Grade 5 Handleiding Lewensvaardighede

Page 11

Handleiding G05 ~ Lewensvaardighede

VOORWOORD Baie welkom in graad 5! Die vak lewensvaardighede dra daartoe by om jou as leerder as geheel te ontwikkel. Dit beteken dat dit jou leer van baie verskillende dinge sodat jy op fisiese, intellektuele, persoonlike, emosionele en sosiale vlak jou volle potensiaal kan bereik. Jy word toegerus met kennis en vaardighede om jou te help om as volwaardige mens in die samelewing te kan funksioneer. Die vak moedig jou aan om lewensvaardighede te ontwikkel wat jou sal toerus om op doeltreffende wyse die aanslae van die samelewing te hanteer. Jy sal ook dan ’n aktiewe en verantwoordelike rol in die samelewing kan speel. Lewensvaardighede as vak bestaan uit drie afdelings: • Persoonlike en Sosiale Welsyn (PSW) • Liggaamlike Opvoeding (LO) • Skeppende Kunste (SK) Die handleiding is só saamgestel dat die drie afdelings inmekaar vloei. Die LO-aktiwiteite is dus nie agter in die handleiding geplaas nie, maar word by elke kwartaal se werk ingesluit. Jy en jou fasiliteerder kan wel die lesinhoud aanpas soos wat julle goeddink, maar julle moet seker maak dat AL die werk deur die kwartaal gedek word. Indien jy byvoorbeeld een LOles ’n week wil kry, kan jy. Persoonlike en Sosiale Welsyn leer jou hoe om op te tree in die verhouding tussen jouself en jou omgewing en gemeenskap. Dit gee aan jou die lewensvaardighede om ingeligte besluite te neem ten opsigte van die alledaagse lewe. Dit sluit ook besluite in oor jou persoonlike leefstyl, gesondheid en sosiale welsyn. Dit sal jou help om moeilike situasies te kan hanteer. Dit fokus veral op drie onderwerpe: • Ontwikkeling van die self • Gesondheids- en omgewingsverantwoordelikheid • Sosiale verantwoordelikheid Liggaamlike Opvoeding fokus op fisiese ontwikkeling. Jy leer van gesonde eet- en oefengewoontes sodat jy gesond en fiks kan wees. Die laaste deel is Skeppende Kunste. Dit stel jou bloot aan dans, drama, musiek en visuele kunste. Dit help jou om jou kreatiwiteit te ontwikkel en uit te brei. Skeppende Kunste fokus op die volgende drie aspekte: • Visuele geletterdheid • Ontwerpe in 2D • Ontwerpe in 3D Al die formele assessering kan in die portefeuljeboek gevind word.

9

© Optimi


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.