13 minute read

OM EERBIED TE BETOON - ONS MANIER VAN JAG

Next Article
KOUP -TAK

KOUP -TAK

OM EERBIED TE BETOON Deur : David Rossouw ONS MANIER VAN JAG

Ek was besig om Daniel se rooibok skedel af te kook en skoon te krap en het meer tyd op hande gehad as gewoonlik. My kop kon lekker dwaal deur baie jare se jag met my Pa, goeie jagpelle, op my eie, en meer onlangs, met David en Daniel, my seuns. Die een groot beginsel waaraan ek altyd probeer vas hou het, was om altyd my prooi met eerbied te behandel en ek het ook probeer om my twee seuns dit so te leer. Dis eerder ʼn wyer denkwyse as ʼn onbuigbare lys van gebooie, moets en moenies. Maar wat presies beteken dit en wat doen ons? Wat doen ons anders en wat kan ons van ander jagters leer om self beter jagters te word.

Advertisement

Daar is verskeie tradisies van verskillende kulture wat oor die jare ontstaan het om uiting aan daardie eerbied te gee. In ons eie Suid Afrikaanse tradisie, moes ek erken, was daar nie veel nie, behalwe om ʼn jong jagter wat sy eerste bok geskiet het met bloed te besmeer en ʼn stuk rou lewer te laat eet. Eerstens was ek nog nooit ʼn lewer-ou nie, en rou lewer beslis nie. Aan gewydheid en eerbied het daardie tradisie vir my hopeloos te lig geweeg. Juis daarom het ek besluit om dit effens anders te doen met my eie seuns, meer soos ek self geleer jag het saam met my Pa en sy klein groepie jagvriende. Ek self het altyd na die San van Suidelike Afrika gekyk as die oudste jagters met pragtige tradisies, stories en selfs danse waarmee hulle die diere wat hulle jag deel van hulle lewe en hul kultuur gemaak het. Hulle was immers ʼn kultuur wat in harmonie met die natuur gelewe het en wat jag ʼn sentrale deel van hul bestaan gemaak het. Heelwat is daaroor geskryf, veral deur Laurence Van Der Post oor sy soektog na die San van die Kalahari. Dit wat ek daaruit geneem het was hoe ek die etiek van my eie jag kon probeer vorm gee. Min of meer beteken dit dat mens jou prooi deeglik moet leer ken, alles van hom leer wat jy kan, sodat jy kan verstaan wie hy is en wat sy plek in die wêreld is, ook in verhouding tot jou eie plek. Dan moet jy ook nooit meer jag as wat jy nodig het nie, want dit sal verseker dat dit môre vir jou kinders en kleinkinders ook daar sal wees. Die San het ook nie sommer net gaan jag nie. Hulle het dit op ʼn sekere manier gedoen, voorberei, geoefen, te voet bekruip en met ʼn boog geskiet. Hulle het geglo dat jy die dier wat jy doodgemaak het moet bedank dat hy sy lewe aan jou geskenk het. Vir verskeie diere, maar veral die Eland, het hulle ʼn amper goddelike eerbied gehad. Hulle het ook elke krieseltjie van die dier gebruik en niks vermors nie. Verder het hulle geglo dat ou jagters na hul afsterwe in sterre

David, Daniel en Rufus soek Tarentale, Philadelphia Daniel oefen oor skietstokke

verander en as jy saans om die vuur sit en die sterre sien vonkel, dan was dit hulle wat oor jou en jou jag gesels het, want hulle kon dit alles mooi van daar bo af dophou. Die drie helder sterre van Orion was drie van die beste jagters en mens moes in jou spore trap en reg jag voor sulke belangrike ouens. As jy dinge verkeerd gedoen het sou hulle die diere daarvan vertel en dit sou vir jou teenspoed in die jagveld beteken. Dat die San deel sou word van ons eerbetoon was voor die hand liggend. Aan die ander kant van die aardbol het die Inuit van die Noordelike Arktiese gebiede ook sulke eerbiedige tradisies gehad, op baie maniere verbasend soortgelyk aan die San van die Suide, al was hulle omgewings en die diere wat hulle gejag het so verskillend as kan kom. Soos die San het hulle ook elke krieseltjie van die rob, walvis of walrus gebruik. Hulle het byvoorbeeld die skedel van ʼn beer wat hulle gejag het, huis toe gevat en daar uitgestal. Nie as ʼn trofee soos ons moderne mense dikwels daaraan dink nie, maar sodat die beer hulle kon “sien” in hulle elke dag se lewens en dat hy vir sy beer vriende kon vertel dat die jagter ʼn eerbare man was en dat dit nie sleg is om jou einde met ʼn eerbare man te deel nie. Natuurlik was dit dan ook ʼn aansporing vir die jagter en sy familie om eerbaar te lewe en reg te jag. Uit die Europese tradisie het ek, deur voëls te jag, ook die eerste keer kennis gemaak met Saint Hubert, die beskermheilige van jagters, jaghonde en mesmakers. Ek het eers gedink dat die heildronk, wat voor ʼn jag gedrink word op St. Hubert, ʼn Britse tradisie is, maar toe uitgevind dat dit eintlik ʼn Germaanse oorsprong het. St. Hubert was ʼn regte persoon en het van 656 tot 727 in België gewoon. Hy was die biskop van Maastricht en ʼn baie ernstige jagter totdat hy een dag ʼn visie gehad het en daarna sy lewe aan die kerk en bewaring gewy het. In Duitsland is 3 November vandag nog St. Huberts dag. Die silwer nagmaal glasies uit Prins Albert se kerk het ideaal te pas gekom om met ‘n vingerhoed Muskadel ook ons eie heildronk te klink op ’n goeie, suksesvolle en veilige jag met ʼn sterk bewaringsinslag. (Dis die enigste plek waar alkohol naby ons wapens toegelaat word en ons doen dit op spesiale geleenthede met voëljagte, soos ons jaarlikse formele Vrouedag tarentale jag.) Andersins is die reël dat skietgoed weggepak moet wees (nie sommer net eenkant neergesit nie) voor daar ʼn drankie gedrink mag word! Verder doen die Duitsers ook ʼn paar ander dinge waarvan ek hou. Waarskynlik is hulle in die Westerse tradisie die nasie wat die meeste klem op eerbied en etiek plaas. Wanneer ʼn jagter byvoorbeeld ʼn bok geskiet het, pluk hy ʼn klein groen takkie af en sit dit in die bok se bek as sy laaste rituele maal (“letzter bissen”, direk vertaal as laaste byt), iets om hom te versterk vir sy reis na die bok hiernamaals? Die jagter word dan “waidmannsheil” toegewens deur sy metgeselle en hy antwoord met “waidmannsdank”. (Terloops, ʼn “waidmann” is nie net ʼn jagter nie, dit kan ook ʼn visserman wees).

Gewere word in geskiet voor ons jag, Prins Albert

Hulle sit ook soms ‘n veer of ‘n stukkie hare van hul prooi in hulle hoed se band. So het ons stadig maar seker ʼn tradisie van ons eie gesmee. Eerstens jag ons bokke te voet en ons bekruip tot so naby as wat ons kan sodat ons kans vir ʼn akkurate skoot so groot moontlik is. As dit nie so uitwerk nie, probeer ons weer en as ons leë hande huis toe moet gaan, dan is dit goed so, en sien ons dit as bewys dat die beginsel van “fair chase” na beide kante toe kan sny. Ons maak ons jagtogte langer en laat meer tyd toe sodat dit nie vinnig en gejaagd raak soos ons alledaagse lewens nie. Ons oefen, stel ons gewere versigtig in en vat nie waag-kanse nie. Ons poog om een akkurate dodelike skoot te skiet, maar as iets verkeerd loop, weet ons dat dit nie oor traak-my-nie-agtigheid was nie. As dit nodig is soek ons ʼn gekweste bok tot ons hom vind. Daarom maak ons moeite om so veel as moontlik van spoorsny te wete te kom. Agterna sê ons dankie en vat ʼn paar minute van hartseer wees oor die lewe wat ons geneem het. Vir ʼn nuwe jagter se eerste bok, druk ons ʼn rooi kolletjie bloed op sy regter oorlel, ons mengsel van die plaaslike en Duitse tradisies. Ons doen dit sommer ook vir elke nuwe spesie, of ʼn spesiale bok. Ek hou ook daarvan om die een wat die skoot geskiet het alleen daar by sy bok te los terwyl ons ander die voertuig gaan haal om die karkas op te laai. Daardie paar minute, soms ʼn uur of twee, is waardevolle tyd om te dink, om die omgewing te bekyk en na die veld te luister. As die bok uit gedra gaan word, moet die jagter dit self doen, of minstens help en nie agteroor sit terwyl ander die harde werk doen nie. (Dit alles is oneindig meer waardevol as om aan rou lewer te wurg!) Die jag is nie oor en verby as die skoot geklap het en die bok geval het nie. Dan begin die volgende fase van eerbied, deurdat ons die karkas so hanteer dat niks verlore sal gaan nie. Ek hou daarvan dat jagters minstens weet hoe om binnegoed uit te haal en self die karkas af te slag. Binnegoed gee ons vir die aasvoëls en die jakkalse. Lewer en niertjies vat ek huis toe vir Des, want sy is lief daarvoor, en ons het ʼn ooreenkoms dat sy my nie sal dwing om dit te eet nie. Min van ons het deesdae die fasiliteite om alles self te verwerk, maar dis wonderlik om dit minstens een keer van iemand anders te leer en self te doen ook. Vleis word verkoel, vel en skedel gesout. Ons maak van elke deeltjie die een of ander gereg. Biltong, wors, vars vleis, pasteie, bredie en potjie vleis. Netjies verpak, gemerk en gevries vir die jaar wat kom. Soms skenk ons bene en afsny vleis aan ‘n sopkombuis vir die haweloses of ‘n ouetehuis vir minder bevoorregtes. Teen die tyd het ons al boeke vol resepte vir omtrent elke wilde ding onder die son. Des hou van kook en onthaal en as die vrieskas leeg begin lyk, kla sy sommer. Velle word gelooi en later gebruik om leerwerk mee te maak. ʼn Ammo sak, haelgeweer tas, ‘n gereedskap rol, messkede of ʼn beursie herinner jou vir baie jare aan daardie dag se jag. Ons hou dikwels skedels en horings, nie net die grotes nie, maar enige een wat spesiale betekenis het en ook nie net van diere wat ons self gejag het nie. Ons het ook heelparty van vriende of familie wat ons herinner aan jagtogte saam met hulle. Daar is selfs ‘n paar kleinerige springbok ooi horings wat ‘n jonge se eerste bok herdenk. Dit word afgekook, skoon gekrap, gebleik en eindig iewers in die huis teen die muur, in die boma op die plaas of op ʼn boekrak vanwaar dit ons lewens kan dophou en ons so nou en dan aan iets uit die verlede kan herinner en aanmoedig om ons lewens eerbaar te lei. Ek hou meer van skoon wit skedels as van opgestopte koppe, maar dis net my

persoonlike keuse. Agterop word die dag en datum, die jagter se naam en die plek opgeskryf. Soms word ʼn stuk horing die hef vir ʼn “priest” (knuppel) vir forelle, of die fluitjie vir ʼn hond. My een geweer het selfs ‘n klein gepoleerde stukkie horing inlegsel onder die kolf wat ‘n spesiale jag van jare gelede gedenk. Ek gebruik soms vere van ‘n voël of hare van ‘n bok om die vlieë te maak waarmee ek forelle vang. Voëls is vir baie mense anders as bokke, miskien omdat hulle nie so groot en belangrik lyk nie, en juis daarom moet mens meer moeite maak om ook hulle nie ligtelik te jag nie. Dis alte maklik om meer te skiet as wat jy kan gebruik. Om ʼn gekweste duif te laat wegkom voel dalk nie so erg as om dieselfde met ʼn koedoe oor te kom nie, maar dis steeds ʼn lewe en dit moet steeds eerbiedig word. Dis net so belangrik om ʼn gekweste tarentaal vinnig en pynloos dood te maak as ʼn eland. Ons probeer ons voëljag met presies dieselfde erns en eerbied doen. Met voëls beperk ons ons self dikwels tot heelwat minder as wat die daaglikse regulasies toelaat, eenvoudig omdat ons nie meer kan hanteer en self gebruik nie. Ek voel byvoorbeeld dis verkeerd om 30 duiwe te skiet as jy net 12 nodig het, selfs as is dit heeltemal wettig. Heeltemal te dikwels vind ek mense wat hope voëls skiet, en agterna nee dankie sê om selfs ʼn paar huis toe te vat. As jy die ding nie gaan gebruik nie, moet dan eerder nie sy lewe ligtelik neem nie. Skiet eerder ʼn kleiduif! Daai ouens wat lekker skiet, maar nie ʼn eend wil pluk en gaarmaak nie, hulle vorm nou nie meer deel van ons gereelde groepie genooides nie. Verder gebruik ons ʼn opgeleide Labrador Retriever om ons voëls te vind, want dis maklik om hulle te verloor, veral as dit hoogs gekamoefleerdes soos Bergpatryse is in digte fynbos, of as die voël gekwes is. ʼn Hardlopende tarentaal verdwyn blitsvinnig in die ruie knie-hoogte koring of canola lande. Eende en ganse gaan jy nie sommer in die digte riete vind nie, selfs al is jy bereid om self agter hulle aan te swem. Natuurlik verg dit baie tyd en toewyding om ʼn hond behoorlik op te lei, maar die plesier wat mens daaruit kry maak dit elke bietjie moeite werd. Verder gebruik ons lokkers (decoys) en fluitjies om die eende en ganse nader te roep sodat ons meer naby skote kry op die reuse vlei waar ons hulle jag. Dit lei tot meer goeie

Dawid en Daniel met sy 1stegGemsbok, Prins Albert

geleenthede en minder gekweste voëls. Daar is nog een ander beginsel wat miskien nie vir almal sin sal maak nie, maar laat ek tog probeer om dit te verduidelik. Ons jag nie op Sondae nie, maar nie oor godsdienstige redes nie. Dis een van die stokou tradisies waarmee ek en my voorsate groot geraak het, en ek voel ʼn dieper waarde daarin, selfs al het die moderne wêreld soveel verander dat dit deesdae aanvaarbaar is en baie plekke dit toelaat. My Oupa het verduidelik waarom ek nie die “gehate” spreeus en muisvoëls, wat sy vrugteboorde opgevreet het en waarteen hy ʼn ewige stryd gevoer het, op ʼn Sondag mag skiet nie. Hulle het altyd gelyk of hulle makker en makliker is om te skiet as gedurende die week, maar hy het eenvoudig gesê dat selfs die peste en die plae ook ʼn ruskans nodig het, net soos klein jagtertjies van 6 of 7 jaar oud. Nou, baie dekades later, verstaan ek die nodigheid beter vir ʼn dag van rustigheid, vir tyd om te dink, te herkou, om sommer net op die stoep te sit en saam met jou familie of jou vriende te eet, te kuier en te gesels oor die jag, die lewe, die heelal en die klein dingetjies wat eintlik belangrik is. Miskien selfs ʼn storie te skryf? Is ons manier van doen perfek? Natuurlik nie, maar dit is ʼn voortdurende, ontwikkelende, vloeibare proses wat hopelik vorentoe ook nog verder skerp gemaak sal word op die slypsteen van eerbied betoon.

This article is from: