
4 minute read
Om Geloftedag te vier
Desember 2022 De Wildt Nuus
Om Geloftedag te vier…
Advertisement
Moet ons dit vier? Mag ons dit vier? Onder groot wildevybome met ‘n donkergroen blaredak sit en speel ek en my jonger boetie op die dik piekniek kombers, die een wat Oumagrootjie gemaak het, terwyl Ma en Pa op hulle kampstoele sit en luister na wat die dominee sê. Ons mag speel, maar ons moet stil wees en wanneer daar gesing word, moet ons staan en wanneer daar gebid word, moet ons ook saam ogies toe maak. Na die dominee gepraat het is daar kans om koeldrank te drink, koekies, pasteitjies, broodjies en ander piekniek-kos te eet. Dan sing al die ooms en tannies ‘n klomp Afrikaanse liedjies en moet ons weer op die kombers stil speel terwyl daar ‘n ander oom praat. Hoekom Geloftefees hou? Hoekom moet ons vandag Geloftefees bywoon? Algemene vrae waarmee ek deesdae gekonfronteer word van vriende, kollegas, gemeentelede en leerders in my klas. Die vraag is definitief nie nuut nie en dit is nie die eerste keer in die Afrikaner se geskiedenis wat hierdie vraag gevra word nie. Ons weet selfs dat daar direk na die slag van Bloedrivier ‘n goeie klomp jare was waar daar nie spesifieke geleenthede gehou was op die 16de Desember nie en dat daar eers in die vroeë 1900’s amptelike bewegings en vergaderings gehou was oor die land heen om feeste te organiseer. Waarom is dit dan belangrik om vandag, na 1994 en in die huidige omstandighede, steeds Geloftedag te vier? Want Geloftedag gaan nie om ons self nie, dit gaan nie oor die verlede nie en selfs nie oor ons kinders se toekoms nie. Dit gaan nie oor die volk, die Boere, die Afrikaner of enige mens nie. Dit gaan oor God.
Bloedrivier Gelofte
(Afrikaans) Hier staan ons voor die heilige GOD van hemel en aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n Sabbat sal deurbring, en dat ons ‘n huis tot sy eer sal oprig waar dit Hom behaag,
en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte want die eer van Sy Naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.
Die Gelofte gaan oor ‘n verbintenis, ‘n belofte wat mense gemaak het teenoor God. En nie net is dit ‘n belofte wat mense gemaak het in 1838 nie, maar is dit ‘n belofte wat ek ook gemaak het. Ja, toe ek oud genoeg was om te verstaan wat ek sê en wat die woorde beteken, toe ek so 14 jaar oud was, het ek self ook hierdie belofte gemaak en wonder ek hoeveel van u as leser het ook nie dieselfde gedoen nie? Ek nooi jou uit om die belofte mooi te gaan lees hier bo, daar staan niks van watter vyand en wanneer nie, daar is geen datum of tyd betrokke nie, geen plek of ligging nie. Dit is ‘n belofte teenoor God, dat indien God my sal help om my eie vyande te oorkom, my eie uitdagings en berge te oorkom in my lewe, dat ek God daarvoor sal eer. Dat ek aan God die eer en die dank vir daardie hulp sal gee en dat ek my lewe so sal inrig op die 16de Desember van elke jaar, dat ek aan hierdie oorwinnings in my lewe sal dink en die verhale rondom God se invloed en ingrypende hulp in my lewe sal gedenk en aan ander sal vertel. Hoewel daar op Geloftedag jaarliks ‘n herinnering is aan die gebeure in 1838 gaan dit nie net om die slag van Bloedrivier nie. Dit gaan nie net om die Voortrekkers, die Afrikaners of ‘n spesifieke volksgroep of kultuurgroep nie. Dit gaan om God en ek. So, ek is definitief van mening dat ons nog kan, mag en moet Geloftedag vier. Vier dit omdat jy dankbaar is vir die lyn wat in jou eie verhaal, jou ouers, groot-ouers en land deurloop, van God se genade. Vier die oorwinnings wat God aan elkeen van ons gee oor ons vyande, oor die berge wat in jou lewe versit en oorkom word. Vier Geloftedag hierdie jaar omdat dit gaan oor God! Vier Geloftedag hierdie jaar omdat dit gaan oor jou dankbaarheid teenoor God! Vier Geloftedag hierdie jaar omdat jy nie skaam is vir die verhaal van God in jou verlede, hede en toekoms nie. Groete - David Scribante
BOKFONTEIN GELOFTEFEES 16 Desember 2022 om 09:00 tot 12:00 PROGRAM Vlagpresentering – Voortrekkers - Koersvas kommando Opening en Verwelkoming - Voorsitter -David Scribante Presensielys, teken van fees-register, verskonings & lief en leed Gewyde sang - David Scribante en Anna Volschenk Voorhou van die Gelofte Gelofte-diens - Ds. Nicky Hattingh N G gemeente Krokodilrivier Finansiële verslag - Penningmeester - Danie Fourie (jnr.) Stil kollekte Teepouse, Almal bring ‘n bordjie soet en sout eetgoed en kuier saam(tee, koffie en koeldrank beskikbaar) Speletjies vir die kinders Gesamentlike sang - Volksliedere Feesrede – Adv. J. Van Zyl. Bedankings - Smartryk Smith Afsluiting - Die stem: 1 e en 2 e strofes Piekniek onder die bome –almal welkom BRING EIE STOELLE