore opgemerk, al in die pad langs teen die grens en daar waar ons te voet was. Ons was in die pad ingedraai na ons die gemsbok gelaai het toe my pa sê hy dink bulle hou hier in die koppe. Sy woorde was nie koud nie toe ek en hy saam op die bakkie se dak klop. In die kloof bo ons was ‘n eland. Die enorme dier het in die skadu van ‘n groot witgat gestaan en dit was met die blote oog duidelik die ou het al ‘n nek aan hom. Ek het agter die naaste blinkblaar met die skietstokke afgespring en op my hurke gesit en wag tot die bakkie in die pad af stilraak. Die bul het so vyf honderd meter in die kloof op bo die pad gestaan. My plan was om op te werk na die ou toe agter die rug van die kloof grenslyn se kant van hom. Soos met die vorige paar dae was dit ‘n kristal-oggend en wind nie ‘n faktor nie. Ek het effens teruggeval bult-af uit sig van die bul en die rant begin klim. Die swarthaak het omtrent op plekke wal gegooi. Sekere dele moes ek op my maag deur. So asof die swarthaak nie genoeg van ‘n uitdaging was nie kruip ek myself halfpad die rant uit vas teen ‘n trop springbokke. Angstig om die vrede in die bos te bewaar is ek ‘n ent terug op my spoor, terug onderdeur die swarthaak om ‘n draai om die springbokke te loop. ‘n Bekruip om by een bok te kom het ontaard in ‘n
bekruip om ander te vermy en die springbokke was net die begin. Ek was skaars om die springbokke toe ek myself tussen ‘n handvol blouwildebeeste bevind. Ek was plat op die aarde deur nog ‘n doolhof swarthaak toe ek die blouwildebeesbulle dertig tree voor my sien wei. Vier bulle bymekaar. Ek was te naby om soos met die springbokke terug te kruip. As die naaste een my sou sien sou hy sekerlik met die ander wegvlieg, met my geluk die verkeerde rigting inslaan en saam met my eland net anderkant die rant verdwyn. Ek het die laaste meter of twee deur die swarthaak gekruip en regop gaan sit voor die bul naaste aan my gevries het. Met sy kop wat steeds laag op die grond hang het hy ‘n harde snork gegee wat ‘n stofwolk voor hom staangemaak het. Hy het sy kop opgeruk en my staan en dophou, sonder dat hy my geruik het, nie seker wat ek was nie. Al waarop ek kon hoop was dat die bul en sy maats sou skuif sonder om te kwaai te skrik. Die ander bulle het ophou vreet en hulle maat staan en dophou, onseker waaroor die bohaai gaan. Kopskud, gevolg deur ‘n snork, so het dit ‘n ruk lank aangehou totdat ek dit nie meer kon hou nie. Ek het ‘n kans gevat, my kep van my kop afgehaal en stadig gewaai. In reaksie daarop het die bul, met die ander agterna, uiteindelik met ‘n draffie koers gekies, genadiglik in ‘n skadelose rigting kloof af. Hulle was steeds onseker van my en kon nie te ver gegaan het nie. Ek was skaars op die been toe ek een weer hoor snork. My moed was in my skoene. Elande is uiters skerp en ek sou nie verbaas wees om die kloof waarin die eland vroeër was verlate te vind nie. Ek het my skietstokke se bene uitgetrek en versigtig oor die rant se neus gewerk. Die bul was nog net daar waar ek hom die laaste keer van die pad af gesien het. Ek was so net onder ‘n honderd tree van hom af en het hom, na ek my asemhaling onder bedaring kon bring, net daar in die skadu van die witgat lê gemaak. Met die klap van die skoot het die kloof skielik lewe gekry toe ten minste agt ander elandbulle die duik onder my deurhardloop, teen die rant aan die anderkant gaan staan en teruggekyk na waar hulle maat onder die witgat verdwyn het. Nog ‘n lekker sterk bul het tussen die ander uitgestaan en met ‘n klein verstelling aan die skietstokke het ek hom ook platgetrek.
Die bulle was te groot om gelyk te laai, so ons het twee keer gery om hulle onder by die stoor te kry. Ons moes hard werk, maar oor die algemeen was ons week een hoogtepunt na die ander. Die laaste aand met ete het ons ‘n glasie yskoue Jagermeister hoog gehou en hom weggeslaan op die week se sukses, die herinneringe.
Om die tafel het ons die koppe gebuig en het my pa die Here gedank vir sy genade, die voedsel en dat Hy asseblief die reën sal stuur.

FX Airguns Distribution & Service Centre for South Africa airgun tuning, accessories and repairs


Retail Shop and Indoor Airgun Shooting Range
info@patriot-outdoors.com www.patriot-outdoors.com

