2 minute read

Agteros kom ook in die kraal

’n Mens hoor so dikwels mense praat van die spreekwoordelike agteros wat ook in die kraal kom — of dit nou ’n fisieke resies is waar die deelnemers een-vir-een oor die wenstreep hardloop (of dan nou “in die kraal inkom”) en of dit ’n minder tasbare doelwit is wat iemand bereik, soos om gewig te verloor, beteken inderdaad ook dat aanhouers wen! Maar dit blyk egter dat die spreekwoordelike “agterosse” dikwels alleen gelaat, selfs agter gelaat word, omdat dié wat die voortou neem, nie altyd verstaan waarom almal nie teen hul tempo beweeg nie. En dit maak dikwels dat hierdie laat aankommers se vermoëns bevraagteken word. Dit laat individue soms ook aan hulself twyfel: “Is ek dom, is ek lui, is ek agter of is ek bloot maar net anders?” Stel jou voor jy het ’n dogter of ’n seun wat tans matriek skryf. Hoeveel van ons het werklik geweet wat ons wil word toe ons op 18 of 19 ons matriek-eindeksamen geskryf het? Hoeveel van ons het werklik tóé al ’n plan vir ons toekoms gehad? Die wêreld het ons geleer dat die “agterosse” altyd agtergeblewe sal bly: as jy eers gaan studeer vóór jy begin werk, verloor jy drie jaar van jou pensioengeld. As jy dadelik ná skool begin werk, is dit dalk te laat om te studeer, want die lewe wag vir niemand nie. Sommige van ons trou en begin met ’n gesin, ander kies ’n loopbaan, sommige mense studeer vir dekades aaneen met die doel om ’n meester in sy of haar studieveld te word en niemand verstaan werklik die ander se motiewe nie. Dalk is dit tyd dat ons minder fokus op die wêreld se idee van vooruitgang en besef dat elke individu uniek is. Ons almal se doelwitte verskil. Ons persoonlikhede verskil en ons omstandighede is uniek. Hoekom moet ons dan op dieselfde tyd ons doelwit bereik? Vind jouself, werk hard, druk deur en doen altyd jou bes en ondersteun mekaar ten volle, dan kan agteros dalk ook in die kraal kom al is dit ‘n dag of twee, of selfs langer, na die ander. So, wat is die regte tyd om “in die kraal” te kom, wat is die aanvaarbare hoeveelheid tyd om aan ’n doelwit af te staan? CJ Langenhoven het eens gesê: “As die kortpad die beste was, sou die hoofpad daar geloop het.” Of hy nou bedoel het dat ’n mens eerder deeglik moet werk as vinnig, dié weet ek nie, maar wat ek persoonlik neem uit die woorde van Langenhoven is dat daar baie verskillende paaie is om te vat én ons almal weet alle paaie lei tog na Rome. Die antieke Japanese het geglo as jy val moet jy weer opstaan: “Val sewe keer en staan dan agt keer op.” Ek dink dít is waar die sleutel tot sukses lê; nie in hoe vinnig jy ’n doelwit bereik nie, maar hoe hard jy bereid is om te werk om die doelwit te bereik. En wanneer jy jou doelwit of doelwitte bereik het, wat ‘n trotse oomblik sal dit nie wees nie. Vasbyt!! Aanhouers wen.

Mirror Foto’s

Advertisement

Brits Ons druk enige foto op ‘n spieël! Verewig u geliefdes op ‘n spesiale manier met ‘n spieël-foto.

Kontak ons: MIRROR FOTOS (EBUS) SEL/ WHATSAPP: 079 153 0416

This article is from: