
5 minute read
DWBV nuus
from DW Nuus - Aug 2022
De Wildt Boerevereniging duifjag 11 Junie 2022
Die sonneblomme by Kobus Prins se lande is weens die goeie reën en nat lande eers laat geplant vanjaar en die jagters moes op kort kennisgewing laat weet word dat daar duiwe is. Die belangstelling en navrae wat van heinde en ver was, was egter oorweldigend; want die manne was lus vir ‘n lekker dag in die buitelug en enige verskoning om ‘n klompie lood die lug in te jaag. Toe Phil Louw en Jacques Fourie net na sonop by die lande opdaag, met Wannie Scribante kort op hul hakke, het daar alreeds ‘n paar voertuie gewag om in te gaan by die hek. Later die dag, het Janus kom hand by sit by die hek om die nodige administrasie en finansies te behartig. Deur die loop van die dag het Hester Louw, Gertjie en Lee-Ann ook onder die koeltebome ‘n draai kom maak, net om seker te maak alles is pluis en die oorverdowende geraas is nie afkomstig van onwelkome besoekers nie. 76 Jagters het deur die dag opgedaag om te skiet en almal het dit baie geniet. Daar was pa’s en seuns, (party seuns so klein dat hulle nie eers ‘n geweer behoorlik kon vashou nie), families, vriende en sommige jagters wat alleen opgedaag het, het nuwe vriende gemaak. Tussen die skiet deur is daar natuurlik ook lekker gekuier en ‘n vleisie oor die kole gebraai. So het die De Wildt Boerevereniginglede ook naby die hek weer stelling ingeneem om soos die gebruik al is, ‘n vuurtjie aan te pak en self ook iets vir die binnekant gaar te maak. ‘n Man kan mos nou nie op ‘n lee maag die taak van duifjag aanpak nie. Hou gerus die ore en oë oop vir die volgende geleentheid wanneer ons weer so maak. Dankie aan al die jagters wat elke jaar so getrou kom, sonder julle is hierdie lekker dag nie moontlik nie; Dankie aan De Wildt Boerevereniging se bestuur wat altyd kom help; en baie dankie Kobus Prins dat ons van jou lande (en duiwe) kon gebruik maak.
Advertisement




Dienste en herstelwerk van motors en bakkies
Gawie Rossouw 079 196 5445
Hoewe 1, Patryshoek, Akasia ggmotors89@gmail.com
Besigheidsure: Ma-Vry 07:00-17:00
ADVERTEER IN DE WILDT NUUS

TLU SA Jongboerkonferensie 10 Junie 2022
TLU SA se jongboer konferensie het hierdie jaar by die Voortrekkermonument se Voortrekkersaal plaasgevind, met die tema #DiversifiseerJouBoerderyPraktyk. De Wildt Boerevereniging se Jongboer-verteenwoordiger Jacques Fourie, asook Wannie en Hanna Scribante van De Wildt Boerevereniging, het die geleentheid bygewoon.
“Elke boer in Suid-Afrika – en veral die Jongboere – het georga- niseerde landbou nodig. Dit was die woorde van die uitgetrede voorsitter van die TLU SA Jongboerkomitee Henna du Plessis by die 2022 TLU SA Jongboer-konferensie. “Boere se uitdagings is baie en groot, maar georganiseerde landbou is noodsaaklik om die uitdagings aan te spreek en suksesvol die hoof te bied. Boere kan nie sonder organisasie soos TLU SA nie. Jy is nie ’n eiland op jou eie nie. Ons is hier om hande te vat en betrokkenheid aan te moedig,” het Du Plessis gesê.” Jake Stols van Pretoria FM wat as motiveringspreker opgetree het, het boere en veral die Jongboere aangemoedig om nie toe te laat dat die nuusberigte hul ontmoedig nie. “Ek weet dit is nie maklik om te hoor van al die plaasaanvalle en -moorde nie en ook nie as nog ’n politikus vertel hoe hy/sy jou grond wil afvat nie. Maar ek dring aan by julle om eerder dit as motivering te gebruik om aan te hou boer en nie negatief te raak en moed te verloor nie. Dit is ’n seën om te kan boer,” het Stols aan die Jongboere gesê. Ander sprekers tydens die geleentheid was ook: Jacob van der Westhuizen (Diversifikasie); Dawie Brits (2021 Jongboer van die Jaar); en Henna du Plessis (Voorsitter: TLU SA Jongboere) Dit is verblydend om die algemene passie, goeie gees en hoop op ‘n blink toekoms in landbou in Suid-Afrika onder die jong- boere te kon waarneem. Daar is ook ‘n nuwe TLU SA Nasionale Jongboerkomitee verkies met voorsitter, Neels Uys, ondervoorsitter, Floris Booysen, ons eie Jacques Fourie en nog twee ander lede nl Heinrich Roos en Miekie Genis. Geluk aan julle almal en sterkte met die harde werk wat voorlê. “TLU SA wil nie brul by die bloedkolle van die verlede nie… ons wil eerder die uitdaging identifiseer en oplossings daarvoor vind. Landbou moet leef sodat Suid-Afrika kan leef,” het TLU SA Hoofbestuurder mnr Bennie van Zyl gesê. (https://www.tlu.co.za/jongboere-het-georganiseerde-landbou-nodig/ ;besigtig 2022/07/13)


De Wildt Boerevereniging vergadering 10 Mei 2022
De Wildt Boereverenging se vergadering van 10 Mei te De Wildt 4x4 is deur ondervoorsitter Gertjie Davel gelei, aangesien voorsitter Phil Louw en sy eggenote, Hester, op daardie stadium heerlik in Nederland en op ‘n bootreis kerjakker het. Erman en Marouchel Grobler het ons hierdie slag kom besoek om ons bekend te stel aan nuwe tegnologie in die pluimvee-landskap. Marouchel het ‘n volledige geoutomatiseerde lêhen hoenderboerdery wat in ‘n skeepsvraghouer gehuisves word aan ons bekend gestel. (Vir enige navrae daaroor kontak gerus vir Hanna.) Na Marouchel se praatjie het ons vir 20 minute ‘n breek gevat voordat daar aangegaan is met die vergadering. Dit was tydens die breek wat ons deur Jacques Fourie en van die jonger manne bederf is met ‘n goeie ou boereworsrol. Díe was gaargemaak oor ‘n vuur wat sommer al voor die vergadering begin het aangesteek was. Sommige van die manne het natuurlik nie net een geneem nie, want jy word mos honger tydens so lang stil sit; en die afsluk was bygestaan deur ‘n lafenis vir die keel waarvoor Saartjie Schoeman van agter die toonbank gesorg het. Dankie aan Saartjie Schoeman wat gesorg het vir die drinkgoed; Dankie aan Louis en Alex van der Merwe vir die gebruik van julle mooi lapa; Dankie aan Erman en Marouchel Grobler wat as sprekers opgetree het; en Baie dankie aan elkeen wat die vergadering bygewoon het.