4 minute read

Plaasaanval - Hoe berei jy jouself voor?

Marilette Bester

Ek is ‘n paramedikus van beroep en ek is ook opgelei as persoonlike lyfwag vir kliënte wat 24 uur beskerming nodig het. In my daaglikse lewe stel ek dus gereeld my kliënte se veiligheid en welsyn bo my eie. Ek werk met mense op die slegste tyd in hul lewe en wat ‘n gewone werksdag vir my is, is soms iemand anders se donkerste dag. Op 14 Desember 2020 het my lewe egter binne ‘n oogwink verander en het my donkerste dag opgedaag. Hierdie is my verhaal. Dit het begin as ‘n gewone Maandag waarop ek regmaak vir werk, omsien na my diere ens. voor ek in my kar klim en werk toe ry. Nadat ek ongeveer 06:20 by die hek uitgery het en besig was om die hek toe te maak, is ek van agter af aangeval deur ‘n man met ‘n slagtersmes en ‘n draadtang. Ek het myself probeer verdedig en alles in my vermoë gedoen om nié my vuurwapen te gebruik nie, maar uit noodweer moes ek my vuurwapen afvuur toe die aanvaller weer op my afstorm. Hy is in die proses gewond en geïmmobiliseer. Na verskeie oproepe deur verskeie mense na die SAPD, het die beamptes eers 36 uur later op die toneel opgedaag. My ervaring was dat hulle toe glad nie begeesterd was om my, ‘n slagoffer van ‘n plaasaanval, by te staan nie. Aangesien ek so lank vir die SAPD op die perseel gewag het, kon ek dus eers twee dae na die aanval mediese hulp ontvang vir my eie beserings. Danksy die reën deur die dag en nag, het die meeste forensiese bewyse boonop verlore gegaan. Daar teenoor is die aanvaller kort na die voorval na die naaste hospitaal geneem vir behandeling van sy wonde. Twee dae na die aanval het die SAPD my vuurwapen gekonfiskeer: sonder lasbrief en sonder om die korrekte prosedure te volg. Ek moes daarop aandring dat die vuurwapen volgens die korrekte prosedure as ‘n bewysstuk aangeteken en in die nodige bewysstuk sak geplaas word. Die beamptes was egter nie voorbereid hierop nie en moes terug ry na hul stasie om die nodige items te gaan haal sodat my vuurwa- pen wel volgens die regte prosedure aangeteken kon word. Nege dae na die aanval, rondom 07:00 die oggend, het ses manlike en twee vroulike SAPD beamptes opgedaag om my te arresteer, sonder lasbrief vir my inhegtenisname. Tydens die arrestasie is ek geïntimideer, geviktimiseer en verkleineer. Hulle het my geneem na Soshanguve SAPD kantoor waar ek in die polisieselle opgesluit is. Daar, ten spyte van my versoek om regshulp, is my prokureur aanvanklik daarvan weerhou om met my te konsulteer. Ek was vir twee dae in aanhouding en moes tevrede wees daarmee om op die koue sementvloer van die sel te slaap met net ‘n nat kombers as beddegoed. Ek het ook vir die twee dae nie kos of water gekry nie wat net nog ‘n verdere vernedering was. Tydens aanhouding is ‘n DNS monster van my geneem en daar is aan my verduidelik dat dit opgeteken word om my aan toekomstige misdade te verbind. Ek, die SLAGOFFER van ‘n plaasaanval word soos ‘n misdadiger behandel! Die volgende uitdaging was om twee dae voor Kersfees genoeg geld bymekaar te maak vir ‘n prokureur en borgtog. Gegewe dat meeste mense reeds met verlof en vakansie is daardie tyd van die jaar, was dit op sigself ’n baie stresvolle ervaring om betyds regshulp te kry. Gelukkig kon ek die nodige hulp kry, borgtog is toegestaan en ek is uit aanhouding vrygelaat. Dan is daar natuurlik die daaropvolgende hofsaak. Soos die hofproses werk, word die saak telkens tydens elke hofverskyning uitgestel. Elke keer wanneer die saak voorkom, gaan ek met vrees en angs die hof binne. Elke keer wonder ek wat wag en wat gaan volgende teen my gebruik word. Elke keer herleef ek weer die aanval en so gaan dit aan vir ‘n volle jaar met hofverskynings elke vier tot ses weke. Baie van ons is trotse Afrikaners en ons staan bymekaar in moeilike en goeie tye. Ons voeg daad by die woord wanneer iemand in nood is. Vir my beteken saamstaan dat ek omgee vir my medemens en dat ons mekaar wedersyds vertrou; dat ek iets doen tot iemand anders se voordeel sonder dat ek enige voordeel put daaruit. Ek is daarom baie dankbaar vir almal wat my tydens hierdie aaklige ondervinding bygestaan het. Ek het egter met hierdie insident weer ervaar dat daar ook mense in ons gemeenskap is vir wie “saamstaan” net mooi woorde is sonder dade. Daar is mense wat mekaar eerder in die rug sal steek as om saam te staan. Na die insident het verkeerde inligting soos ‘n veldbrand versprei. Verdraaide stories is met WhatsApp op gemeenskapgroepe uitgestuur terwyl niemand moeite gedoen het om seker te maak van die feite nie. Dit steek my dwars in die krop om te weet dat party mense ander mense nie meer die sonskyn gun nie, maar eerder wil afbreek en afkraak; dat boodskappe op sosiale media en WhatsApp gebruik word om mekaar onnodig sleg te sê; dat fopnuus doelbewus versprei word om verdere onmin onder mekaar te saai. My boodskap is: NIKS berei jou voor vir ‘n plaasaanval nie. Om met ‘n vuurwapen op jou heup rond te stap op jou plaas, om so nou en dan ‘n paar skote met jou haelgeweer af te vuur, dalk ‘n bietjie teiken te skiet: dit berei jou nie voor vir ‘n plaasaanval nie. Tydens ‘n direkte, persoonlike aanval op jou lewe is daar nie tyd vir ‘n waarskuwing skoot nie. Eers wanneer jy jou vuurwapen uit sy holster moet pluk om jou en jou geliefdes se lewens te beskerm, eers dan besef jy hoe vinnig jy moeilike keuses moet maak. Hoe berei jy jouself voor op ‘n plaasaanval? My ervaring is: jy kan nie. Geen scenario berei jou voor op die onverwagse nie.

Advertisement

This article is from: