
2 minute read
Agter die skerms
Direkteur Risikobestuur Wanneer jy die TV aanskakel en na ‘n program kyk, in ‘n rolprent teater sit en wag vir die nuutste fliek of ‘n optrede by ‘n gekose plek, wag jy vir iets om jou weg te neem van die huidige realiteit. Weet jy hoeveel werk moes ingaan om die eindproduk te lewer? Hoeveel ure aan repetisie spandeer is en hoeveel keer elke toneel oor en oor geoefen moes word... Min mense weet wat “agter die skerms” gebeur by DWHM. Meeste verkies om nie te weet nie, sommige wil nie vra nie en ander het geen idee. Tog loop die dag-tot-dag-operasies soos ‘n goed geoliede masjien wat nooit stilstaan. Radiobeheer (L2 en L3) verseker dat die radio deur die aand beman (in dié geval beVROU) word indien enige bystand benodig word. Ons het twee dames wat mekaar soomloos aflos sodat beide tyd het om ook hulle eie ding te kan doen. Want altwee het kinders en iemand spesiaal in hul lewe. Tog, wanneer hulle aan diens is, sal hulle altyd die radio antwoord as iemand roep of die WhatsApp en foon wanneer iemand hulp nodig het. Naweke, vakansiedae, dag of nag. En alhoewel baie mense mag dink “dis hulle werk” word daar baie meer gedoen. Boodskappe van ongelukke word deurgegee, beurtkragskedules, raad word gesoek vir iemand anders wat raadop is met krag en soveel meer alles ten spyte van ‘n kleuter wat huil of ‘n siek kind. Dus is dit nie “net hulle werk” nie, dit is mense... soos ek en jy. Alfa 10 (A10) is die basis bestuurder wat saam met Working on Fire die eerste linie van brandbevegting is. Mark beweeg saam met die span op die brandlyn en maak seker dat alles glad verloop. Hy gaan ook na ure uit as daar brande is en verseker dat alles glad verloop, en dit boonop met sy eie vervoer. Mike Kilo 1 (MK1) help met Radiobeheer deur die dag en beman die kantoor. Van kraglesings instuur na Tshwane, kommunikasie met stadsrade oor diens- lewering (of die gebrek daaraan), briewe tik om mynaansoeke teen te staan, hulp om krag te koop, selfoonopdate- rings doen vir die wat nie gemaklik voel met die fynere tegniese dinge nie, en is sommer die algemene “Google” vir De Wildt. Gedurende die brandseisoen is MK1 ook die kontakpunt en waar die koördinering tussen Working on Fire, die basis bestuurder en die lede waar die brand is, plaasvind. Baie keer is dit take wat nie “kantoorure” het nie. So volgende keer wat jy ongeduldig raak met die krag wat af is, ongelukke op ‘n pad, of beurtkrag... onthou net dat daar mense agter die skerms werk wat verseker dat al hierdie inligting jou bereik. En onthou, voor daar klippe gegooi word, dat die inligting deurgegee word soos dit ontvang is. Die gesegde wat sê: “don’t shoot the messenger” is dalk iets wat in elkeen se agterkop moet wees.

Advertisement