5 minute read

Dinge wat jou vreugde kan steel

Hanna Scribante

Jesus sê: “Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê en dit in oorvloed.” Joh. 10:10

Advertisement

Ons eeu-oue vyand aan die anderkant - wil definitief nie hê ons moet gelukkig wees nie. Hy sal dus enige iets doen om ons vreugde te steel. Jesus sê: “‘n Dief kom net om te steel, te slag en uit te roei…” Joh.10:10 Hierdie dief is egter nie daarop uit om materiële dinge by ons te steel nie – nee, hy wil ons vreugde steel. Want hy weet as hy ons vreugde gesteel kry, steel hy daarmee saam ons lewenskrag en ons hoop. Ons kan egter nie die vyand alleen die skuld gee nie. Dit is en bly uiteindelik ek en jy wat die keuse maak en toelaat dat sekere dinge ons van ons vreugde beroof. Die vreugde stelers:

Vreugde-steler nommer 1:

‘n klaende en kritiese gees: Iemand met ‘n kritiese en klaende gesindheid kan nie saadjies van vreugde saai en vreugde oes nie. Iemand wat die heeltyd ontevrede en onvergenoegd is, kan nie gelukkig wees nie. ‘n Kritiese persoon soek die heeltyd fout met alles en almal. Dis te lank of te kort; te soet of te suur; te lawaaierig of te dooierig ens. ‘n Klaende persoon sal altyd iets kry om oor te kla. Of dit nou oor hulle gesondheid is, hulle huwelik, hulle werk, hulle kinders, die land, die politiek, die kerk ens. So ‘n gesindheid dreineer jou lewenssappe en lewensvreugde.

Wat is die teenmiddel?

Ek moet besluit ek gaan die positiewe in elke ding soek. Ek besluit om dankbaar te wees vir dit wat ek het. Ek gaan ‘n wag voor my mond sit.

Vreugde-steler nommer 2:

Verkeerde en negatiewe denke: As jy regtig die vreugde wil ken wat die Here in jou lewe wil hê, sal jy jou denke moet regkry in jou lewe. Ons dra dikwels te veel dodelike emosies binne-in ons rond. Negatiewe gedagtes wat dikwels oor en oor in ons koppe gaan: Gedagtes van “ek is nie goed genoeg nie”; “ek gaan misluk;” “niemand hou van my nie;” “my lewe is nie die moeite werd nie.”

Wat is die teenmiddel?

Dis nodig dat die Here die manier waarop ons dink vernuwe. “…laat God julle verander, deur julle denke te vernuwe.” Rom 12:22 God kan jou op ‘n ander manier laat dink en doen, deur die Heilige Gees wat jou innerlike denke vernuwe en hervorm.

Vreugde-steler nommer 3: Besig- wees: Ons is almal besig!

Dis die realiteit. Die ergste is ons het onsself so besig gemaak. Selfs wanneer ons nie besig is nie, oorstimuleer ons onsself met sosiale media of een of ander skerm voor ons oë. Daar is absoluut niks ontspannend of verfrissend om doelloos rond te blaai en na die hoogtepunte van ander mense se lewe te kyk nie.

Wat is die teenmiddel?

Jesus bied ons iets eg. “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Matteus 11:28

Vreugde-steler nommer 4: Bekommernis:

Bekommernis is nog iets wat ons van ons vreugde kan beroof. Opkomende gebeurtenisse, frustrerende werk, finansiële spanning, ‘n stram verhouding en vele meer. Bekommernis is nutteloos. Bekommernis sal altyd ‘n fatale siekte van die hart wees, want die begin van bekommernis is ‘n teken van die einde van geloof. Bekommernis bevraagteken God se vermoë om te voorsien en te wil voorsien.

Wat is die teenmiddel?

Paulus het die Filippense aangemoedig om al hulle kommer op die Here te laai en dit werk steeds. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”. Fil. 4:6

Vreugde –steler nommer 5:

Jou verlede

Jou verlede kan beslis ook iets wees wat jou van jou vreugde beroof. Wanneer jy toelaat dat die aanklaer (Open. 12:10) vir jou sê: Hoe kan die Here iemand met jou verlede gebruik of lief hê? Moenie vashou aan die foute van die verlede nie, Laat gaan en aanvaar God se vergifnis.

Wat is die teenmiddel?

Niks kan jou vreugde steel tensy jy dit toelaat nie. Ons kan toelaat dat ons verlede ons aanhou vergiftig en ons gevange hou. As dit nodig is gaan praat met iemand - ‘n vriend(in), ‘n dominee, ‘n sielkundige.

Vreugde-steler nommer 6: Om altyd te nagekom te voel

As jy maklik te na gekom voel deur dit wat iemand gedoen of gesê het, wat jou geaffronteer of seergemaak het – sal dit jou van jou vreugde beroof. Ons voel dikwels dat die Here ons te na gekom het as dinge nie uitwerk soos wat ons wou hê nie. Die gevolg is ‘n gevoel van onvergewensgesindheid en bitterheid teenoor God en alles en almal. Maar weet jy wat doen dit aan jou liggaam? Dit veroorsaak dat spanning in jou liggaam bly. Vergifnis is baie belangrik! “Moenie toelaat dat julle bitter word nie.. Behandel mekaar mooi en goed… Sien mekaar se foute oor net soos God julle foute oorgesien het omdat julle Jesus s’n is.” Ef. 4:31-32.

Wat is die teenmiddel?

Ons moet ons harte bewaar en nie toelaat dat bitterheid in ons lewens inkom nie. Ek sal nooit die saadjies van vreugde kan saai en oes van vreugde hê, as ek toelaat dat ek die hele tyd te na gekom of verontreg voel nie - kom ons beskerm ons harte. Hoe kan ek die vlam van vreugde weer in my lewe aansteek?

Erken jy het jou vreugde verloor

Bepaal wie of wat veroorsaak dat jy jou vreugde verloor het. Besef dat God die bron van jou vreugde is. Onthou jou vreugde hang nie af van jou omstandighede nie – maar wie jy in die Here is. Wees jammer, hê berou en vra die Here om jou vreugde weer te herstel. Staan tyd af in die teenwoordigheid van die Here. Dit is die plek waar jou krag vernuwe word; waar jy kans kry om jou hart met hom te deel; waar Hy jou trane afvee en die versugtinge hoor wat nog skaars gedagtes in jou kop is. Jy kan weet Hy ken jou hart. Mag dit genoeg wees vir jou.

This article is from: