
6 minute read
STAATMAKER .303
Deur Awie Pelser
Ja, daai ou staatmaker .303 is reg vir jag en als. Of dit bosveld, vlakte of skietbaan is, hy is reg. Die vraag onstaan dikwels of dit die moeite werd is om ‘n .303 sportief te maak en aan te wend vir jagdoeleindes. Kom ons besin oor ‘n paar faktore wat in ag geneem moet word voor so ‘n besluit geneem sou word.
Advertisement
Eerstens moet die loop nog in ‘n goeie toestand wees. Enige wapensmid kan die meting vir jou doen en aanbeveel of dit die moeite werd gaan wees of nie. Indien die loop vervang moet word gaan dit te duur raak en moet jy in elk geval weer die prosedure volg vir lisensieëring. Veronderstel die loop is in ‘n goeie toestand kan jy begroot vir so R3500 – R6000 vir die vervanging van die kolf en verwydering van visiere. Die loop kan ook korter gesny word na 20 duim en moet dan weer gekroon word. Die prys van ‘n teleskoop hang af van die jagter se sak. Dus, as jy jou sommetjies gemaak het raak dit duidelik dat jy dalk vir dieselfde geld ‘n nuwe vuurwapen kon koop. Maar kom ons veronderstel jy is passievol, soos ek en wil ‘n .303 gebruik, agv. sentimentele waarde. Jy het dalk klaar so ‘n wapenlisensie, of wat ook al jou redes is. Persoonlik gebruik ek my .303 vir als en nog wat. Ek sien dit as ‘n uitdaging. Dit is egter van groot belang om sukses te bereik.
Bosveld
Ek gebruik my .303 met tye in die Bosveld omdat hy maklik hanteer onderdeur die bosse as gevolg van die verkorte loop. Ek laai 180 gr Sierra Game King punte met S341 dryfmiddel. My teleskoop is ‘n 3 – 9 x 40 vergroting wat goed werk in die omstandighede. Aangesien die .303 nie sulke hoë snelhede het soos van die ander kalibers nie, is


die vleisskade dikwels baie minder wat dus ‘n pluspunt is. Ek het al verskeie spesies in die Bosveld gejag wat insluit Rooibok, Vlakvark, Blou Wildebees en Koedoe.
Vrystaat vlaktes
Omdat dit my eerste jaggeweer was het ek my .303 ook aangewend vir vlaktewild soos Springbok, Blesbok, Swart Wildebees, Gemsbok en Eland. Dit is belangrik om te weet hoeveel die koeëlpunt val oor verskillende afstande. Indien jy vooraf die teleskoop kan zero op 200 meter, dan kan jy kyk hoeveel die punt val op 250 meter om jou sodoende te help vir ingeval jy ‘n skoot oor so ‘n afstand sou neem. Jy sal verbaas wees hoeveel jou koeëlpunt laer tref oor so ‘n ekstra 50 meter. Persoonlik verkies ek skote van nie verder as 150 m – 200 m nie maar jy weet nooit wat op jou wag nie. ‘n Elektroniese afstandmeter is ‘n goeie belegging en skimp maar gerus vir een as ‘n geskenk, aangesien dit jou baie kan help met effektiewe afstandbepaling en sodoende kan dit bydra tot effektiewe skootplasing. Dit kan die verskil tussen mis en kwes wees en as jy ‘n bok gekwes het en hy hardloop die vlaktes in, dan klink daai “Range finder” se prys ewe skielik goedkoop.
Oos-Kaapse Berge
Hier moet jy in ag neem dat jy enige afstand kan skiet, en daarmee bedoel ek van 30 m tot 250 m. Ek het my lading verander vir die omstandighede na ‘n 150 gr Hornady punt gelaai met S341 dryfmiddel. Omdat ek weet baie van die skote oor lang afstande sou wees het ek maar naby aan die maksimum grens gelaai. Hou maar dop vir tekens van druk en wees versigtig. Spesies wat ek hier gejag het was onder andere Koedoe, Rooi Ribbok, Takbok, Bosbok, Duiker en Rooi Hartebees. Die 150 gr punt het goed gevaar op al die spesies. Rifle Association Of South Africa) skiet ons oor afstande van 100 m, 200 m en 300 m. Die kombinasies van ladings is so wyd soos die Vader se genade en kom dit maar neer op persoonlike keuse en die kombinasie wat vir jou werk. Ek koop goedkoper punte vir skyfskietdoeleindes aangesien ek nie my duur punte op ‘n papier wil gaan uitskiet nie. Dit het nie veel invloed op die akkuraatheid nie en werk goed vir my solank ek by dieselfde grein punt hou. As jy ou weermagammunisie kan bekom kan dit ook gerus hier aangewend word. Dit gesê .303 ammunisie kom al van die jare toet af aan en as jy dus rondtes kry wat met kordiet gelaai is sal jy maar sukkel. Jy trek die sneller en dan moet jy maar aanhou mik tot die skoot afgaan. Dit is nogal pret om die ou goed te skiet. As lid van ‘n Jagters- en Wilbewaringsvereeniging is daar ook verskillende dissiplines waaraan jy kan deelneem met jou .303. Ek het my staatmaker .303 gebruik om my praktiese skiet te

doen toe ek my bekwaam het as toegewyde jagter tussen al die moderne en gewilde kalibers.
Om op te som kan ek dus die stelling maak dat ek letterlik van Steenbok tot Eland met my .303 geskiet het oor alle terreine en oor afstande wat reik van 15m tot 250m. Voorbereiding en keuse van ammunusie is ‘n deurslaggewende faktor om suksesvol te wees. Dit adresseer dan die vraag oor wattter spesies als met ‘n .303 gejag kan word. Ek dink tog dat vir die manne wat passievol is oor die kalliber daar wel ‘n plek is tussen al die ander standaard kalibers en dat die .303 sy man kan staan. Daar is slegs twee negatiewe punte wat ek kan noem naamlik ; 1. Ammunisie – Die keuse van ammunusie en punte is maar beperk en daar bestaan nie so ‘n wye verskeidenheid soos vir die standaard kalibers nie maar dit wat bekombaar is, is vir my voldoende. 2. Veiligheidsknip – Ek het meer as een persoon al hoor redekawel oor die .303 se veiligheidsknip. Dit is regtig nie ‘n betroubare meganisme nie, miskien oor die posisie waar dit geplaas is. Ek het al self ondervind dat met blote hantering die knip verskuif kan word. Ek loop dus nie met ‘n gelaaide geweer nie. Ten slotte, as jy dus jou pa of oupa se geweer bekom het en hom wil aanwend vir jag is daar volgens my nie fout met die kalliber nie. Mag jou .303 jou ook soveel herinneringe besorg soos wat myne vir my geskep het. Ek dink dis juis om die rede dat dit ook my gunsteling is bo al my ander kalibers.
Agtergrond
Die MLE, CLLE, SMLE Mk 1 – Mk 3 modelle is vervaardig in Britanje, Australë en Indië. Die No 4 Mk1 en No 4 Mk 2 is hoofsaaklik in Britanje, Kanada, Amerika en Pakistan vervaardig. Produksie het begin in 1895 tot ongeveer 1956 to produksie in Brintanje gestaak is. Daar word beraam dat ongeveer 17 miljoen wêreldwyd vervaardig is. Die wapens is gebruik in sowat 20 oorloë wêreldwyd wat strek vanaf die Anglo Boere-oorlog tot so onlangs as die konflik in Afghanistan. Vandag nog word die wapen gebruik in die Midde Ooste, Suid Asië, Afghanistan, Kanada asook ons eie Presidentswag wat dit dra met trots. Die No 4 Mk 1 was so akkuraat dat die bekende Holland & Holland wapenvervaardigers 26 000 omgeskakel het na die 7,62 x 51 NATO kaliber vir die uitsluitlike doel as skerpskutter gewere. In Indië het die Ishapore fabriek ook begin met ombouings na die 7,62 x 51 NATO kalliber in 1962.