Maart 2022
17
De Wildt Nuus
Sssslang ! Deur Theo Schoonraad
Inwoners van De Wildt het waarskynlik almal al oor tyd slange raakgeloop op hul eiendomme. Veral in die somermaande. Niks buitengewoon daaraan nie, want hier is maar slange. Van die giftigste tipes kom ook hier voor soos boomslange, wipneuskobras, Mosambiekse spoegkobras en pofadders. Vir hulle moet mens ligloop. Die uiters giftige en gevaarlike swart mamba het ekself nog nooit hier gesien of van gehoor in ons omgewing nie. My eie ware verhaal het egter ‘n skrikwekkende kinkel. So ‘n paar jaar gelede vra my seun, hy was toe nog op skool, my om vroegaand saam met hom op die grasperk te gaan lê om bietjie na die sterre te kyk. Dit fassineer hom vandat hy ‘n klein knapie was. Ek wou net eers deur die stort spring en versoek hom toe om solank vir ons ‘n kombers te kry vir die sterrekykery. ‘n Bietjie agtergrond….gedurende dieselfde week hoor my vrou een aand ‘n geritsel onder ons bed. Ek hoor niks, maar dit is seker moontlik dat ‘n verdwaalde streepmuis by die huis ingeglip het. So het ek gedog en steur my nie veel verder daaraan nie. Die outjie sou self weer padvat. Volgende aand, hierdie keer effens ergerlik, sê Moeder Hen vir my dat sy weer die geluide hoor. Uit haar stemtoon besef ek dadelik dat ek nou eerder moet werk maak daarvan en kyk wat ek kan agterkom onder die bed. Plat op my maag en met ‘n flitslig lewer my inspeksie egter niks op nie. Terug by die sterrekykery. Toe ek uit die stort kom reken my seun dat hy ‘n slangetjie onder die kombers op ons kamervloer
sien uitkom het. Die slang is oor die gang na die sitkamer toe en in onder die leerbank teen die muur. Aldus my telg. My eerste reaksie was een van skeptisisme soos in “ag wat, dis seker ‘n akkedissie of so iets”. Die vuurvonke wat blits uit my vrou se oë was tekenend van haar moederlike beskermingsdrang. Ewenwel, toe ek tog maar agter die bank gaan kyk en dit versigtig gaan wegtrek van die muur af, is ek begroet deur ‘n yslike, agressiewe en sissende wipneuskobra. Penorent en bakkop. ‘n Goeie 1.8 m lank, skat ek. Oor my eie onmiddellike reaksie is ek nou nog skaam om oor te praat, maar dit het neergekom op ongebreidelde, obsene taalgebruik. Dit was van die skrik sien. My vrou en dogter het my grootoog aangestaar en hulle toe blitsig tuisgemaak pens-en-pootjies bo-op die eetkamertafel. Lang storie kort, ons het die slang dopgehou totdat ‘n slangvanger opgedaag het, die reptiel gevang en verwyder het. Die man het ook bevestig dat dit ‘n wipneuskobra ( Naja annulifera ) was en een van die grootstes wat hy nog gesien of gevang het. Blykbaar is dit nie ongewoon vir kobras om, veral in die aand, in huise te soek vir hitte nie….en nou die ontstellendste gedeelte, hierdie groot swerkater het homself waarskynlik vir ‘n wyle tuis gemaak onder ons bed. Dit was die geritsel wat my vrou gehoor het, aldus die slangman. Dis om van die horries te kry ! So, hou julle oë oop en as vroulief meen daar is vreemde geluide onder die bed, neem kennis en glo haar maar. It’s tough in Africa !
Same Day Deliveries
RY VE ENT G UR
Email: invoice@colopsa.com 119 Shubert street Melodie, Hartbeespoort Tel: 012 253 1172 / 3 / 4
FASTER THAN EVER