3 minute read

Magaliesbergreeks

Next Article
VLU Nuus

VLU Nuus

Die ontstaan en vorming van die Magaliesbergreeks (2)

Kom ons draai die tyd ver terug en kyk hoe die Magaliesbergreeks inderwaarheid ontstaan het. Volgens berekeninge het die wêreld so ongeveer 2,300 miljoen jaar gelede heel anders gelyk as wat dit nou in ons tyd lyk. Ook hier by ons het die aarde heel anders gelyk. Afrika het nie sy vorm gehad soos ons dit nou ken nie en was rofweg die middelste gedeelte van die landmassa Gondwanaland waar Suid-Amerika, Afrika en ook Australië een groot superkontinent was. Waar Gauteng, Noordwes en Limpopo vandag is, was daar ‘n groot vlak reuse-meer. Die oewers van die reuse-meer het bestaan uit graniet van meer as 3,000 miljoen jaar oud. Die graniet is weggevreet deur atmosferiese chemiese stowwe, terwyl storms en korrosie stukkies granietstof in die water laat beland het. Oor miljoene jare het die partikels op die bodem, genoem die Basis- kompleks van die meer,’n neerslag gevorm en het ‘n laag sedimentêre rots gevorm wat bestaan uit wit kwartsietklippies, sand en silt of modder. Dit staan bekend as die “Swart Rif”. Dit is dus die eerste laag wat gevorm is. Soos die tyd aangestap het, het ‘n tweede laag sediment of afsaksel bo-op die Swart Rif gaan lê in die waters van die vlak meer. Primitiewe blou-groen alge het gevorm in die soutwaterafsaksel. Dit het verbind met die silika-deeltjies, wat weer afkomstig was van die opgeloste granietdeeltjies waarvan ons vroeër melding gemaak het. Dit het op sy beurt weer ‘n koolstof-neerslag neergelê. Enorme hoeveelhede materiaal is so laag op laag neergelê en saamgepers verskeie kilometers diep bo-op die Basis-kompleks. Die soutwater het ‘n diep afsaksel, wat hoofsaaklik organiese stowwe is, gevorm. Dit het op sy beurt weer dolomiet en semi-oplosbare kalksteen gevorm. Waar varswater in die meer gevloei het agv reën, het groot hoeveelhede silika-materiaal veroorsaak dat ‘n minder oplosbare rots, nl. Chert gevorm het. So het lae dolomiet en chert soos toebroodjies gevorm en gesamentlik Malmani-dolomiet gevorm. Alge is gefossileer deur die jare in die laag. Dit moet gesien word as die tweede laag van vorming. Ons moet ook onthou dat hierdie vorming oor miljoene jare heen plaasgevind het. Miljoene jare nadat die dolomiet en chert gevorm en verhard het, het water deur die lae gesyfer en die dolomiet opgelos en ondergrondse grotte gevorm. Dit het groot ondergrondse water- reservoirs of akwafere gevorm. Nog steeds het laag op laag sediment op die groot vlak meer se bodem gevorm. Waar daar langdurige droogtes was, het daar geen lae gevorm nie en het dit meegebring dat daar nou ‘n nuwe laag gevorm het, nl. die Pretoria-groep. Die groep bestaan uit alternatiewe lae van kwartsiet en skalie of leiklip-olie. Die kwartsiet is afkomstig van die meerstrand van die genoemde meer, wat in die meer ingewaai of gespoel is en is van baie hoë kwaliteit. Gedurende die natter periodes het modderagtige silt bo-op die silika gedeponeer en druk en temperatuur het die kwartsiet laat kristalliseer. Kwartsiet en skalie vorm hier dus die derde en vierde laag. Vir 300 miljoen jaar het die proses voortgegaan en kan die 4 duidelike stadiums vandag onderskei word. Dit het tot 7 km diep gestrek en die diepste en oudste deel staan bekend as die Time Ball Hill-formasie wat begin by Salvokop agter die Pretoria-stasie. Bo-op die Time Ball Hill-formasie lê die Daspoort-, Magaliesberg- en Smelterskop-formasies. Dit is die vier stadiums waarvan ons vroeër melding gemaak het. Die Magaliesberg-neerslag was baie diep, terwyl die Smelterskop-neerslag ‘n vlak reeks van alternatiewe lae van dun kwartsiet en skalie was. Hierdie reeks is na miljoene jare na hul vorming blootgelê en is so dan blootgestel aan die atmosfeer. As gevolg van die hardheid, het dit stadiger gekorrodeer en vorm dit vandag die kranse en riwwe van die Magaliesbergreeks. Die kubusagtige vorm van die kwartsiet is ‘n karakteristieke kenmerk van die blokke wat soms skei en wegbreek van die basisrots.

Advertisement

This article is from: