
7 minute read
UNIEKE DIERE DEUR DR KAS HAMMAN
DIE FASSINERENDE EN UNIEKE DIERE VAN AUSTRALIË

Advertisement
Deur: Dr Kas Hamman
Vir bioloë is Australië en sy geassosieerde eilande van die interessantste geografiese streke ter wêreld. Die gebied se fauna en flora weerspieël ʼn bisarre mengsel van primitiewe en gevorderde eienskappe, maar verskaf terselfdertyd waardevolle insigte van evolusionêre prosesse wat plaasgevind het weens die langdurige isolasie van die kontinent. Beide die geologie en klimaat het bygedra tot die ontwikkeling van ʼn unieke Australiese fauna. Australië was eens deel van die suidelike superkontinent Gondwana , wat ook Suid-Amerika, Afrika, Indië, Madagaskar en Antarktika ingesluit het. Gondwana het ongeveer 150 miljoen jaar gelede begin opbreek. Ongeveer 50 miljoen jaar gelede het Australië van Antarktika begin skei en was daarna relatief geïsoleerd tot en met die botsing verder noord van die Indo-Australiese Plaat met Asië in die Mioseen geologiese era 5.3 miljoen jaar gelede. Evolusie van die hedendaagse Australiese diere en plante is die resultaat van ʼn uitsonderlike klimaat, geologie en veral isolasie. Soos wat Australië noord gedryf het, was dit in ʼn mate geïsoleerd van die gevolge van wêreldwye natuurlike klimaatsverandering op daardie stadium. Van die unieke fauna wat in die Gondwanakontinent ontstaan het soos, onder andere buideldiere, het in Australië suksesvol oorleef en aangepas by veranderende omgewingstoestande. Ongeveer 15 miljoen jaar gelede het die Australiese klimaat toenemend droëer geword, wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van ʼn groot verskeidenheid van diere en plante wat aangepas het by oorwegend ariede of droogte toestande.
Die meerderheid Australiese diere is endemies
Alhoewel Australië weens sy

Die eierlêende (Monotreme) platipus
grootte as ʼn kontinent beskou word, is dit eintlik ʼn groot eiland en weerspieël sy fauna en flora tipiese gevolge van eiland evolusie. Dit is dus nie verbasend nie dat die land bekend is vir sy ryke verskeidenheid eiesoortige diersoorte met ongeveer 45% voëlspesies, 83% soogdierspesies, 89% reptielspesies, 90% vis- en insekspesies, en 93% amfibiese spesies wat endemies is tot die kontinent. Hierdie hoë persentasie van endemisme kan toegeskryf word aan die lang tydperk van geografiese isolasie van die kontinent, die tektoniese stabiliteit en die effek van ʼn uitsonderlike klimaat op die geologie, diere en plante gedurende ʼn isolasie tydperk van soveel as 80 miljoen jaar.
Soogdiere van Australië
ʼn Unieke eienskap van die fauna van Australië is die relatiewe skaarsheid van inheemse plasentasoogdiere wat soos verwag kan word, oorwegend beperk is tot ‘n groot aantal vlermuisspesies. Plansenta-soogdiere is die soogdiere waarmee ons in Afrika meer bekend is het ‘n baarmoeder waarin die embrio volledig ontwikkel voor geboorte. Die meerderheid Australiese soogdiere is buideldiere (marsupiale) - ʼn groep soogdiere wat hul kleintjies in ʼn buidelsak grootmaak. Dit sluit in die makropode (kangaroeagtiges), possums (boombewonende buideldiere) en dasyuromorphia (karnivoriese buideldiere). In Australië het buideldiere baie van die ekologiese nisse beset wat plasenta-soogdiere elders in die wêreld beset en het in die proses morfologies baie dieselfde voorkoms ontwikkel. Hierdie verskynsel in die natuur waar onverwante diere oppervlakig dieselfde eienskappe ontwikkel onder dieselfde omgewingstoestande, is ʼn evolusionêre verskynsel

Die kortneus-echidna
wat konvergensie genoem word. Bekende buideldiere is kangaroes, wallabies, koalas en possums. Australië is ook die tuiste van twee van die vyf bestaande primitiewe eierlêende monotreme soogdiere, naamlik die platipus en die kortneusechidna. Die meerderheid inheemse soogdiere van Australië is skugter, boomlewende nagdiere wat maak dat baie inwoners onbewus is van hulle teenwoordigheid.
Australasië bied tuiste vir meer as 90 vlermuisspesies wat ‘n groot verskeidenheid habitatte benut en wat die bekende “grey-headed flying fox” insluit met ‘n vlerkspan van 70cm! In teenstelling met die algemene opvatting, word alle vlermuise nie in grotte aangetref nie. Vlermuise kan in bome, berge,


Die vluglose emoe woestyne, rotskranse, skure en dakke aangetref word en as voedsel benut hulle ‘n wye verskeidenheid voedsel soos nektar, stuifmeel, vrugte, voëls, insekte, paddas, akkedisse, ensovoorts en daar is wél enkele bloedsuiende vampiere - vlêrmuise ook!
Na beraming is daar meer as 200 000 inseksoorte in Australië waarvan slegs ongeveer 62 000 tot dusver wetenskaplik benaam en beskryf is.
Die land is ook die tuiste van talle giftige spesies, wat die platipus, spinnekoppe, skerpioene, seekatsoorte, jellievisse, molluske, steenvisse en giftige plante insluit. Ook interessant is dat ʼn groot aantal van die 170 Australiese slangspesies giftig is.
Iets oor die voëls van Australië
Australië is bekend vir sy ryke verskeidenheid voëlsoorte en spog met byna drie keer meer voëlspesies as Europa, insluitend Rusland en ‘n groot aantal hiervan is endemies tot die streek. Die voëls hier word deur 58 families verteenwoordig en weerspieël ʼn groter verskeidenheid as enige van die ander vertebraat-groepe in Australasië. Daar is ongeveer 830 voëlspesies in Australië en omliggende eilande en 45% hiervan is endemies tot Australië. Meer as 50 soorte papegaaie, asook die swartswaan en die unieke kookaburra kom hier voor. 27 Uitheemse voëlspesies het egter oor tyd daar gevestig. Ongeveer 200 spesies seevoëls leef aan die Australiese kus, waaronder baie trekvoëls.
Naas die volstruis, is die emoe is die tweede grootste lewende voëlspesie en beskik oor heraldiese status aangesien dit op die Australiese landswapen pruik.

Die soutwater-krokodil
Amfibieë en reptiele
Australië het vier families inheemse paddas en een ʼn ingevoerde padda, die rietpadda (“Cane frog”). Dié padda is in 1935 na Australië ingevoer in ʼn mislukte poging om insekplae in suikerrietplantasies te beheer. Sedertdien het die padda ʼn verwoestende indringer geword wat onbeheerbaar oor die noorde van Australië versprei het. Behalwe vir kompetisie met inheemse amfibieë, is die rietpadda giftig vir inheemse fauna asook vir mense. Die inheemse Myobatrachidae, of suidelike paddas, is die grootste groep paddas in Australië, met 112 spesies. ʼn Opvallende lid van hierdie groep is die kleurvolle en bedreigde Corroboree-padda.
Australië het twee krokodilspesies
Die soutwater-krokodil is die grootste lewende krokodilspesie ter wêreld, bereik ʼn lengte van meer as 7 m, kan meer as ʼn 1000 kg weeg en is heeltemal daartoe instaat om mense dood te maak. Hulle kom in riviermondings en brak vleilande in NoordAustralië voor. ʼn Kleiner varswater-krokodil word ook in Noord-Australië aangetref, maar word nie as gevaarlik vir mense beskou nie. Die Australiese kus word besoek deur ses soorte seeskilpaaie, maar interessant is die feit dat die kontinent geen landskilpaaie het nie. Dit is ook die enigste kontinent met meer giftige as nie-giftige slange. Daar is 26 soorte varswater likkewane en meer as 700 akkedisse.
Waterlewe
Die kontinent huisves ook 143 spesies varswaterkrewe en ongeveer 300 varswater visspesies waarvan enkeles ʼn Gondwanaland
oorsprong het. Die meeste van Australië se visse is egter mariene spesies, waarvan 75% tropiese spesies is. Dit is oorwegend te danke aan Australië se 60 000 km lange kuslyn wat die 2300 km lange “Great Barrier Reef” insluit aan die kus van Queensland.
Aankoms van die mens in Australië
Tussen 50,000- en 70,000-jaar gelede het die eerste inheemse eilandbewoners, naamlik die Aborigenes, Australië begin beset. Ongeveer 4000 jaar gelede is die Asiatiese gryswolf (Canis lupis lupis) deur vroeë seevaarders ingevoer wat as die bekende dingo vinnig reg deur die kontinent versprei het. Aangesien die inheemse Australiese diere nie aangepas is om in die teenwoordigheid van sulke effektiewe roofdiere te oorleef nie, het die dingo’s ʼn massiewe negatiewe impak op die inheemse diere van die land gehad. Die uitsterwing van Australië se Tasmaniese wolf (Thylancinus cynocephalus) in die 1930s, word grootliks aan dingo predasie, kompetisie vir voedsel en later habitat vernietiging, toegeskryf. Die uitgestorwe Tasmaniese wolf het baie soos ʼn hond gelyk en was die grootste buidel-roofdier ooit, maar moet nie met die bekende Tasmaniese duiwel (Sarcophilus harrisii) verwar word nie. Laasgenoemde se bewaringstatus is bedreigd en kom vandag nog net in Tasmanië, die suidelike eiland van Australië, in beperkte getalle voor. Die tasmaniese duiwel was ook ʼn slagoffer van die ingevoerde dingo en het so 600 jaar gelede verdwyn vanaf die vasteland van Australië.
Indringer spesies doen onherstelbare skade
Sedert die Europeërs se vestiging in Australië in die 1780s is ʼn verskeidenheid plasenta-soogdiere na Australië ingevoer wat intussen as indringers wild geword het. Na die dingo het verskeie ander indringers gevolg. Die Europese immigrante het doelbewus verskeie Europese spesies in die natuur vrygelaat, waaronder die rooivos, die bruin-veldhaas en die Europese konyn. Verskeie gedomestikeerde spesies het, soos in vele ander dele van die wêreld, ontsnap en mettertyd wilde bevolkingshonde, -katte, verskeie herte, takboksoorte, varke, perde donkies, waterbuffels en kamele gevestig, om maar net ʼn paar te noem. Soos elders in die wêreld het knaagdierpeste soos die huismuis, swart- en bruinrot, saam met die immigrante aanwal gekom en as indringers gevestig. Omdat Australië nie effektiewe roofdiere het soos wat byvoorbeeld in Afrika voorkom nie, het die indringer spesies onomkeerbaar vernietigende impakte op die inheemse diere en plante gehad. Deesdae het Australië van die strengste invoer-beheermaatreëls ter wêreld in ‘n poging om potensiële indringerspesies uit die land te probeer hou. Ongelukkig is die skade aan die diere, plante en natuurlike habitatte van hierdie unieke deel van ons planeet, alreeds in vele opsigte onomkeerbaar.
Bronne geraadpleeg
1. Bergamini, David. 1969. The Land and Wildlife of Australasia. Time Life Books. 2. IUCN, International Union for Conservation of Nature. Amptelike webruimte. 3. Wikipedia. Webruimte. 4. National Geographic. Amptelike Webruimte.

