12
Oktober 2021
De Wildt Nuus
GEDIG UIT SANNIE LEMMER SE ONGEPUBLISEERDE DIGBUNDEL: INTERAKSIE
VANDALE SE VERNIETIGING VAN KULTUURGOEDERE
Ek glo dit was seker ongeveer drie jaar gelede dat ek en Sannie gemelde digbundel probeer redigeer het vir publikasie. Haar siekte en bykans twee jaarlange lyding voor haar dood toe sy nie self kon loop nie, ook nie kon sien nie en geen gevoel in haar voete en hande gehad het nie, het hierdie bundel agterweë laat bly, met my belofte dat ek nog die bundel verder sal nagaan en laat publiseer. Eienaardig genoeg het ek nie destyds die eintlike waarde en rede vir hierdie onderstaande gedig raakgesien nie. Sannie het my ook nie toe daarop gewys dat dit haar eie visie vir haar verdere lewensloop was nie. Toe ek ’n paar maande gelede deur hierdie bundel begin blaai met die oog daarop om te sien hoeveel ek nog daaraan moet doen, het hierdie gedig my getref as synde haar geestesoog se prentjie vir haar eie lewe vorentoe. Ek plaas dit graag sodat lesers daarin kan deel. Lees gerus ook Jesaja 42: 16. - Manie Lemmer
My woorde oor C Louis Leipoldt se graf in die Pakhuispas naby Clanwilliam was nog byna nie klaar geuiter nie of ek moet verneem dat vandale die koperplaat by sy graf uitgebreek en gesteel het. Dit nie lank nadat genl De la Rey se standbeeld van brons uit Lictenburg weggesteel is nie en pas met ’n soortgelyke beeld van beton vervang is. ’n Mens wonder of hierdie vandale werklik wettige inwoners van ons land is en of hulle dan geen lewenswaardes ken of geleer het nie. Ons vier erfenisdag en probeer om trotse burgers van ons mooi land te wees, maar die vlieë in die apteker se salf treiter ons aanhoudend. Steel hulle nie, breek hulle af en strooi rommel so ver hulle gaan. Ons sien uit na die dag dat hier nie meer onwettige mense in ons land toegelaat word nie en dat ons almal weer trots sal wees op hierdie land as daar weer tot die netheid en betroubaarheid van die verlede teruggekeer kan word. Daarvoor het ons behoorlike wet en orde nodig met ’n polisiemag wat onwrikbaar wetteloosheid en wanorde bestry.
VREEMDE PAAIE Haar genadige hemelse Vader lei haar op vreemde paaie hobbelrige paaie waar geen toon gestamp word nie Hy hou haar hand Laat haar sien Laat haar hoor Laat haar ruik En so is hy hy lei haar sodat sy veilig loop hy is haar voete hy is haar hande haar gehoor hy antwoord soms namens haar. Sy het nooit kon droom dat hy die man met vuur so geduldig sou wees nie. Daarvoor dank sy hom met liefde in haar hart en haar Vader wat hom aan haar gegee het.
Manie Lemmer
NAAMLOSE /ANONIEME ARTIKELBYDRAERS Manie Lemmer Die redaksie wil graag aan die mense wat tot die inhoud van ons blad bydra, die nodige erkenning gee en moontlik ook by hulle aanklop vir meer artikels, maar met anonieme mense kan ons ongelukkig nie praat nie. Probeer dus om nie vir ons artikels as anoniem of onder ’n skuilnaam aan te stuur nie. Ons lesers se samewerking sal waardeer word.
DOEL VAN HULDEBLYKE IN DE WILDT NUUS Manie Lemmer Die doel van huldeblyke in ons blad is om erkenning te gee aan lojale inwoners wat in die meeste gevalle jarelank alhier gewoon en ook hul kant in die onderskeie organisasies van ons gebied gebring het. Ons moet egter versoek dat rou- of begrafnisblaadjies by DWHM se kantoor besorg word of dat ons minstens van iemand uit ons woongebied of selfs uit ons adverteerderkorps se oorlye ingelig sal word. Ons het pas ’n dag of twee gelede verneem dat een van ons senior inwoners reeds op 18 Desember 2020 oorlede is, sonder dat iemand ons daaromtrent ingelig het. Ons lesers word vriendelik versoek om ons in hierdie selfopgelegde taak behulpsaam te wees.