38
DIE BONTEBOK
Boesmanland-tak
Anthony Swift - Voorsitter
Ondersteuners al die pad van Kuruman af geniet die skietdag
VELDBLOM SKIET 11 SEPTEMBER GEBORG DEUR GUNS & BOWS
O
p Saterdag 11 September 2021 het Boesmanland-Jag die jaarlikse Veldblom skiet aangebied ter viering van die Lente! Goeie reën het gesorg vir ‘n mooi groen baan en die plate helderkleurige veldblomme het ‘n klompie skuts gou-gou herinner dat hul éintlik hooikoors-lyers is! Vyf bane het die skuts se vernuf getoets; van staan met ‘n paal as rus tot ‘n standaard CHASA gongbaan met ‘n baie ongemaklike stoeltjie (wat ‘n hele paar manne op hul neuse laat kyk het). Oudergewoonte was dit ‘n behoorlike familiedag, met mans en dames van alle ouderdomme wat deelgeneem het. Sommige Juniors het selfs van die ou manne gewys waar Dawid die wortels begrawe het! Na afloop van die skiet is daar gesmul aan gebraaide hoender en slaaie voordat die wenners tydens die prysuitdeling aangekondig is. In lyn met Ramskop tradisie, was daar weer oudergewoonte ‘n baie spesiale en gesogde prys vir die skut wat “eerste van onderkant die puntelys” was. Vanjaar was hierdie prys deur Koos Louw ingepalm. ‘n Spesiale dank aan Guns & Bows vir hul borgskap - sonder hul ondersteuning sou die skiet nie so ‘n groot sukses gewees het nie.
Skuts skuif hulleself reg vir sit en skiet met die 3-poot as rus
Andre en Johann met junior wenners: 1.Nick Zandberg 2. Andre Hanekom en 3. Willem Visagie
Mans wenners: 1. Jaco Salim 2. Willem Smuts 3. Johan Reichel