
2 minute read
Die wil van God
from DW Nuus - Aug 2022
Phil Louw
Die Paasgebeure is vir eers weer agter ons en het ons die Paastyd betree, en bly dit nie vir almal so maklik om die kloutjie by die oor te bring ten opsigte van hierdie storie met betrekking tot die opstanding en die lewe in hierdie wonderlike Boek van boeke nie. Want daarin is een woord wat ons min verstaan: Die wil van God! Ons weet dat die heerlikheid van die hemel daarin bestaan dat God daar sy wil doen in almal, en dat almal Sy wil doen. En ons lees dat dit die volmaaktheid van Jesus was wat hom, tot die dood toe, God se wil laat doen het, en tog verstaan ons so min van God se wil. Ons leef in ‘n stukkend, gebroke en verdeelde wêreld. Gelowiges kry swaar en word vervolg. Oorlog, hongersnood, werkloosheid, angs en dood is op ons voorstoep. Dit het so alledaags geword soos die repiterende nuusberigte waaraan min hulle steur. Daar is baie magte werksaam en daar is baie twyfel by mense wat swaar kry. Wêreldmagte voer ‘n titaniese stryd en laat net ‘n pad van verwoesting, swaarkry, pyn en dood agter. Dis hierdie soort belewenisse wat maak dat dit nie maklik is om te glo nie. Mense is moedeloos, sonder hoop en wonder wanneer kom die einde van die wêreld? Hoe moet ‘n mens God se wil verstaan onder sulke omstandighede? God kom raak ons egter aan. Soos die opgestane Jesus in die gewone lewe op die strand aan sy visserman-dissipels verskyn het, verskyn Hy in ons alledaagse lewe aan ons. Soos Hy vir hulle daar op die strand gevoed het met brood en vis, voed Hy ons ook vandag met die brood en die wyn as tekens van sy opstanding. Hy het ons eerste liefgehad. Sy boodskap laat ons onthou dat ons nie alleen is nie. Dit moet ons verstaan as die wil van God, en nie die vrye wil van mense en hul eie besluite nie. Daarom vra Hy van ons om Sy wil te leer ken, en lief te hê, en met blydskap te doen. Hierin is ons nie alleen nie. God is altyd by ons deur sy Gees. Sy Seun, die getroue en betroubare Getuie, was ‘n mens soos ons. Maar Hy is ook God. Hy het opgestaan; Hy leef; Hy heers. Hy verander ons deur ons verlossing uit die mag van sonde. Hy maak ons sy dissipels (heersers en priesters) en gee ons toegang tot God. Hy stuur ‘n boodskap. Hy wil sy kinders troos en bemoedig. Hy gee hoop. Hy maak die toekoms oop. Hy is in beheer. Die toekoms is in sy hande. Ons moet dit hoor; so ook enige mag of gesag in vandag se wêreld. Ons moet dit ontvang wat in ons deurmekaar tyd aan ons toegesê word: genade en vrede!
Advertisement

