
3 minute read
‘n Betekenisvolle boom
Phil Louw
Advertisement
‘n Oplettende mens kan nie anders as om in verwondering te staan as hy na die ryke verskeidenheid bome in ons land kyk nie. Elke gebied, elke terrein het sy eiesoortige bome. Kleurvol en kleurryke karakters op ons landskap. Ja, op berge en in dale, ja oral is God se skepping te sien. Maar wat is ‘n boom nou eintlik? ‘n Boom? Wat ‘n vraag! Iemand het so daarop gereageer: “A tree is a seed that took a stand.” Sade? Sade wat ‘n lêplek kry, plek inneem en iets word, word die verhaal van sade. In werklikheid gaan daar ‘n klomp sade tot niet. Party lê net en het op klip geval. Hulle ontkiem, maar verdroog. Ander versuip. Ander ontkiem maar lê bo-op die grond en verdroog. Ander groei, maar brand dood. Klomp redes waarom dit nie tot volwassenheid ontwikkel nie, maar teen die tyd wat dit boom geword het is dit een met getuienisse, en het dit waarskynlik ‘n klomp aanslae oorleef. My vriend/vriendin, as jy “groot” geword het, dalk 60 verby is, dan het ek baie respek vir jou. Dan beteken dit jý is “A tree that took a stand”. Dan het jy ‘n storie om te vertel, ‘n getuienis. Maar, dan vertel dit ook dat jy gespaar was, sodat jy koelte kan gee, takke het waarop voëls kan sit en nesmaak, vrugte kan dra vir almal om te sien en daarvan te kan eet, hout het wat gebruik kan word, en ‘n karakter het wat eie is. Pragtig gevorm, eiesoortig en uniek. Jy is gesoek, ‘n uitgekose saad wat ‘n BOOM geword het. Jy is spesiaal gespaar tot nou toe, met ‘n doel om bruikbaar en diensbaar te kan wees. Dat jy vrug sal dra, koelte sal gee, en ander met jou gawes sal dien. Ek bid dat jy nie net sal staan en wag dat jou tyd verby gaan nie maar dat jy jou waarde sal herken, en wys, en sal uitleef. So ‘n boom staan nie alleen nie en kan gelukkig wees volgens Jeremia 17:7-8. “Maar gelukkig is dié mense wat op die Here vertrou en hulle verwagting in Hom stel. Hulle is soos bome wat langs ‘n rivier staan. Hulle wortels reik diep tot by die water. Hitte bedreig hulle nie, en hulle blare bly groen. . . Hulle hou nie op om vrugte te dra nie.” Die profeet Jeremia gebruik hier pragtige beeldspraak: Hy stel God voor as ‘n waterstroom en skryf oor twee verskillende groepe mense. Aan die een kant is die mense wat nie op God vertrou nie soos woestynbossies sonder ‘n vooruitsig vir die toekoms. Sulke mense woon in ‘n dorre plek, op soutvlaktes waar niemand kan oorleef nie. Maar mense wat wel op God vertrou, is soos bome wat langs ‘n rivier staan, wie se wortels tot diep by die water reik. Hitte het geen uitwerking op hulle nie, omdat hul blare groen bly en hulle aanhou om vrugte te dra. Jeremia waarsku dat God mense se harte deursoek en aan almal sal gee wat hulle toekom. Watter deel van die gelykenis is op jou van toepassing? Vertrou jy al op die Here en is jy soos ‘n boom wat langs waterstrome geplant is, wat die hele jaar genoeg water het en blywende vrugte dra omdat jy in God geanker is? Of is jy steeds ‘n droë bossie wat in ‘n woestynagtige, onherbergsame omgewing moet oorleef omdat jy dit nie kan regkry om op God te vertrou nie? Moenie langer wag om jou vertroue aan God te anker nie. Hy sal sy strome van seën oor jou uitgiet sodat jy vir die res van jou lewe die vrug van sy Gees in jou lewe sal kan vertoon.