
2 minute read
AKTIWITEIT 5
1.4 Lees oor aktiwiteite en aksies wat positiewe selfbeeld bou
Lees die artikel.
Bou jou eie selfbeeld
Al is dit so dat ’n groot gedeelte van jou selfbeeld gevorm word deur wat ander mense van jou dink, hoef jy nie altyd te wag tot jou ouers, onderwysers of maats iets goeds vir jou sê nie. Uiteindelik is jy die enigste een wat kan bepaal hoe jy regtig oor jouself voel.
Vier self jou oorwinnings
Jy ken jouself die heel beste. Jy weet waarvoor jy bang is of wanneer jy iets regkry wat jy nie voorheen kon nie. Dit hoef nie altyd iets groots soos volpunte vir ’n toets te wees nie. Vier ook jou klein prestasies, soos die som wat jy vir die eerste keer reggekry het, jou grappie wat jou maats laat lag het of die krieketwedstryd wat jou span gewen het.
Dis nie nodig om ’n goue sterretjie op jou voorkop te kry nie, maar jy kan aan die einde van die dag sommer in jou dagboek neerskryf wat jy reggekry het. Iets wat jy altyd kan lees wanneer jy sleg oor jouself voel.
Raak lief vir jou voorkoms
Het jy al ’n fliek gekyk en gewens jy lyk soos een van die hoofkarakters? Of na jou maatjies se profielfoto op WhatsApp en gewens jy het ook perfekte hare gehad?
Die waarheid is dat dinge nie altyd is soos dit lyk nie. Met selfoon- en rekenaarprogramme kan foto's so verander word dat almal mooi genoeg is om op die voorblad van 'n tydskrif te wees. Dink hoe vervelig sou dit wees as almal dieselfde gelyk het.
Gaan kyk na jou familie as jy weer keer ongelukkig oor jou lyf of voorkoms is. Jou gene is die grootste bepaler van hoe jy lyk. As jou ma of pa lank is, gaan jy waarskynlik ook lank wees. Waar ander kinders begeer om ook lank te wees, voel jy miskien soos ’n reus as jy altyd in die agterste ry moet staan wanneer daar foto’s geneem word. Daardie einste lengte wat jou so skaam maak, is die bewys dat jy behoort en deel van ’n familie met lang mense is.
Om ’n goeie selfbeeld te hê, lê in jou hande. Vervang elke “kan nie” na ’n “kan”. Almal op hierdie aarde is goed met ten minste een ding – jy moet net uitvind waarmee jy goed is.
AKTIWITEIT 5 Beantwoord die volgende vrae.
1. Waaraan skryf Nielda haar sukses toe? 2. Was sy ook ’n uitblinker op ander gebiede? 3. Wat, dink jy, is Nielda se sterk punte? 4. Wat was vir Nielda die hoogtepunt van haar skoolloopbaan? 5. Wat beplan sy om te gaan studeer?