Oktober 2021
15
De Wildt Nuus
HULDEBLYKE
Manie Lemmer
GERT JACOBUS PRINS * 21.07.1947 † 29.07.2021† Ek het nog ’n maand of twee voor sy heengaan saam met Gerrie, soos ek hom geken het, na die byeenkoms van die De Wildt Boerevereniging gery en skielik is hy onverwags deur die Covid 19 van ons weggeneem, nie baie lank na die dood van sy eggenote, Malie, nie. Ek en my eggenote, Sannie, het hulle jare gelede toe hulle hier in ons gebied kom woon het, ontmoet toe ons gereeld Bybelstudiebyeenkomste gehou het. Hulle het ook die byeenkomste bygewoon en ons het mekaar beter leer ken. Later het hy gesorg vir die ingeboude kaste in ons woning te Wildebeesthoek en hy het selfs ’n netjiese kombuisrakkas vir ons seehuis by Banana-strand naby Port Shepstone gemaak nadat hulle een keer aldaar vakansie gehou het. Gerrie het baie dinge gedoen: Hy was jarelank lid van die Boerevereniging en die laaste aantal jare ook lid van die bestuur; hy was een van die eerste lede van die De Wildt Helpmekaar Maatskappy toe ons hierdie inwonersmaatskappy in 2000 gestig het en hy het lank saam met my op hierdie maatskappy as direkteur gedien. Daarbenewens het hy saam met sy kasbedryf ook ’n boerdery in die kleine begin en hy het as ek reg onthou die laaste jare stoetbeeste aangehou. Wanneer die paaie nie meer maklik rybaar was nie, het Gerrie gesorg vir die skraap en regmaak van hulle pad en ook by die Jopie Fourie-terrein het sy grassnyers en trekker asook sy vragmotor vir menige taak aldaar gesorg, veral voor ons Geloftefeeste en hy en sy gesin was altyd gereelde feesgangers elke jaar. Ook by hulle kerk het hy saam met sy gesin hulle kant gebring. ’n Gedenkdiens is op 6 Augustus vir Gerrie in die NG Gemeente Krokodilrivier, Brits gehou en dit is waargeneem deur ds Pieter Badenhorst met skriflesing uit 1 Johannes 3:11, 18 - 24 en 1 Jo-
hannes 4: 7 - 19 met die temavers hoofstuk 4: 19. Aldaar het mnr Phil Louw, voorsitter van die De Wildt Boerevereniging, ’n huldeblyk gelewer. Hy en ook sy eggenote was waarlik ’n jarelange aanwins vir ons gemeenskap en ons sal hom nou ook saam met sy kinders en kleinkinders mis. Ons gun Gerrie hierdie begin van ’n ewige lewe sonder pyn en probleme en ons bede vir vertroosting gaan uit na al sy naasbestaandes.
BURT TERBLANCHE * 05.10.1936 † 09.08.2021 Nog ’n bekende vriend en inwoner is onlangs uit ons midde weggeneem. Burt het lank reeds erge pyn verduur en hy moes meestal van ’n rolstoel gebruik maak. Ten spyte van al die pyn en teenspoed was hy nog altyd blymoediig en hy het nie maklik van gemeenskapsaktiwiteite weggebly nie. Sy eggenote, Elize, en hulle kinders het in die begrafnisbrief net met groot lof van Burt gepraat en waardering betuig vir die voorbeeld in woord en daad wat hy vir hulle gestel het en vir die lewenslesse tov respek en onbaatsugtigheid. Soos Burt dit gestel het, kan jy respek slegs deur die lewe wat jy lei, verdien en nie deur dit te probeer afdwing nie en dat jy ryk is deur jouself te gee “ongeag” en nie “omdat” nie. Ek onthou hoe ek en my eggenote en hy en sy eggenote in die vroeë jare van hierdie eeu die ontvangs en bevestiging van ’n gesamentlike vriend, proponent Louis Wiid, seun van oom en tannie Wiid wat jarelank ook inwoners van ons gebied was, in Secunda bygewoon het. Ons het na die verrigtinge in die aand daarvandaan terug vertrek in ons twee motors in redelike kwaai stormweer. Ons het mekaar se motorligte maar dopgehou en gelukkig het albei motors veilig tuis gekom. Burt was telkens oor ons veiligheid bekommerd. So het ek hom geken, as mens wat vir sy medemens omgee. Burt is op 16 Augustus na ’n diens in die NG Kerk Dalunie, waargeneem deur prof Danny Nel van die APK, in die Mamogaleskraal Begraafplaas begrawe. Prof Nel se skriflesing was uit 2 Korin-
thiërs 5: 1 - 10 en die temavers was 2 Kor 5: 1. Ons sal Burt saam met sy naasbestaandes onthou en ook sy teenwoordigheid hier mis maar ons vind vertroosting in die wete dat Burt nou veilig en sonder pyn die ewige lewe begin het. Sterkte aan al sy naasbestaandes en vriende toegebid.