2 minute read

BOESMANLAND-TAK

Anthony Swift - Voorsitter

Advertisement

Op 4 Desember 2021 is Boesmanland se Afsluitskiet aangebied onder dreigende donderwolke. Ons was bevoorreg om Kaapjag se Voorsitter Andre Duvenhage en KaapJag President Johann Strauss te ontvang by die skiet. Die baan self was oudergewoonte propvol pret en uitdagings, met buitengewone teikens wat gewissel het van Springbokke wat vir die lede tong uitsteek tot Krokodille en Seekoeie wat die skuts beloer het. Een van die bane het bestaan uit vyf verskillende wildspesies, en lede het deur middel van lootjietrekking bepaal watter teiken hy moes skiet. Teen laat-oggend het daar’n heerlike reënbui oor die baan uitgesak en was die skiet gestaak vir so paar minute. Die skiet is hervat toe die reën ophou, maar daar is skaars aangelê voordat die Hemelse sluise behoorlik oopgemaak het! Die skiet was noodgedwonge iets van die verlede, maar geeneen teenwoordig was enigsins gepla nie. Daarvoor was daar heeltemal te veel dankbare harte. Die Afsluitskiet het toe verander in ‘n Afsluit-braai op die stoep, terwyl almal kuier en en in verwondering aanskou hoe ons Hemelse Vader die aarde en ons dorp seën met die reëns. Die nuwe bestuur van Boesmanland tak: Voor van links na regs Mareetha Thiart, Anthony Swift, Jan du Toit. Agter van links na regs. Phillip Lochner, SJ van Schalkwyk, Koos Nel, Tiaan du Toit. Inlas: Loutjie Hanekom en Riaan Van Wyk

Teikens wat skuts dmv nommers trek en vasstel watter een hulle moet skiet

Boesmanland-tak

Die jongspan wat die dag deelgeneem het aan die skietdag Penkop wenners van die dag vlnr DJ Nel, Hendrik, Gert en Aurora Cronje.

BoesmanlandJag het hul 2022 seisoen afgeskop met ‘n Taktiese pistoolbaan en ‘n .22 Ghong uitdaging op Saterdag 12 Februarie. Veertig skuts het die dag aangedurf, waarvan sowat agtien skuts braaf genoeg was om die pistoolbaan aan te durf. Die pistoolbaan was só opgestel dat jy dekking moes gebruik en selfs deur ‘n venster moes skiet, als natuurlik teen tyd. ‘n Paar skuts was egter ietwat skugter, en ‘n paar gyselaar teikens het in die slag gebly. Die groot opgewindendheid van die dag was egter verskaf deur die .22 Ghong skiet. Dit was vir BoesmanlandJag ‘n riem onder die hart dat agt Penkoppe die wind en son saam met hul ouers aangedurf het om die Ghong Uitdaging aan te pak. Hierdie Penkoppe (tussen die ouderdomme van 6 en 12jr oud) het gesorg vir groot vermaak en konsternasie toe hul ‘n paar gesoute skuts op hul neuse te laat kyk het! Te oordeel aan hul uitstekende prestasie tydens die kompetisie het hul bewys dat skiet in Boesmanland ‘n blink toekoms het. Marietta van Rooyen maak gereed vir pistool skiet

This article is from: