16
DIE BONTEBOK
Deur : David Rossouw OM EERBIED TE BETOON ONS MANIER VAN JAG Ek was besig om Daniel se rooibok skedel af te kook en skoon te krap en het meer tyd op hande gehad as gewoonlik. My kop kon lekker dwaal deur baie jare se jag met my Pa, goeie jagpelle, op my eie, en meer onlangs, met David en Daniel, my seuns. Die een groot beginsel waaraan ek altyd probeer vas hou het, was om altyd my prooi met eerbied te behandel en ek het ook probeer om my twee seuns dit so te leer. Dis eerder ʼn wyer denkwyse as ʼn onbuigbare lys van gebooie, moets en moenies. Maar wat presies beteken dit en wat doen ons? Wat doen ons anders en wat kan ons van ander jagters leer om self beter jagters te word.
D
aar is verskeie tradisies van verskillende kulture wat oor die jare ontstaan het om uiting aan daardie eerbied te gee. In ons eie Suid Afrikaanse tradisie, moes ek erken, was daar nie veel nie, behalwe om ʼn jong jagter wat sy eerste bok geskiet het met bloed te besmeer en ʼn stuk rou lewer te laat eet. Eerstens was ek nog nooit ʼn lewer-ou nie, en rou lewer beslis nie. Aan gewydheid en eerbied het daardie tradisie vir my hopeloos te lig geweeg. Juis daarom het ek besluit om dit effens anders te doen met my eie seuns, meer soos ek self geleer jag het saam met my Pa en sy klein groepie jagvriende. Ek self het altyd na die San van
Suidelike Afrika gekyk as die oudste jagters met pragtige tradisies, stories en selfs danse waarmee hulle die diere wat hulle jag deel van hulle lewe en hul kultuur gemaak het. Hulle was immers ʼn kultuur wat in harmonie met die natuur gelewe het en wat jag ʼn sentrale deel van hul bestaan gemaak het. Heelwat is daaroor geskryf, veral deur Laurence Van Der Post oor sy soektog na die San van die Kalahari. Dit wat ek daaruit geneem het was hoe ek die etiek van my eie jag kon probeer vorm gee. Min of meer beteken dit dat mens jou prooi deeglik moet leer ken, alles van hom leer wat jy kan, sodat jy kan verstaan wie hy is en wat sy plek
in die wêreld is, ook in verhouding tot jou eie plek. Dan moet jy ook nooit meer jag as wat jy nodig het nie, want dit sal verseker dat dit môre vir jou kinders en kleinkinders ook daar sal wees. Die San het ook nie sommer net gaan jag nie. Hulle het dit op ʼn sekere manier gedoen, voorberei, geoefen, te voet bekruip en met ʼn boog geskiet. Hulle het geglo dat jy die dier wat jy doodgemaak het moet bedank dat hy sy lewe aan jou geskenk het. Vir verskeie diere, maar veral die Eland, het hulle ʼn amper goddelike eerbied gehad. Hulle het ook elke krieseltjie van die dier gebruik en niks vermors nie. Verder het hulle geglo dat ou jagters na hul afsterwe in sterre