8 minute read

DR KAS HAMMAN - DIE HERKOM VAN HIËNAS

Next Article
KAAPJAG VOORSITTER

KAAPJAG VOORSITTER

DIE HERKOMS VAN HIËNAS

Deur: Dr Kas Hamman

Advertisement

Alhoewel fossiel opgrawings deur Paleontoloë toon dat daar ongeveer 70 spesies hiënas oor die afgelope ongeveer 22 miljoen jaar voorgekom het, is daar vandag slegs vier spesies wat oorleef het. Hulle is die gevlekte-hiëna (Crocuta crocuta), wat tot 90kg kan weeg, gevolg deur die bruin-hiëna of strandwolf (Parahyaena brunnea) en die gestreepte-hiëna (Hyaena hyaena) wat tot 55kg kan bereik, en die heelwat kleiner aardwolf (Proteles cristatus), wat slegs ongeveer 12kg weeg. Fossiel-rekords toon dat die gevlekte-hiëna voorheen wydverspreid in Europa en Asië voorgekom het, maar vandag is dit nog net die gestreepte-hiëna wat buite Afrika aangetref word. Hiënas word geklassifiseer as deel van die familie Hyaenidae wat vandag die vyfde kleinste karnivoor familie in die klas Mammalia (soogdiere) is. Ten spyte van aos die Filidae en die Viverridae insluit. Hiënas is filogeneties dus nader aan katte, siwette, muskeljaatkatte en muishonde. Daar is tans ses families, twaalf subfamilies, 56 genera en 114 spesies in die Feliformia suborde. Interessant egter is dat hiënas se morfologie en gedrag in verskeie opsigte meer ooreen met dié van honde as gevolg van konvergente evolusie (wanneer onverwante spesies dieselfde lyk en ekologiese nisse deel). Hiënas, soos honde is effektiewe terrestriële jagters wat prooi met hul goed-ontwikkelde tande eerder as kloue vang. Albei diersoorte eet hulle kos vinnig en neig om bene of stukke prooi te begrawe vir latere benutting. Beide diersoorte het nie-intrekbare naels aan hul pote en die ledemate is aangepas vir hardloop en om vinnig van rigting te verander. Hiënas se gedrag in terme van selfversorging, die merk van territoriums deur hul anaalkliere, ontlastings-gedrag, paring en ouersorg, stem egter meer ooreen met dié van die feliforme groepe.

Gestreepte-hiëna/Hyaena hyaena met verspreidingskaart

Bruin-hiëna of strandwolf /Parahyena brunnea met verspreidingskaart

Aardwolf /Proteles cristata met verspreidingskaart Wat is die oorsprong van Hiënas?

Primitiewe voorsate van hiënas het 22 miljoen jaar gelede in die woude van die noordelike super-kontinent Eurasië ontstaan, toe die meerderheid van die vroeë feliforme spesies nog boom-lewend was. Hierdie hiëna-voorsate het waarskynlik baie soos die vandag se Afrika siwette gelyk. Een van die vroegste hiëna spesies, beskryf as Plioviverrops, was ‘n lenige, siwet-agtige dier wat Eurasië 20–22 miljoen jaar gelede bewoon het. Hierdie uitgestorwe dier word geïdentifiseer as ‘n hiënied op grond van die struktuur van die middeloor

‘n Afrika siwet

Kleinkol-muskeljaatkat (Genetta genetta)

en tipiese eienskappe van die gebit. Plioviverrops was heel suksesvol en het aanleiding gegee tot nakomelinge met langer bene en meer gepunte kake - eienskappe soortgelyk aan dié van wolwe (Canis lupus) in Noord-Amerika en Europa. Hierdie primitiewe hiënas het vervolgens in twee verskillende tipes gediversifiseer, naamlik liggeboude wolfagtige diere en hiënas met sterk ontwikkelde kake wat bene kon versplinter. Alhoewel die wolfagtige hiënas 15 miljoen jaar gelede gefloreer het, met selfs een takson wat Noord-Amerika tydelik gekoloniseer het. Die Plioviverrops spesies het egter uitgesterf ná verandering in klimaat, tesame met die aankoms van wolwe in Eurasië. Van die wolfagtige hiënas het net een insektivoor naamlik die aardwolf oorleef, terwyl die hiënas wat instaat was om bene te versplinter (insluitend die bestaande gevlekte, bruin en gestreepte-hiënas) die top aasdiere van Eurasië en Afrika geword het.

Die sukses en uitsterwing van die wolf-agtige hiënas

Die afstammelinge van Plioviverrops het die piek van hul sukses 15 miljoen jaar gelede bereik, met meer as 30 spesies wat uit die fossiel-rekords geïdentifiseer is. Anders as drie van die vier lewende moderne hiënaspesies wat gespesialiseerde beenbrekers is, het die wolfagtige hiënas se kleiner en slanker liggaamsbou hulle instaat gestel om prooi oor lang afstande te agtervolg en te vang. Ictitherium viverrinum, het baie gelyk soos ‘n hedendaagse jakkals. Talle goedbewaarde fossiele van hierdie wolf- of hondagtige hiënas is in die Mioseen tydperk (23 tot 5.3 miljoen jaar gelede) fossiel-terreine gevind. Die afname en uiteindelike uitsterwing van hierdie wolfagtige hiënas het ongeveer 5-7 miljoen jaar gelede begin tydens ‘n tydperk van relatief vinnige klimaatsverandering. Dié proses is waarskynlik versnel deur wolwe wat tydens een van die ystydperke Eurasië vanaf die NoordAmerikaanse gekoloniseer het met behulp van die Bering-landbrug. Een spesie, die primitiewe hiëna Chasmaporthetes ossifragus, het dieselfde landbrug gebruik om van Eurasië na Noord-Amerika te migreer, en was die enigste hiëna wat dit suksesvol kon doen. Hierdie spesie het daarin geslaag om vir ‘n geruime tyd in Noord-Amerika te oorleef deur ‘n ander nis as die wolwe daar te benut. Die meerderheid wolf- of hond-agtige hiëna spesies, met uitsondering van die aardwolf, was teen 1,5 miljoen jaar gelede uitgesterf.

Fossiel-skedel van Ictitherium viverrinum, een van die wolf-agtige hiënas. Hiënas met goed-ontwikkelde kake

In die tydperk 10–14 miljoen jaar gelede het die hiënafamilie in twee afsonderlike groepe verdeel naamlik wolf- of hondagtige hiënas en hiënas wat die vermoë het om bene met gemak te versplinter. Laasgenoemde groep spesies het veranderinge in klimaat asook die aankoms van wolwe in Eurasië suksesvol oorleef. Teen 5 miljoen jaar gelede het die been-versplinterende hiënas die dominante aasdiere van Europa en Asië geword deur primêr te aas op die herbivoor-karkasse wat die sabeltandtiere van daardie tyd as prooi benut het. Een genus, Pachycrocuta, was ‘n massiewe aasdier wat tot 200 kg bereik het en die bene van selfs olifante kon versplinter. Met die afname van groot herbivoor-getalle

in latere ystydperke, is Pachycrocuta deur die kleiner en beter aangepaste gevlekte-hiëna(Crocuta crocuta) vervang.

Dominansie en sukses van moderne hiënas

Soos genoem is die 4 lewende spesies die gestreeptehiëna (Hyaena hyaena), die bruin-hiëna (Parahyaena brunnea), die gevlekte-hiëna(Crocuta crocuta) en die aardwolf (Proteles cristata). Die aardwolf se oorsprong kan direk na Plioviverrops 15 miljoen jaar gelede terug gevolg word, en is vandag die enigste oorlewende spesie van die wolfagtige hiënas. Hierdie diere se sukses en oorlewing word deels toegeskryf aan hul insek-dieet en die feit dat hulle nie met ander karnivore soos wolwe gekompeteer het wat op daardie stadium d.m.v. die Bering-landbrug uit Noord-Amerika na Eurasië gemigreer het. Verder is dit waarskynlik ook die aardwolf se uitsonderlike vermoë om die defensiewe terpeen afskeidings van termiete-soldate te kon hanteer en verteer. Hierdie vermoë is waarskynlik ‘n aanpassing van hul voorsate se spysverteringstelsel wat toe reeds verrotte aas sonder nagevolge kon verteer.

Die gevlekte-hiëna (Crocuta crocuta) het 10 miljoen jaar gelede van die gestreepte en bruin-hiënas vertak. Sy direkte voorouer was die Indiese Crocuta sivalensis, wat so onlangs as 3.5 tot 1 miljoen jaar gelede nog voorgekom het. Die voorsate van die gevlekte-hiënas het waarskynlik weens toenemende kompetisie met ander aasdiere in Asië, begin om in groepe te opereer. Gevlekte-hiënas het skerp agtertande en been-versplinterende voorkiestande ontwikkel, wat hulle instaat gestel het om aktief in groepe te jag én as aasdiere te funksioneer wanneer nodig. Hulle het hul verspreidingsgebied vergroot agter migrerende prooi aan. Gevlekte-hiënas het gedurende die Middel-Pleistoseen (1,7 miljoen jaar gelede) uit Afrika versprei en vinnig ‘n wye gebied van Europa en Asië gekoloniseer. Met die agteruitgang van grasvelde 12 500 jaar gelede, het daar ‘n massiewe verlies van laaglandhabitat in Europa plaasgevind, gepaard met ‘n drastiese toename in bebossing wat, weens hul aanpasbaarheid, tot voordeel van die gevlekte-hiënas was. Europese gevlekte-hiëna-bevolkings het ongeveer 20 000 jaar gelede begin krimp en tussen 11 en 14 duisend jaar gelede heeltemal verdwyn.

Die gestreepte-hiëna het waarskynlik uit H. namaquensis gedurende die Plioseen (5,3 tot 2,58 miljoen jaar gelede) in Afrika ontwikkel. Gestreeptehiëna-fossiele wat 3.5 tot 1 miljoen jaar terug dateer, word algemeen in Afrika aangetref. Die afwesigheid van fossiel-rekords van gestreepte-hiënas in die Mediterreense streek, dui daarop dat dié spesie ‘n relatiewe laat indringer na die noordelike kontinent was, wat waarskynlik eers buite Afrika versprei het ná die uitsterwing van gevlekte-hiënas in Asië aan die einde van die Ystydperk. Die gestreepte-hiëna het gedurende die Pleistoseen (2,58 tot 0,8 miljoen jaar gelede) vir ‘n geruime tyd in Europa voorgekom, en was veral wydverspreid in Frankryk, Duitsland, Oostenryk, Portugal en Gibraltar. Die Pleistoseen gestreepte-hiënas het baie gelyk soos die diere vandag lyk.

Die bruin-hiëna (Parahyaena brunnea) of strandwolf of strandjut, kom in suidelike Afrika voor en is tans die skaarsste hiëna spesie. Die grootste oorblywende bruin-hiëna bevolking word tans in die suidelike Kalahari en aan die kusgebiede van Namibië aangetref. Die bruin-hiëna bevolking word tans deur die IUCN op tussen 4 000 en 10 000 individue geskat en die dier se bewaringstatus word as bedreig aangedui in die IUCN rooi-data-lys.

Hiënas en die mens

Wie sou nou ooit kon dink dat hiënas wat vandag so eie aan Afrika is, eintlik hul oorsprong in Europa en Asië het? Hiënas het hulself oor tyd prominent in Afrika gevestig, asook in die mitologie van hedendaagse menslike kulture. Sekere inheemse bevolkings in Afrika het vandag ‘n diep gewortelde vrees vir hiënas en die diere is beslis nie welkom in landelike gebiede buite bewaringsgebiede nie. In sommige kulture heers daar verskillende variasies van legendes soos dat hiënas geeste beïnvloed, grafte beroof, asook vee en kinders steel. Ander kulture assosieer hiënas met heksery en gebruik hul liggaamsdele in tradisionele medisyne. Van hierdie praktyke dateer uit die tye van die Antieke Grieke en Romeine, wat geglo het dat verskillende dele van hiënas se liggame gebruik kan word om bose geeste af te weer en om liefde en vrugbaarheid te verseker. Afgesien hiervan word hiënas vandag nog deur sommige Somaliërs as voedsel gebruik.

Bronne geraadpleeg IUCN Official Web Site. Conservation Union - Hyaena Specialist Group. Kruuk, Hans (1972). “The Spotted Hyena: A Study of Predation and Social Behaviour”. University of California Press. Kurtén, Björn (1968). “Pleistocene mammals of Europe”. Weidenfeld and Nicolson. Mills, Gus; Mills, Margie (2010). Hyena Nights and Kalahari Days. Jacana Education.

Turner, Alan; Anton Mauricio (2004). Evolving Eden: “An Illustrated Guide to the Evolution of the African Large-Mammal Fauna”. Columbia University Press.

This article is from: