
2 minute read
Ons Ma se Mark
from DWN Okt 2021
Oktober 2021 De Wildt Nuus
ONS MA SE MARK
Advertisement
Rina Bester
ONS MA SE MARK in samewerking met Mmakau GPF Sektor 1 se potjiekos dag Na twee maande se beplanning het 31 Julie uiteindelik aangebreek vir al ons uitstallers asook die 15 potjieinskrywings met al hulle kokke by afrit 136 op die R513 De Wildt. Die weer was heerlik en die gees het hoog geloop op die hele terrein. Die markie bestaan reeds geruime tyd en is spesiaal deur DWHM gestig vir ons inwoners om entrepreneurskap in De Wildt te bevorder. Talle besoekers was verras met wat uitstallers aangebied het en uitstallers is ook baie goed ondersteun. Die woord wat ek kort-kort gehoor het is dat daar ’n wonderlike “buzz” was en ieder en elk het die dag baie geniet. Meeste besoekers het heeldag saamgekuier en ons hoop om julle met ons volgende markte weer daar te sien. Ons beoordelaars was drie baie bekende dames in ons omgewing nl tannie Georgie Louw, Neeltje Louw en Sandy Roberts van die bekende Margaret Roberts-kruieplaas in ons omgewing. Sandy het ook vir ons die 3de prys geskenk, asook vir elke deelnemer ’n geskenk. Die jagluiperdsentrum het vir ons die 2de prys geskenk en die 4 x 4 Baan op De Wildt het die 1ste prys geborg. DWHM het die wenner se trofee geskenk en Contour Laser Designs het
vir vir elke deelnemer n mooi trofee gemaak. Ek beskou elke deelnemer as ’n wenner in eie reg en van hulle het groot uitgawes aangegaan, maar die pryse is soos volg toegeken: 1ste prys: Tanya van Rooyen met haar heerlike Hoenderpotjie in roomsous 2de prys: Philip en Forona Kruis met hulle fantastiese Beesstertpot 3de prys: Kobus Grobler met sy Kinkel Bospot Ek bedank graag elke persoon wat bereid was om ’n pot te maak. Almal wat gehelp het met hout en braaiers aanry, die springkasteel en die lekker gees wat onder almal geheers het. Die vleis- en hoenderskenkings wat ons ontvang het asook al die dames wat nageregte geskenk het. Ons beoordelaars wat kleur aan die dag gegee het en dan aan elke persoon wat ’n R50 bord gekoop het. As gemeenskap het ons deur hande te vat uitstekend in ons doel geslaag om fondse in te samel vir die Mmakau GPF Sektor 1 se lede en dan ook om ons markuitstallers te ondersteun. In hierdie uitdagende tye leef ons almal saam met Covid-beperkings, eko- nomiese uitdagings en boonop misdaad en die brande tans waarop mens dag en nag bedag moet wees. Vir een Saterdag kon ons mekaar net weer in die oë kyk en nuwe inwoners ontmoet. De Wildt is bekend vir sy raakvatinwoners en dit was 31 Julie weer opmerklik. Datums en temas vir ons opkomende markte is soos volg: 2 Oktober bied ons ’n Planteskou en plantpraatjies aan 30 Oktober gaan ons weer groot met ’n Hoenderbraai ten bate van GPF Mmakau Sektor 1 4 Desember vind ons Kersmark plaas Navrae per WhatsApp 0711106907 of 0817800426


R1 000
