
5 minute read
KAAPJAG VOORSITTER
Elke einde van die jaar is tyd vir “Regroup” en “Recharge”
Met die uurglas wat uitloop op 2021, spoel daar baie gedagtes deur ’n mens se gemoed – jy herleef en beleef weer die gebeure van die afgelope jaar, miskien moet ons praat van amper twee jaar. Die uitdagings wat gepaard gegaan het met die uitbreek van die pandemie het baie aanpassings gevra. Die grootste uitdaging binne Kaapjag was, om die vereniging so te bestuur dat sake “so normaal moontlik” kon verloop in tye wat daar buitengewone inperkinge op aktiwiteite en byeenkomste geplaas is – welliswaar het 2021 minder radikaal as 2020 op ons afgekom. Miskien te danke aan die feit dat die jagseisoen nie soos verlede jaar deur harde inperkinge gekortwiek is nie. Tog was daar steeds groot uitdagings, soos die Intertakskiet wat twee keer uitgestel moes word voordat Boesmanland tak ’n uiters suksesvolle intertakskiet op Saterdag 30 Oktober kon aanbied. Daaroor gaan ek nie veel sê nie omdat daar ander persone is wat breedvoerig daaroor berig. Ek wil graag ’n saak aanroer wat my baie naby die hart lê, en trouens na my mening is dit krities vir Kaapjag se toekoms om daarvan kennis te neem. In Julie 2020 het die uitgebreide bestuur met mekaar ooreengekom dat die wesentlike van Kaapjag daarin bestaan dat ons saamgestel is uit nege takke wat geografies die hele Wes- Kaap dek. In die beeld van ’n boom met sy verskillende takke, wat uit een stam groei, geanker deur die wortels, het ons ’n metafoor gevind om die eenheid binne Kaapjag te aksensueer en te versterk. Ons het ook met mekaar ooreengestem dat Kaapjag ’n verenging is wat ge-“brand” en bemark kan word omdat dit van die min jagter-verenigings is waar lede die bate is. Kaapjag is ’n vereniging wat op ’n niewinsgewende beginsel berus en die enigste betaalde amptenary is die uitvoerende - en die administratiewe beampte in die kantoor. By baie van die ander verenigings in die industrie, word die lede slegs as kommoditeite beskou wat bydraes maak ten einde die kostes van die produk te dek en ’n wins vir die eienaars te bring. Hierteenoor
Advertisement
Andre Duvenhage
kry gewone lede jaarliks met die algemene jaarvergadering (AJV), die geleentheid om insette te lewer en besluite te neem, wat die gang van die vereniging bepaal – iets wat nie gebeur in verenigings waar die lede bloot as kommoditeite gesien word nie. As bewys hiervan kan ons met trots kyk na die ontwikkeling van die nuwe Webtuiste, “Hunters Portal” en “RankingU” wat nou integraal deel raak van die program. ’n Program wat gerig is om aan lede beter dienslewering te bied asook dit makliker en goedkoper te maak om endossemente te verkry en bewys van aktiwiteite te kan druk wanneer daar vir vuurwapenlisensies aansoek gedoen word. En om alles te kroon, is die koste gedek uit die vereniging se reserwefondse en het dit die lede niks ekstra gekos nie. Trouens, ons is in gesprek met lede van CHASA konfederasie wat belang stel om “Hunters Portal” en “RankingU” by ons te koop - wat kan beteken dat ons hopelik die grootste deel, indien nie al ons koste, weer kan verhaal nie. Alles mooi poginge en projekte waarop ons baie trots kan wees! Om nog verder hier by te voeg - die funksionering van die plaaslike takke waar lede gereeld aan georganiseerde skietbyeenkomste

kan deelneem en ’n tuiste vind, is seker een van die beste bewyse dat Kaapjag se belegging, sy lede is! Hierdie is om maar net enkele van die voordele te noem wat dit vir jou as Kaapjag lid inhou – ’n meer volledige lys gaan jy vind op ons webwerf onder “Die belofte van Kaapjag aan sy lede”. Die volgende stelling is na my mening net so waar binne die konteks van Kaapjag as wat dit vir ander organisasies geld wat al reeds die prys daarvoor betaal het:
Die een gevaar binne ons hedendaagse samelewing wat baie organisasies bedreig, is egter die onbetrokkenheid van hulle eie lede, hulle weiering om eienaarskap en verantwoordelikhede te aanvaar vir sake waar daar nie ’n direkte verband bestaan tussen persoonlike voorkeure en insette nie.
Mense dien deesdae nie graag in organisasies of verenigings waar die opbrengs / resultate / voordele nie dadelik beskikbaar is nie - en veral nie as die voordele in reële terme vir hom- / haarself duidelik is nie. Die onbetrokke hedendaagse mens verkies om op aanvraag en volgens behoefte gedien te word. Kaapjag kan met die huidige strukture nooit hierdie rol vervul nie – ons het tans net twee voltydse personeellede in die kantoor, wie se salarisse deur ’n gedeelte van die ledegeld gedek word. Die dagbestuur en onderskeie bestuurslede by die takke dien sonder enige vergoeding. Die uitbouïng van Kaapjag, rus vierkantig op die lede se skouers. Kom ons probeer dit deur ’n praktiese voorbeeld verduidelik. Probeer jy iemand oortuig om vis te eet as jyself nie van vis hou nie! Net so werk dit binne Kaapjag. As die lede van ons vereniging hulself nie vergewis van wat hul lidmaatskap van Kaapjag inhou – en ons dit nie aan ander kan verduidelik nie, of as ons nie lojaal teenoor die vereniging staan nie, gaan ons baie min ander mense oortuig om lid te word van Kaapjag. Onthou net, moet nooit vir iemand ’n storie opdis wat nie waar is nie! En indien jy ongelukkg is, moet dit asseblief nie op straat gaan uitwoed nie, maar kom praat met die bestuur – hetsy op tak-vlak of op uitvoerende bestuursvlak. As daar een wens is wat ek graag sal wil sien in vervulling gaan, is dit dat ons elkeen die nuwe Webtuiste en Hunters Portal wat op 1 Desember 2021 geaktiveer is, sal omarm, leer ken en mense nooi om daarna te kyk! Ek wil graag hierdie geleentheid gebruik om eerstens vir Matt en Mimi in Kaapjag kantoor te bedank vir hulle harde werk, lojaliteit teenoor Kaapjag en professionele diens aan al die lede. Baie dankie vir die dagbestuur en die uitgebreide bestuur sonder wie se bydraes en insette hierdie afgelope jaar nie suksesvol kon wees nie. En dan, baie, baie dankie aan elke lid van Kaapjag, wat die moeite gedoen het om aan die skietbyeenkomste deel te neem, wat deur julle deelname in die jagveld gesorg het dat die jagindustrie lewendig bly! Die meeste van ons kwalifiseer vanweë baie redes nie meer om vir Kersvader ’n briefie te skryf met die lysie van al die geskenke wat ons graag wil hê nie. Dit is my wens dat hierdie Kersseisoen vir almal ’n wonderlike feesseisoen saam met familie en geliefdes sal wees. En dat diegene wat bietjie gaan uitspan na nog ’n uitdagende jaar se harde werk, goed sal uitrus. Indien julle gedurende die feesseisoen gaan reis, bid ons dat dit veilig en voorspoedig sal wees. Mag die nuwe jaar, 2022 ’n wonderlike jaar wees waar ons as lede van Kaapjag heerlik saam gaan jag en skiet, en tot groot hoogtes groei!