1 minute read

BOESMANLAND-TAK

Anthony Swift - Voorsitter

Advertisement

Geluk saam met die ongeluk Nes die res van die land, was Boesmanland Jag se tjank ook afgetrap deur die Nasionale Inperkings. Terwyl die lope stof opgegaar en die teikens vol spinnerakke geraak het, het ‘n paar dorstige skelms die Klubhuis se Kroeg van sy voorrade verlig. Ten spyte daarvan dat die res van ons maar droë bek moes “Lockdown” hou, het die Hantam wél genadewater van bo ontvang, wat die eens leë dorpsdam tot 70% gevul het. Noudat almal behoorlik uitgehonger is vir skiet, is ons baie dankbaar dat die inperkingsregulasies begin lig, sodat van ons lede kan gaan jag. Hopelik verslap die regulasies verder sodat ons mekaar binnekort weer op die skietbaan kan sien vir ‘n paar kompetisies. Intussen hou ons maar die teleskope ge-“zero” en die sneller-vinger soepel met skietoefeninge op Ramskop.

Nieuwoudtville waterval

VET PRET MET .22 OEFENING OP RAMSKOP

Met verligting van sekere van die COVID-19 inperkingsregulasies, kon Boesmanland Jag uiteindelik op Saterdag 15 Augustus 2020 ‘n skiet oefening aanbied. Vir die afskop, is daar besluit om ‘n .22 CHASAformaat skiet te hou. Die dag het vroeg begin en Ramskop skietbaan was soos altyd koud en winderig. Die springbok, rooibok, en vlakvarkteikens op wisselende afstande en posisies het menigte skut maar laat sukkel, en die ligte kaliber het telkens onverwags op die windtoestande reageer! ‘n Totaal van 13 ywerige skuts het die koue aangedurf en die skiet is net voor die reëns afgehandel. Die dag was gewen in gure weersomstande deur Jan du Toit, met Zanel du Toit (sy dogter, ‘n junior skut) in 2de en Riaan van Wyk in die derde plek.

This article is from: