3 minute read

NAMPO Oesdag

NAMPO Gertjie en Lee-Ann Davel

Met die tyd wat so vinnig vlieg is NAMPO al weer twee maande iets van die verlede. Gelukkig was ons bevoorreg om dit hierdie jaar weer te kon beleef. Twaalf van ons Brits/De Wildt boorlinge het die moed gehad om die 19de Mei die skou met Grundling vervoer bussie te besoek. Ten spyte van die Covid regulasies en die feit dat n hele paar van ons nie geënt was nie het ons die pad aangedurf. Ons het die oggend vroeg by Tutuwedzo bymekaar gekom waar ons ons voertuie veilig gelaat het. Baie dankie aan Stef en Carien wat die vergunning gemaak het. Vyf uur was almal aan boord en die wiele het begin rol. Sommer van die begin af is daar vriende gemaak en lekker gekuier. Hoe heerlik om net terug te sit en te kuier en nie heeltyd op die uitkyk te wees vir slaggate en verkeer nie. Op Ventersdorp is daar eers gestop vir ‘n koffie en om bene te rek. Die son was al mooi op toe ons by die Nampo hekke stop. Almal was gereed vir die dag se verkenningstog...maar o wee... die jongman by die hek met sy kort khaki-broek in die koel Vrystaat oggendbriesie wil elkeen se inentings sertifikaat sien. Gelukkig is TLU- SA se adjunk President in ons midde en Wannie het gesorg vir die nodige toestemmingsdokumente. Die strate en stalletjies is sommer van vroeg af besig en bedrywig. Met die voorwaarde dat net 20 000 mense per dag die skou mag besoek, was dit so bietjie makliker om te beweeg. en te kuier by die uitstallers. Die skou is so groot en dek so wye veld van toerusting, werktuie en kommoditeite dat elkeen baat vind aan so n gesellige kuier dag. Ongelukkig is dit net te groot om in een dag deur alles te gaan en daarom moet jy maar baie selektief op jou verkenningstog wees. Natuurlik moet jy nog ‘n ‘pitstop’ maak as jou maag en keel begin kerm vir ‘n versnapering, en dan nog die keuse van wat, want die verskeidenheid is so groot. Jou bene is duidelik bewus as jy hulle net vir daai paar minute laat rus. terwyl jy “vreetsaam” verkeer. Met die dag wat al sy halfpad merk bereik het, besef jy dat daar nog baie is om te sien en te ondersoek en jy stoot maar so bietjie ekstra aan. Daar is so baie skou aanbiedinge en winskopies dat jou beursie jou dunner en jou arms voller word. Pakdonkie uitgeknip (dan-kie Lee-Ann vir jou twee sterk arms!), maar dis ‘n eenmaal ‘n jaar ondervinding en daarom hou jy uit en beur vorentoe. Die feestelike gemoed en al die uitstallers se vriendelikheid en hulpvaardigheid maak alles die moeite werd. As jy iets wil weet of oor iets wonder dan is dit die plek om te wees. Al die ervare en kundiges is hier bymekaar. Vir die kinders is daar genoeg vermaak en die vrouens word ook nie afgeskeep nie. Jy kom weer vinnig aarde toe as jy besef hoe klein en nietig jy is as jy langs een van die groot trekkers met sy massiewe implemente staan. As die son laag begin sak in die weste laat jou lyf jou duidelik verstaan dat jy ‘n buitengewone lang dag gehad het. Om dan in die bussie se sitplek neer te sak en te weet jy hoef nie oor die pad terug te stres nie, is ‘n salige gevoel. Die bonus was natuurlik toe die koelbokse oopgemaak word en die ys is nog nie gesmelt nie. Met die koel lafenis kom nuwe krag en toe word daar gekuier, die hele langpad terug. Elkeen het iets anders beleef en ervaar. Teen R650 per persoon, wat jou hekgelde ingesluit het, was dit die moeite werd en volgende jaar maak ons weer so as dit ons gegun word. Baie dankie aan almal se bydrae om die dag die moeite werd te maak.

Advertisement

Voorblad in kleur

R1265.00 Agterblad in kleur R1125.00 Volblad binne in kleur R 950.00 Volblad binne in swart en wit R 665.00 Halfblad binne in swart en wit R 385.00 Kwartblad binne in swart en wit R 290.00 Agste blad binne in swart en wit R 200.00

Dankie aan ons adverteerders en hul ondersteuners

Nuwe De Wildt Nuus Bankbesonderhede: ABSA spaarrekening 9235498972 Verwysing: DWN + advertensienaam

This article is from: