4 minute read

Oom Manie Lemmer weer getroud

Oom Manie het ons almal verras en na twee kuiers na mekaar in die Vrystaat (Bloemfontein) keer hy met sy nuwe bruid, Marie Barkhuizen, terug na Bougainvilla-aftreeoord (Montana). Ek het hom versoek om ons kontreiblad se lesers na behore hieroor in te lig en hier volg sy verhaal: “Ek en Sannie het toe sy nog by my was, soms oor die moontlike gebeure na een van ons se oorlye gedagtes gewissel. Sannie het bevestig dat sy weet dat ek nie ’n alleenmens is nie en dat ek, indien sy eerste van ons twee te sterwe kom, beslis weer behoort te trou en sy het selfs ’n paar moontlike opvolgers genoem, wat sy geglo het by my sou kon inpas. Na sestig jaar met Sannie getroud is sy oorlede en het ek ’n alleenpaadjie geloop, eers by Sandstone Versorgingsoord naby Brits waar Sannie ook oorlede is en daarna by Bougainvilla-aftreeoord te Montana Tuine, Pretoria. Hoewel die ander inwoners van die aftreeoord baie vriendelik is, het die Covid 19 ’n alleenmens nog meer alleen gelaat en saans as jy jou voordeur sluit, is dit net jy alleen met jou verlange na ’n maat tesame met jou Skepper wat gelukkig altyd by jou is. Ek het my twee seuns oor my planne in hierdie verband ingelig en hulle het begrip getoon vir my verlange en planne. Aan die begin van Oktober 2021 het ek Marie Barkhuizen, sedert Februarie 2021 woonagtig in die Serenitas-aftreeoord in Bloemfontein, telefonies geskakel. Toe ek na haar welstand verneem, het sy gesê dat sy lekker bly in die aftreeoord na sestig jaar se verblyf op hul plaas Bakbank, naby Jagersfontein waar sy na haar eggenoot se afsterwe in 2006 steeds daagliks doenig was met plaastake gekoppel aan veral die veeversorging en hantering van skape en bokke. Haar seuns het haar wel bygestaan, maar sy was daagliks baie besig en soos sy dit aan my gestel het, was sy nou ook “alleen”, aangesien die plaastake skielik nie meer hare was nie. Ek het haar verseker dat ek dit verstaan omdat ek dieselfde ervaring van alleenwees beleef het. Ek het haar ook verseker dat ek ’n plan vir twee mense wat alleen is, oordink het en dat ek die volgende aand my plan aan haar sou meedeel. Die volgende aand het ek aan haar my plan verduidelik: As twee mense albei deur die alleenheid gepla word, kan hulle twee mos saam die alleenheid verdryf, dat ek persoonlik na Bloemfontein sou reis om my plan te bevestig, as sy wel belang stel om die plan te laat werk. Dit het met haar instemming gebeur dat ek die volgende week na baie jare weer my eerste kuier by haar in Bloemfontein sou beleef, waar ek haar gevra het om met my te trou. Sy het ingestem en soos dit deur al die jare my gewoonte was, het ek ’n ellelange lys gemaak van al die tersaaklike take wat ons in verband met ons troue en saamwees sou moes uitvoer en afhandel. Ons kon met Marie se byvoegings by die lys alles goed bespreek en gesamentlik ons planne behoorlik oordink en formuleer. Daarna het ek na Pretoria teruggekeer en weer my seuns ingelig. Ek wil graag meld dat Sannie se siening van destyds van ’n opvolger vir haar, presies so gebeur het en so vind my tweede besoek van meer as ’n maand in Desember/Januarie by Marie plaas. My ouers en haar ouers was huisvriende en ek het Marie dus langer as sewentig jaar geken; ons het van tyd tot tyd die afgelope jare sedert ons jongmensdae by Marie en Koos op die plaas aangedoen en oorgebly, veral wanneer ons feitlik jaarliks tot 2016 in Namakwaland gaan blomme kyk het. So het ons altyd ons vriendskapsbande met hulle en later met haar en haar familie behou. Sy het afgesien van al haar take as plaasvrou ook nog tot by aftreeouderdom die vakke Engels, Afrikaans en ook Latyn met Noord-Sotho gedeeltelik in die hoërskole van Wepener, Jagersfontein en Fauresmith tot Matriek vir talle plaaslike leerlinge onderrig. Ek mag seker my eie aandeel aan haar keuse van Latyn as hoofvak vir haar BA-graad en ook van ’n onderwysloopbaan vermeld en ek dink terug aan die aand toe ek as jong onderwyser Marie as leerling (nie in dieselfde skool as ek nie) na die vertoning van die rolprent Julius Caesar in Springs geneem het. Ek en Marie was dus nooit vreemdelinge vir mekaar nie en ek is dankbaar dat sy ingestem het om my eggenote te word en na talle reëlings kon ons te Jagersfontein se gholfklubterrein en klubhuis deur ds Willie Janse van Rensburg, ’n oudleerling van my en wie se ouers ook destyds huisvriende van my en Marie se ouers in Brakpan was, in die huwelik bevestig word. Omdat Marie se een seun wat in Luckhoff op ’n plaas woon, na ’n ernstige siekte nog moes herstel en nie ver kon reis nie, en omdat baie van Marie se vriende en familie in die Vrystaat woonagtig is, het ons besluit om te Jagersfontein in haar eie bekende kring die plegtigheid te laat plaasvind. Ons plan is dat ons binnekort ook hier in Pretoria ’n byeenkoms van ons familie en vriende gaan hou, sodat hulle almal haar hier kan ontmoet. Ons het ook ooreengekom om om die beurt te Pretoria en Bloemfontein te woon, sodat ons ons bande met ons familie en vriende in albei stede en ook haar familie op die plase te Jagersfontein en Luckhoff kan behou, terwyl ek wel hier my woonplek het en Marie ook hare in Bloemfontein. Ek heg ter insae ’n foto van ons plegtigheid aan en beskou dit as ’n eer om weer eens in ons geliefde kontreiblad met ons lesers te praat.”

Advertisement

This article is from: