Augustus 2022
De Wildt Nuus
15
Die ontstaan en vorming van die Magaliesbergreeks. (1) Kenmerke en karakter: Vir ons wat teen die Magaliesbergreeks bly, is dit ‘n alledaagse om die bergreeks oor te steek by verskillende deurgange en nekke. Ons is so gewoond aan die berg en sy vorme en wonder ‘n mens soms hoe hierdie lang bergreeks, wat so uniek deur ons blyplek loop, gevorm is. Kom ons gaan kyk vir eers net na die huidige ligging en vorm van die Magaliesbergreeks. In die omgewing van Cullinan, waar die grootste diamant van sy tyd ontgin is, is daar duidelike tekens van vulkaniese uitbarstings. By Rayton en Bronkhorstspruit begin die bergreeks as lae rantjies in die oostekant. Die profiel word mettertyd duideliker. By Derdepoort vorm daar ‘n natuurlike poort deur die Magaliesreeks met die Wonderboompoort waar die Apiesrivier deurvloei. Ons volg die bergreeks nou tot by Hornsnek, waar dit deur die De Wildt-omgewing loop tot by Zilkaatsnek. Die Hartbeespoortdam volg en draai die bergreeks effe noordwes in die rigting van die Buffelspoortdam, om dan te eindig naby Rustenburg met Pilanesberg in die weste, wat eeue terug n vulkaniese uitbarsting was. Op die kruin gemeet is dit ‘n totale afstand van ongeveer 150 km. Net vir interessantheid kyk ons gou na die drie “poorte” deur die Magaliesreeks, nl. Hartbeespoort (wat vandag die Hartbeespoortdam is), Wonderboompoort en dan Derdepoort met sy gepaste naam. Oor die ontstaan van die poorte later meer. Aan die suidekant van die Magaliesreeks vind ons die Daspoortreeks en die Timeball Hill-reeks, wat parallel met mekaar lê soos borde in ‘n droograk. Noord van die Magaliesreeks vind ons ‘n oppervlak van sowat
65,000 vk km wat ryk is aan minerale van verskeie soorte. Vier riviere vloei deur die Magaliesreeks, nl die Krokodilrivier wat die voedingsrivier is van Hartbeespoortdam, die Apiesrivier wat deur die Wonderboompoort vloei oppad Bon Accord-dam toe en die Rooikloofrivier wat die Olifantsnekdam voed. Die Moretelespruit wat later die Hartbeesrivier word, vloei deur Derdepoort op sy pad na die Roodeplaatdam. Opmerklik is die interessante vorm van die Magaliesreeks. ‘n Meer glooiende en steil vorm vind ons aan noordekant van die berg met sy steiltes. Aan die suidekant egter vind ons duidelike regaf kranse en spitse. Die rede daarvoor sal ons ook later in meer besonderhede bespreek. Sou jy op die Magalies se kruin by Fort Wonderboom na die noorde kyk, sal jy enkele koppies, nl. die Pyramid-koppies sien, wat uitsteek in die groot Bosveldkompleks se oop vlakte, wat strek tot naby die Soutpansberge.
Die Magaliesberggebied (2) Zilkaatsnek is deur Mzilikazi in 1836 as buitepos in gebruik geneem. Hier het die mense in groot rykdom geleef wat kos betref. Sorghum, pampoene, suikerriet, boontjies en ongeveer 3,000 beeste is hier aangehou. In 1939 het ‘n strafekspedisie onder Potgieter in die gebied niks aangetref nie, want toe het Mzilikazi reeds weer die gebied verlaat op sy verdere plundertogte. Slegs ‘n paar verstrooide stammetjies het oorgebly en slegs verlate Bakwena-dorpe en duisende geraamtes is in die gebied opgelewer. Op verskeie nekke van die Magaliesberg word stapels klippe aangetref. Sommige was oorblyfsels van die oorlogskanse uit die Tweede Vryheidsoorlog. Die meeste klipstapels is deur van die swart volkere opgestapel. Die oorsprong daarvan is nie baie duidelik nie, maar volgens oorlewering was dit ‘n ou gebruik deur die swartmense om ‘n klip op ‘n hoop te plaas wanneer hulle van die suide na die noorde oor die berg gegaan het. Dit het gedien as ‘n soort versoeningseremonie vir die geeste aan die noordekant van die berg. So ook dan wanneer daar van die noorde na die suidekant van die berg gegaan is. So ‘n voorbeeld van ‘n klipstapel kom voor op die plaas Hartebeesfontein wat behoort het aan ‘n ene Fritz Klopper. In ‘n sekere nek het daar twee boekenhoutbome gestaan, wat volgens bygeloof onder die swartes, verhoed het dat die voorvadergeeste oor en weer oor die berg kan gaan. As daar dan oor die berg gegaan moet word, is ‘n klip op die stapel geplaas en “dumela” gesê. Dit was ‘n groet aan die geeste aan die anderkant van die berg.
Die nek het bekend gestaan as Tweeboompiesnek. Dit is ook bekend dat daar ‘n onderonsie tussen die Bafokeng en die Bahurutshes was waar die een kaptein se seun gedood is. Op die plek (Phata ya Mathebe) is daar vandag nog ‘n hoop klippe waar verbygangers ‘n klip gooi om sodoende die voorvadergeeste tevrede te stel. Bibliografie: 1. Becker, P. 1962, Path of Blood. Longmans Green & Co, Londen. 2. De Beer, B.K.1975, Agter die Magaliesberge. Postma Publikasies, Johannesburg. 3. Department of Native Affairs, 1953, The Tribes of Rustenburg and Pilanesberg district by P.L. Breutz. Ethnological Publications. No. 28, Government Printers, Pretoria.