Oktober 2021
De Wildt Nuus
BYBELSTUDIE 2021
BETAAL JOU GELOFTES (5) Manie Lemmer Lees die volgende in die Woord asb: Genesis 3, die Psalms met ’n belofte/versekering, Mattheus 28 en Handelinge 1. Wanneer ons lesers daagliks hul Bybestudie doen, teken gerus aan oral waar ons God se belofte/versekering lees. Waar dit vir ons talle bewyse sal aandui, het ons as mense slegs ’n paar beloftes wat ons moet onthou en hou: Geloftes wat deur ons voorouers teenoor God uitgespreek is, ons Belydenisaflegging, Huweliksbelofte en Doopbeloftes tov ons kinders. Ons kan hierdie beloftes slegs nakom as ons die krag van God deur sy Gees ontvang en vir hierdie krag het ons die voorreg om daarvoor in gebed te vra.. Ek vind dit telkens opvallend dat ’n mens God se beloftes, Sy versekering en moed-inpraat oral in Sy woord raaklees. Hou dit maar self dop, of jy nou in die Ou Testament of die Nuwe Testament lees. Ook waar Hy in regverdigheid sy volk straf en strawwe teenoor hulle uitspreek en dit wel ook uitvoer, laat Hy hulle nie maar net alleen nie en telkemaal kondig die profete en God se spreekbuise weer aan dat daar hoop en uitkoms sal kom. Ons weet dat God se raadsplan vir verlossing van hulle wat glo reeds uitgevoer is toe Hy sy enigste Seun, Jesus Christus, as offer in die plek van sondaars wat glo, gegee het; dat alle mense as sondaars sedert die sondeval in die Paradys nie uit eie
verdienste gered kan word nie, maar slegs deur God se genade en raadsplan. Behalwe die pertinente beloftes en versekerings deur God het Hy in die Ou Testament eers deur rigters en profete Sy volk laat lei en onderrig, en in die Nuwe Testament weer deur die apostels wat Jesus hier op aarde gevolg het en na Sy hemelvaart die taak gehad het om die Goeie Boodskap so ver moontlik te versprei. Wat word van ons as verloste sondaars verwag? Om die opdrag aan die apostels in Mattheus 28:19 en Handelinge 1: 8 uit te voer, nl om die Evangelie of Goeie Boodskap van verlossing aan ons medemense te verkondig en die drie-enige God te eer en te dien. Al is ons nie almal opgelei om in alle opsigte ons medemense in hierdie opsig te lei en te help nie, het ons hemelse Vader Sy Heilige Gees gegee om ons te lei en te onderrig. As ons soms vashaak, weet ons dat ons die anwoord deur die Gees uit die Woord sal raaksien of dat Hy vir ons op Sy eie manier ons duidelik sal lei wat ons te doen staan. Sy belofte is dat Hy ons nooit in die steek sal laat (begewe) nie. Kyk Hebreërs 13. Vergeet ook nie Christus se beloftes ivm Sy wederkoms en Sy taak as Bemiddelaar en Voorsiener van wonings vir Sy volgelinge in die hemel nie; daarvan verseker die vier Evangelies ons.
11