
2 minute read
Ons vriend Hendrik Swarts
from DW Nuus - Aug 2022
12 De Wildt Nuus
Ons vriend Hendrik Swarts
Advertisement
Wietz Beukes
Op Saterdag, 26 Maart 2022 het ‘n groepie taklede (Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika Noord-Transvaal tak) saam met Louis en Linda Bester by De Wildt gaan grafte soek. Oosie het vroeër in die maand met Louis kontak gemaak en Louis was deeglik vir ons besoek voorbereid. Louis-hulle bly al vir baie jare in die omgewing en ken dit goed. Ons kon net by drie van die plekke op sy lys aandoen omdat die natuur bietjie by die eerste groep grafte wat besoek is, oorgeneem het. Ons was dus ‘n hele ruk besig om tussen ruigtes grafstene oop te maak om af te neem. Van die grafstene het selfs met die grootste aanwending van verbeelding geen leesbare inskripsies gehad nie. Ander was weer in ‘n relatief-goeie toestand met duidelike inskripsies. Daar was een van 1925, en ander van die dertiger- en veertigerjare. Die grafsteen wat ons die langste besig gehou het, val so tussen bogenoemde uiterstes. HIER RUS was duidelik sigbaar op die sementsteen maar daarna het dinge vervaag. Die laaste reël was toegegroei en daar was geen datum nie. Na ‘n gewerskaf kon ons toe wel later die inskripsie lees – HIER RUS ONS VRIEND HENDRIK SWARTS, RUST MYN SIEL, U GOD IS KONING. Die klompie grafte is op die plaas Vissershoek nie ver van Laerskool Vissershoek nie, geleë. Toe die eerste skool in ‘n kamer van die plaaswoning van oom Japie Schoeman op 12 Oktober 1891 geopen is, het dit as die Fistershoekskool bekend gestaan. Dit was
die eerste skool agter die Magaliesberg, is later verskuif, in 1901 afgebrand en later weer opgebou. Twee ander plekke waar ons by grafte gestop het, was bietjie meer in die oopte en afneem was maklik. So in die ry het Louis ons van die wêreld daar se geskiedenis vertel. Hy draai nie doekies om nie en gaan haal dit in die tyd wat die Magliesberge gevorm het. Ek weet nou hoekom klei en die gepaardgaande steenmakerye suid daarvan voorkom en al die platinum-groep metale net noord daarvan gemyn word. Ons het by ‘n bouval van ‘n kerkgebou wat met Paul Kruger se ondersteuning opgerig is gestop. Nie ver daarvandaan nie het J.B.M. Hertzog in 1912 ‘n toespraak gelewer wat tot die totstandkoming van die Nasionale Party gelei het. Baie jare later het die tuislandbeleid ook wesenlike impak op hierdie omgewing gehad. ‘n Stuk van Bophuthatswana was net ten noorde en dan oos tot duskant die N1 en wes tot duskant Brits. Nadat ons eers heerlik by Louis en Linda koffie gedrink het was die N4 weer die pad huis toe. Met al die moeite by Hendrik Swarts se graf kon ek die aand nie anders as om ten minste ‘n poging aan te wend om te sien wie hy was nie. Na ‘n aanvanklike vrugtelose soektog kom ek toe so wrintie op FamilySearch op die Aangifte van ‘n Sterfgeval vir Hendrik Albertus Swarts af. Oorlede 22 Maart 1942, Vissers- hoek, distrik Pretoria. Die vorm is op 24 Maart ingevul en die Magistraat-kantoorstempel se datum is 26 Maart 1942, presies tagtig jaar voor ons die Saterdag by die graf was. Hendrik se ouderdom word as 79 en 11 maande aangegee − op ‘n maand na, tagtig jaar vroeër. Tot iemand my anders kan oortuig, reken ek die eenvoudige sementgrafsteen en genoemde dokument hoort bymekaar.