DW Nuus - Aug 2022

Page 20

20

De Wildt Nuus

Augustus 2022

Die Voortrekkermonument My, jou, ons kultuurtuiste David Scribante Wanneer laas was jy by Die Voortrekkermonument? Laas op ‘n skooluitstappie? Toe jou pa jou soontoe geneem het vir ‘n Geloftefees of dalk… nog nooit van tevore nie? Ek is sekerlik een van die bevoorregtes wat in die verlede al vele male die terrein en die monument self besoek het, tydens skooluitstappies, Voortrekkerkampe en sommer maar net saam met my Pa. Tydens ‘n onlangse besoek weer aan die terrein, hierdie keer spesifiek aan die Erfenissentrum om na die Ossewa Brandwag uitstalling te gaan kyk was ek egter aangenaam verras. In 2021 is die bestuur van die terrein se samestelling verander en is daar ‘n samewerkingsooreenkoms met die Erfenisstigting, die FAK en Die Voortrekkermonument gesluit. Die gevolg is dat dr Danie Langer verkies is as uitvoerende beampte. Onder leiding van dr Langer is daar vele herstrukturering wat alreeds plaasgevind het, wat nuwe ywer en geesdrif in die personeel en bestuur geblaas het. Die rede vir hierdie hele herstrukturering val ongelukkig saam met die nagevolge van die afgelope twee jaar se COVID-inperkings, wat katastrofiese verliese aan inkomste vir Die Voortrekkemonument beteken het. Die Voortrekkermonument was die afgelope jaar om verskeie redes al in die nuus, ondermeer die verwydering van bome tydens die restourasie van die Trekroetetuin en nou onlangs ‘n ongeluk waar ‘n jong dogter deur ‘n valskermspringer raak gespring is. Hierdie nuus is baie male sensasioneel van aard en wil dit voorkom asof die media daarop uit is om eerder die negatiewe te belig. Die teenoorgestelde is egter waar. Daar is soveel meer positiewe wat op die terrein aangaan, maar wat nie in die algemene dagblaaie van die media gedek word nie, soos die restourasie van die Trekroetetuin, die opening van die

nuwe Pioniersentrum, die restourasie en ingebruikneming van die geskiedkundige Skool Op Wiele, wat nou as kafeteria diens doen, die opening van die nuwe Vrijheidsreis museum en nog vele ander geleenthede en feeste wat op die terrein plaasgevind het en nog beplan word. Dit kom daarop neer dat jy en ek moet kies waarna ons luister en eerder besluit om self ingelig te bly oor die aangeleenthede na aan ons hart. Fopnuus en sensasionele propaganda vier hoogty en is aan die orde van die dag en dit is ons taak om te onderskei tussen die waarheid en die leun. Doen jouself, jou kinders en jou nageslag die guns en gaan besoek weer ‘n slag die terrein. Ek bedoel daadwerklik die hele terrein want daar is soveel meer as net die Voortrekkermonument op die terrein. Dit is ‘n daguitstappie vir die hele gesin gevul met kultuur, avontuur en selfs ook iets vir die smulpape. Graag nooi ek jou uit om die volgende skakels self te besoek en ingelig te bly van die doen en late van dr Langer en sy span en so deel te hê aan jou kultuur, tradisies, geskiedenis en lewende erfenis: https://vtm.org.za/ ; https://www.facebook.com/Voortrekkermonument/ ; https://www.instagram.com/voortrekkermonument/ . Die Voortrekkermonument is meer as net ’n erfenisbewaringsterrein. Dit is Afrikaners se kultuurtuiste waar almal welkom is. Dit is ’n baken van hoop wat jy uit enige rigting van Pretoria kan sien. Die Voortrekkermonument bied ’n geleentheid vir die publiek om meer te leer oor die Afrikaner se storie, van die Groot Trek tot by die Anglo-Boereoorlog en meer. Die monument vertel ’n storie van heldemoed, deursettingsvermoë en ’n toekomsvisie sodat ons vandag kan wees waar ons is.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.