
4 minute read
DWBV-nuus
DWBV se laaste vergadering van 2022 en afsluiting
Die jaar het ook vir DWBV tot ‘n einde geloop tydens Dinsdagaand, 15 November 2022, se laaste vergadering van hiérdie jaar. Soos ouder gewoonte al het al die manne en dames bymekaar gekom by die De Wildt 4x4 baan se lapa en was daar so kuier-kuier sitplekke ingeneem, natuurlik nadat elkeen eers iets gekry het om die keel ook nat te hou tydens die verrigtinge. Phil Louw, ons voorsitter, het die volgende in sy verslag gesê (natuurlik net soos Phil kan): “Geagte Dames en Here, lede en vriende van die De Wildt Boerevereniging. Baie dankie vir die geleentheid om nog ‘n keer voor julle te kan staan; en alhoewel ons ‘n klein Boerevereniging is, julle daaraan te herinner dat ons tog ‘n verskil maak. Sonder God se genade, julle, ons lede en ons vriende van TLU SA, asook die mense van De Wildt, sou ons nie ‘n storie gehad het om te vertel nie.
Advertisement
Dankie
Gun my dit om elkeen wat direk en indirek betrokke was en bygedra het tot die voortbestaan van hierdie Boerevereniging DANKIE te sê vir hulle volgehoue ondersteuning. Julle ondersteuning en betrokkenheid word opreg waardeer. ‘n Spesiale woord van dank aan Wannie en Hanna, Gertjie, Lood, Janus, Ben, Jacques, Mark en Gerhard wat elkeen bygedra het tot die sinvolle bestaan van ons Boerevereniging. Julle insette en bydraes het nie ongesiens verby gegaan nie. Wannie en Hanna verdien spesiale melding. Wannie wat as adjunk president vir ‘n derde keer verkies is by TLU SA, en as die persoonlikheid van die jaar bekroon is, getuig van sy toewyding en ‘commitment’. Hanna het gesorg dat De Wildt Boerevereniging vir die tweede agtereenvolgende jaar die toekenning kry vir die Boerevereniging wat beste en mees sinvolste kommunikasie op ‘n volhoubare wyse gehandhaaf het. Hulle hou ons Boerevereniging in die kollig. Vriende, De Wildt se inwoners het ‘n storie, en het nog altyd ‘n storie gehad om te vertel. Julle teenwoordigheid getuig daarvan. Dankie dat julle ligdraers daarvan is. Dankie dat te midde van al die eise op julle lewe, dat julle in murg en been steeds boere is.” En met hierdie gevleuelde woorde van Phil is 2022 se storie van DWBV eintlik afgesluit, maar in dieselfde asem ook weer is 2023 se storie begin. Gelukkig was Gertjie Davel, ook teenwoordig en het hy elke lid se waardering teenoor Phil as voorsitter van DWBV uitgespreek en hom bedank vir die deeglikheid waarmee hy alles in die lewe, en so ook die voorsitterskap van DWBV, aanpak en doen. En so, ter inleiding vir 2023 se storie moes die bestuur van DWBV vir 2023 ook verkies word. Met elke man en dame wat sy en haar taak so uitsonderlik verrig het die afgelope jaar is die bestuur egter net so herkies.
De Wildt Boerevereniging se bestuur vir 2023:
Voorsitter: Phil Louw Onder- voorsitter: Gertjie Davel Sekretaresse/tesourier: Hanna Scribante Addisionele-lede: Lood Schoeman, Jacques Fourie, Janus Janse van Rensburg en Wannie Scribante. Dit het ook nou al gebruiklik geword om gereeld ‘n ou eet dingetjie vir die knaende honger voor te sit en om sommer net ook die geskikte luim en atmosfeer vir ‘n DWBV-vergadering te skep. En soos gebruiklik het Jacques Fourie weer vir ons wors gebraai vir heerlike boereworsrolle. Hierdie keer was nog ook getrakteer met Lee-Ann se sous, wat ‘n wenner! Eskom het ook sy deel gedoen, maar ten spyte van Suid-Afrika se uitdagings, hulle sê mos ‘n boer maak ‘n plan, het Gertjie en Wannie gesorg dat daar lig was en het almal ‘n hond uit ‘n bos uit gekuier – niemand was haastig op pad terug huis toe nie. Net soos dit by ‘n goeie Boere-kuier mos hoort. Dankie aan De Wildt 4x4 Natuur park: De Wildt Boerevereniging se bestuur en lede wil graag vir Louis en Alex van der Merwe, eienaars, bedank dat ons weereens hierdie jaar ons 4 byeenkomste by julle pragtige lapa kon hou. Dankie dat julle hand oop is vir die De Wildt gemeenskap. Julle word waardeer. De Wildters, en ander De Wildtn Nuus-lesers, maak gerus gedurende die Kersseisoen ‘n draai en geniet die fasiliteite wat aangebied word, daar is lieflike plekke vir piekniek hou en baie om te doen, so die kinders sal nie kerm in Pa se ore nie. Dankie aan Saartjie Schoeman Sonder jou Saartjie sal die DWBV se lede regtig gesukkel het om te oorleef. By elke vergadering sorg jy dat die bywoners drinkgoed het en die kele nie droog word van al die praat nie. Die Bestuur en lede van De Wildt Boerevereniging wens al die inwoners van De Wildt en die De Wildt Nuus-lesers ‘n baie geseënde Kersfees en ‘n voorspoedige 2023 toe. met Psalm 37: 4 & 5 as gids vir die jaar wat voorlê: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertroue op Hom; Hy sal sorg.”
