8 minute read

ETIKET / ETIEK VIR JAGETRS

Next Article
NAMAKWA-TAK

NAMAKWA-TAK

ETIKET VIR JAGTERS

Deel 4 gaan oor die optrede t.o.v. die omgewing en behandel ons optrede t.o.v. veiligheid.

Advertisement

As jy vir brandvoorkomingsredes nie die rommelgat by die kamp semi-permanent aan die smeul kan hou nie, gooi gerus daagliks ‘n paar grawe as uit jou vuurmaakplek bo-op die inhoud daarvan, en sommer ook in die sanitasiegate. Dit sal die teenwoordigheid van vlieë verminder en onaangename reuke beperk. Maak ook seker dat jou rommel- en sanitasiegate behoorlik toegegooi is wanneer jy jou kampplek ontruim, en neem liewer die glasafval en plastiekmateriaal, wat ‘n baie lang lewe het, met jou saam. Aasdiere gaan waarskynlik die gate kom oopkrap na jy vertrek het, en die volgende jagtersgroep gaan net so ongelukkig daaroor wees as wat jou groep daaroor sou wees as julle in só ‘n kamp sou moes intrek.

As jy ‘n hurk-nood in die veld ondervind terwyl jy jag, grawe tog maar ‘n vlak gaatjie groot genoeg om alles, ook die toiletpapier, te akkommodeer. Indien moontlik, verbrand die toiletpapier, en verseker dat die gat ordentlik toegemaak word. As die substraat nie die grawe van ‘n gat toelaat nie, gebruik ‘n klip of twee om sindelikheid te herstel. Skerp hierdie gewoonte ook maar by jou gids in. Verwyder ook daardie stukkies wit toiletpapier wat jy gebruik het om die pad vanaf die karkas na jou voertuig/naaste veldpaadjie uit te merk. Alhoewel reën redelik vinnig sal help om toiletpapier te laat verweer, reën dit maar min in party van ons beste jag-areas, en kan ‘n jagter wat maande na jou in dieselfde area jag, dalk op jou nalatenskap afkom. Dit sal beslis afbreuk doen aan sy natuurbelewenis terwyl hy jag.

As jy noodgedwonge jou teleskoop wat tydens die jag “uitgegaan” het in die veld moet inskiet, moenie ‘n lewende boom se stam as trustop gebruik nie. Jy mag die boom se dood veroorsaak, al sal jy dit nie agterkom in die week wat jy daar is nie. Gebruik liewer ‘n dooie boom se stam, ‘n ontruimde miershoop (dikwels uitgehol deur erdvarke) of iets dergeliks.

Deur : Jokl Le Roux

Versteur die natuur so min as moontlik in die area waar jy jag. Moenie onnodiglik skiet nie. Probeer om deur jou optrede altyd die omgewing te bewaar en te beskerm. Moenie hout of plante sonder toestemming verwyder nie, en moenie iets skiet waarvoor jy nie toestemming het of nie kan benut nie.

uit wat sy beleid t.o.v. potensieёle probleemdiere soos jakkalse, rooikatte, ystervarke ens. is. Moenie net aanvaar dat hy alle probleemdiere op sy grond wil uitwis, en voor die voet skiet as jy dalk op van hulle afkom nie. Aan die ander kant kan hy dalk baie omgekrap raak as jy hom vertel van die rooijakkals wat jy kon skiet, maar nie geskiet het omdat jy nie sy toestemming gehad het nie! Dit kon dalk ‘n ou, skelm skaapdief wees waarna hulle al lankal soek! Vind dus vooraf uit!

Onthou, jy as jagter moet optree as opsigter van die natuur, omgewing en die wildlewe wat daarin gevind word.

Optrede t.o.v. veiligheid

DIE HEEL EERSTE PRIORITEIT wat altyd in die jagveld moet geld, is VEILIGHEID. Hierdie aspek hoort dus meer tuis by etiek (wat afdwingbaar en “strafbaar” is) as by etiket, wat net algemene norme EN RIGLYNE is waarvolgens opgetree moet word. Dis egter essensieёl dat dit tog hier behandel word.

Geen bok, maak nie saak hoe groot of watse wonderlike trofee dit is nie, is dit werd om van ‘n jaggenoot of gids se vrou ‘n weduwee te maak nie. Jag is een van die min tydverdrywe/ ontspanningsaktiwiteite waarby lewensgevaarlike wapens betrokke is. Daar gaan ongelukkig nie ‘n jagseisoen verby waartydens daar nie ‘n fatale of baie ernstige voorval in die jagveld plaasvind nie. Ware jagongelukke is uiters skaars. Ongevalle a.g.v. jagnalatigheid is egter ‘n relatief volop gebeurtenis. Wat mens tot bekommernis stem is dat die voorvalle meestal nie deur die “rookies” of nuwelinge in die jagveld veroorsaak word nie, maar wel deur die veterane. Diegene wie veronderstel is om alles van skietveiligheid in die jagveld te weet. Is dit nie dalk ‘n geval van die “ou hande” wat “mak” raak nie?

Geen gelaaide wapen hoort op ‘n voertuig nie. ‘n Geweer wat voor in die kajuit van ‘n bakkie gelaai word, se tromp moet ALTYD na

onder wys. As die duiwel dan die geweer laai en ‘n skoot gaan om een of ander rede af, is dit beter om ‘n gat in die voertuig se onderstel of ratkas te skiet as om die gids of jagter agterop die bakkie raak/dood te skiet. Wanneer jy uit die jagveld kom en ‘n voertuig nader, maak reeds op ‘n veilige afstand die wapen veilig deur die kamer te ontlaai en die magasyn leeg te maak, met die tromp wat weg van die voertuig af wys. VERKLAAR dan aan die ander passasiers dat jou wapen veilig is. ‘n Oop slot is gewoonlik baie gerusstellend. So word die bekommernis van die ander passasiers verlig, en as een van hulle dan nog steeds daarop aandring om te sien of jou geweer veilig is, moenie geaffronteer voel nie en WYS hom, op ‘n veilige manier. Liewer Bang Jan as Dooie Jan!

Wanneer jy ‘n wapen aan iemand anders oorhandig is dit goeie wapen etiket om, met die tromp in ‘n veilige rigting (gewoonlik skuins in die lug in of af grond toe), die slot oop te maak, in die kamer te kyk EN MET JOU PINKIE TE VOEL om te verseker dat daar nie dalk ‘n patroon in die kamer is nie. Daar behoort op daardie stadium, tussen ander mense, nie enige ammunisie in die magasyn te wees nie. Die slot word dan oop gelaat, en die wapen kan dan aan die ander persoon oorhandig word met ‘n verklaring dat die wapen veilig is. Die ontvanger moet HOMSELF OF HAARSELF OOK DAARVAN VERGEWIS DAT DIE GEWEER VEILIG IS, deur dieselfde aksies uit te voer. Mens kan nie té seker maak as dit by die veilige hantering van wapens kom nie! Deur dop te hou of ‘n mede-jagter deur bogenoemde dril gaan, kan mens ook vinnig ‘n opinie oor die ander persoon se wapen etiket, of oor die gebrek daaraan, vorm. Wees dus bewus daarvan dat jy waarskynlik fyn dopgehou gaan word wanneer jy ‘n wapen gaan hanteer, veral as jou jaggenote jou nog nie leer ken het nie!

Hanteer altyd alle wapens asof dit gelaai is en moet nooit ‘n wapen in iemand se rigting wys nie, behalwe in uiterste omstandighede. Moet ook nie ‘n wapen rig op iets wat jy nie wil skiet nie. Daardie onvoorbereide jagters sonder verkykers wat deur hul teleskope na ‘n bok kyk, oortree hierdie reël gereeld. Moet nooit ‘n geweer aan sy loop na jou toe trek nie. Vuurwapenhantering tydens of kort na drankgebruik is taboe. Dwing maar altyd hierdie reël af en kom dit self na, maak nie saak in watter omstandighede jy jou in die jagveld of in die kamp bevind nie. Wanneer jy uit die jagveld terugkeer kamp toe, moenie jou geweer op ‘n stoel of kampbed neersit nie, al is dit ontlaai. Jou kampgenote weet dit nie, en sal wye draaie loop om nie voor jou geweertromp verby te loop nie. Kom tot ‘n ooreenkoms met jou jag-genote oor ‘n spesifieke kode van optrede t.o.v. vuurwapenveiligheid en die stoor van vuurwapens in die kamp, bv. dat dit altyd in ‘n sak moet wees. As almal dit nougeset nakom, is almal gerus en skep dit ‘n atmosfeer van verantwoordelike optrede tussen die kampgenote.

Probeer om altyd in gedagte te hou waar die koeël gaan stop. ‘n Bok bo-op ‘n randjie waar geen tru-stop aanwesig is nie, moet liewer maar met rus gelaat word, behalwe as jy die terrein daar baie goed ken en weet dat daar geen risiko van plaaswonings, vee of ander menslike aktiwiteit vir tot 10 kilometer agter die teiken is nie, want dis omtrent so ver wat

moderne jagkalibers se koeëls kan trek. Selfs al tref jy jou teiken presies waar jy gemik het, gaan die koeёl in baie gevalle die bok ten volle penetreer en nog genoeg energie oorhê om ‘n ander bok te kwes, of om ‘n paar kilometer verder sy skade te doen.

Tref maar die gewone, gesondeverstand voorsorgmaatreëls wanneer dit kom by die oorsteek van hindernisse soos draadheinings, slote of vlak rivierlopies. Ontlaai jou geweer, en as jy iemand by jou het, handig maar die wapen aan hom oor terwyl jy die hindernis oorsteek. Laat hom dan maar weer die wapen vir jou aangee voor hyself die hindernis oorsteek. As jy alleen oor of deur ‘n heining moet klim, plaas die ongelaaide wapen op die grond anderkant die heining, en gaan klim ‘n entjie verder daarvandaan, aan die kolf se kant van die geweer, oor of deur die heining. Wanneer jy in ‘n boom of skiettoring moet klim, ontlaai altyd eers die geweer.

Wees maar altyd bedag op die moontlikheid van opslagkoeëls vanaf harde oppervlaktes, selfs water, en vermy sulke skote. Tydens voorsit skietgeleenthede, wat tipies is van die meeste springbok-uitdun geleenthede, maak seker dat jy met jou skote binne die perke van die skietvak soos deur die jagmeester aan jou uitgesit, bly. Wees bedag op die posisie van jou mede-skuts elders in die veld, die aanjaers wat in die veld te voet/perd/ motorfiets rondbeweeg om die bokke te “roer” of die moontlike teenwoordigheid van mak vee in jou lyn van vuur. Maak ALTYD seker van jou teiken voor jy die skoot laat loop, en moenie van jou aangewese voorsitplek af beweeg as jy nie die toestemming van die jagmeester daarvoor het nie. As jou wapen dalk laat val word, verseker altyd dat daar nie grond of ander obstruksies in die loop agtergebly het nie. As die wapen vir ‘n periode iewers oop in die kamp gestaan het, ondersoek altyd eers die loop vir ‘n moontlike blokkasie. Perdebye en wespes hou daarvan om hulle klei neste in nou, donker hoekies te bou, en kan binne ‘n uur of twee genoeg klei in die tromp pak om die loop tydens die vuur van die wapen in jou gesig te laat oopbars. Wanneer dit reën terwyl jy jag, dra altyd jou geweer met die tromp na onder om te verseker dat daar nie reëndruppels in die loop kom nie, aangesien dit dieselfde effek kan hê.

In die volgende bydrae voltooi ons die deel oor veiligheid, en gaan ons voort met optrede t.o.v. toerusting wat gebruik word en optrede teenoor die prooi.

This article is from: