Maart 2022
De Wildt Nuus
13
Nagmaal in die ou dae Geskryf deur wyle oom Gielie Barnard (vader van Hanna Scribante), gebore 1916 en in 1998 geskryf. Dit is Aprilmaamd. Dit is Vrydagoggend en Sondag is dit Nagmaal. Die tentwa staan reggetrek voor die plaashuis – skoon gewas en met lynolie gesmeer. Die gesin is besig om die wa te laai. Die tente is al op en die beddens, tafels, en stoele asook die kosvoorraad word aangedra. Die die osse word aangekeer en ingespan. Na ontbyt vertrek die tentwa na die kerkplein, by die groot klipkerk op die plaas De Kroon. Dit is die kerkgebou van die NG gemeente Krokodilrivier waar ds W R Joyce ds van der Spuy as predikant opgevolg het. Vroeg namiddag ry die wa die kerkplein binne. Die tente word opgeslaan en die wa word afgelaai. Almal sit hand by om die kampplek gereed te kry. Al van vroegmiddag af ry waens die kerkplein van al vier rigtings en al vier plaaswyke binne. Almal woel en werfskaf om hulle tente op te slaan. Teen sononder is die kerkplein rondom die klipkerk omskep in ‘n wit tentedorp. Daar word oral rond gekuier en gesels tot laat. Saterdag word van vroeg af gewoel want daar word basaar gehou. Dit duur die hele voormiddag. Sterdagmiddag word dit meer stemming, want drie uur begin die voorbereidingsdiens. Die katkisante word tydens die diens voorgestel. Die aand om sewe uur volg ‘n gemeentevergadering om verslag aan die gemeentelede te doen. Op Sondag word die hoogtepunt bereik wanneer Nagmaal gevier word. Die diens begin om tien uur en duur tot 12 uur. Die kinders het die kinderdiens, wat om 2 uur begin het, baie
geniet. Die diens is deur meneer Visser, hoof van De Kroon skool, gelei. Om 3 uur het die nabetragtingsdiens begin. Die naweek se verrigtinge het dan die aand om sewe uur met ‘n afsluitingsdiens geëndig. Maandagoggend word die tente afgebreek, opgeslaan, die wa word gelaai en die terugtog huis toe het begin. Hierdie weergawe is soos ons dit self in ons kinderjare voor 1930 ondervind het.
‘n Soortgelyke nagmaaltoneel in Bronkhorstspruit