/hartklop_junie_2011

Page 1

Quellerina is ‘n familie, nie ‘n besigheid met ‘n jaarverslag nie. Maar dis ‘n familie met ‘n opdrag, en daarvan moet ons tog aan die Here en mekaar verslag doen. Ons moet onsself toets of ons die twee groot opdragte uitgevoer het, nl. die Groot Gebod (liefde vir God en naaste) en die Groot Opdrag (Maak dissipels van almal). Vir die boekjaar van Maart 2010 tot Feb 2011 lyk dit soos volg; 1. Lidmaattal Van die amptelike lidmate (doop = kinders, belydend= vanaf omtrent 17 jaar) was daar ‘n daling van 1268 na 1231. Die redes is grotendeels verhuising, ook nadat ons in 2010 die databasis skoongemaak het van mense wat verhuis het sonder kennisgewing. Daar was ook ‘n omset waar nuwelinge mense wat verhuis het, vervang het. Hulle het meestal Quellerina uitgekies om verskeie redes: dat hul die erediens besoek het en die atmosfeer hul getref het (55%), dat hul ‘n bediening vir hul kinders gesoek het (17%), vriende het hul genooi (20%) en ‘n leraar spesifiek het hul bereik (10%). Naas hierdie amptelike lidmate is daar nog omtrent 60 mense op ons databasis wat deelneem, asook natuurlik kerk-bywoners wat nie ‘n naam of kontakdata al ooit ingegee het nie. Tans woon byna presies 50% lidmate buite en 50% binne ons geografiese grense, nl. Quellerina, Florida Glen, dele van Bergbron en Florida Noord, en NorthcliffX25. (vervolg op bl 2)


(vervolg van bl 1) 2.

Kerkbywoning:

Ons het 4 dienste elke Sondag, die groot erediens in die kerk, die kinderkerk vir 2 jaar tot Gr.3, Gr.4-6, en Gr 7-12. Die Gr.7-12 jeugdiens het sedert Jan. 2011 geskuif na Sondagaand. Die totale bywoning (Februarie is die maand van opname) is effe beter: van 509 per Sondag in 2010 na 516 per Sondag in 2011. Die musiekspanne olv Alma Botes dra enorm by om ons in aanbidding te lei en God te laat beleef. Die Jeugaanddiens se bywoning is groter omdat dit tans 3 gemeentes (ook Waterval en Greymont s’n) se tieners is wat bywoon, maar vir statistiek tel ons net ons kinders in die kategeseklasse wat direk na die diens aangaan. Ongelukkig is die % bywoning van al 4 dienste saam nog steeds laag: 42% (40% in 2010). Ons behoort mos die Here almal élke Sondag te kom loof en élke Sondag na sy Wysheid kom luister. Dalk reis mense al hoe meer rond, of gebruik Sondag vir werk of ontspan.

Quellerina is nie ‘n gemeente met te veel ou òf jongmense nie. Daar is van elke ouderdomsgroep genoeg sodat elke ouderdom kan tuis voel! Maar interessant, met afstigting van Quellerina in 1976 was die ouderdomsverspreiding totaal anders: 300 dooplidmate en 300 belydende lidmate (volwassenes). Toe was almal jong pare met groot gesinne, nie soos vandag 1of 2 kinders per ouerpaar nie. Dink net hoe het die moederskamer toe gelyk en geklink! - 2 - Hartklop Junie 2011


(vervolg van bl 2) 3.

Jeugbediening

Jeugbediening is ‘n ernstige fokuspunt olv ds Henk Theart, Stephnie Crouse as jeugwerker, en 3 jeugspanne. Die 3 jeugdienste (kinders, gr.4-6 en tieners) het 165 kinders wat in totaal dit behoort by te woon. Maar al is die dienste interessant en treffend, is bywoning laer as veral 20 jaar terug. Skynbaar is ouers en kinders vandag minder ernstig om kerk by te woon as wat hul is om skool by te woon, en wat is die belangrikste? Die verandering van tienerdiens na Sondag aande was bedoel om ons gemeente se kinders nog beter te bereik maar ook om klein buurgemeentes se kinders ‘n groot jeugvriendelike diens te laat beleef. Die getalle van ons gr.7-12-kinders het gegroei van 45 soggens na 58 saans. Die persoonlike aandag wat elke tiener kry tydens 7 verskillende kampe, is uniek aan Quellerina. Dis hier waar ons jeugspan persoonlike verhoudings bou met elke kind en elke kind die Here self kan beleef. 4.

Uitreik

Quellerina is geseënd omdat ons seën. Die verskeidenheid van projekte waar ons met woord en daad help is baie! Bv. Bybel korrespondensie kursusse bereik 175 gevangenes. ‘Extreme makeover’ het nog 4 huise opgeknap en aan 24 inwoners selfrespek gegee. 22 Huiswerkers kry elke Donderdag naaldwerkklasse. By 2 skole is kos voorsien en ‘n Kerspartytjie gehou. Sondagmiddae aanbid 15 mense in Tswana olv pastoor Patrick Nkhomo. Die Claremont omgewing word intensief bedien olv Hester Potgieter. Weekliks kry 50 mense Bybelstudie en ‘n ete. Sy en haar span het 48 uiters behoeftige oumense op ‘n 5 dag-vakansie geneem. 150 Gesinne het met Kersfees altesaam R70000 se kruideniersware gekry om in Januarie nog te kan oorleef. Die baie komberse, klere en meubels wat lidmate skenk, word alles aan mense in groot nood uitgedeel, primêr in Claremont maar ook elders. Die werkskeppingsprojek (eetgerei poleer) wat Hester en Tinus Potgieter selfstandig vanuit geboue by hul huis bedryf, gee aan 12 mense elke maand ‘n salaris en selfrespek. Dit alles is genoeg om oor te juig!

3


(vervolg van bl 3) 5.

Dankoffers

Na twee jare van dalende inkomste, het die Here ons verras en geseën. Die lopende tekorte wat ons oor twee jaar uit ‘n egalisasie belegging moes finansier, kon ons in een jaar terugsit!. Die gemiddelde dankoffer-inkomste per lidmaat per maand het gestyg van R150 in 2009-10 na R191 per maand in 2010-11. Ongelukkig bly die realiteit dat slegs 47% van alle lidmate hoegenaamd ‘n dankoffer gee, selfs net eenmaal in ‘n jaar. Die groei in dankoffers was dus toe die getroue lidmate nog meer getrou begin gee het. Een enkele groot dankoffer het ons geloof besonder versterk: ‘n week nadat ons in Nov.2010 ‘n agterstallige bedrag van R56000 vir sinodale projekte (veral NG Welsyn en studentebediening) oorbetaal het, het die Here ons geseën met presies dubbeld die bedrag as een dankoffer: R106000! 6.

Gebed

Die grondslag van ons werk is om dit naby God te doen in gebed. Ons gebedsgroepe bid weekliks 3 keer saam (Vrydag, Saterdag en Sondag), en ook maandeliks saam met 3 buurgemeentes. Die span wat getrou die bestuur van die gemeente hanteer, is Gerda Day (saakgelastigde vir die finansies) en Barry Nelson (gemeentebestuurder en kerkfasiliteite). Verder sit ‘n kerkraad van 15 lede hul getroue diens vrywillig by, en doen die twee leraars hul deel. As élke lidmaat gaan aanhou bid en werk en gee, gaan Quellerina sy familieroeping nog beter vervul in 2011-12. Daarvoor werk ons saam. Namens Kerkraad, Junie 2011

- 4 - Hartklop Junie 2011


www.quellerina.co.za

Quellerina se bemarkingspan het gesorg dat elke ma ‘n Lindt sjokoladeballetjie kry op Moedersdag. Op 19 Junie (Vadersdag) gaan die pa’s ook ‘n beurt kry om bietjie bederf te word. 5


Stephnie Crouse Operasionele Direkteur—MobieG

- 6 - Hartklop Junie 2011


Dit het mode geword om die kerk te kritiseer. As ’n mens jou op van dié kritiek moet verlaat, het die kerk, in besonder die Afrikaanse kerke, geen geloofwaardigheid meer nie. En tog is daar steeds elke Sondag honderdduisende Afrikaanse mense in die kerk. Waarom doen hulle dit? As een van daardie mense sou ek vyf hoofredes wou aanvoer waarom ek steeds in die kerk bly. Die eerste is: Ek glo in God. Vir my is Jesus Christus die Here. My indruk is dat baie van die kerk se kritici nie (meer) glo nie, al sê hulle dit nie reguit nie. En as jy nie glo nie, dan het die kerk seker nie veel sin nie. Daar is natuurlik ook mense wat seergekry het in die tradisionele kerke en daarom dié kerke verlaat het, al hou hulle nog aan hul geloof vas. Ek het begrip vir hulle en wat my betref, het hulle die kerk nie regtig verlaat nie. Die “een, heilige, algemene Christelike kerk” van die geloofsbelydenis is immers nie ten eerste ’n struktuur of ’n denominasie nie. Dit is die gemeenskap van die gelowiges. Diegene wat gelowiges buite die tradisionele kerklike strukture wil wees, vestig eintlik alternatiewe maniere van kerkwees. Dis myns insiens ’n opwindende tendens en daar is dikwels goeie wissel-werking tussen hulle en die tradisionele kerke. Ons leer by mekaar.

Ek is persoonlik egter tevrede in ’n tradisionele kerk, deels om my tweede rede: Ek het nie te hoë verwagtinge van die kerk nie. Ek het vroeg in my Sondagskooljare al geleer dat die kerk vol mense met foute is. Omdat ek nie volmaaktheid van die kerk verwag nie, ontnugter die kerk se foute my nie. Maar daar is ook die ander kant van die munt, en dit is my derde rede: Daar gebeur soveel goeie goed in die kerk. Ons familie het dit die afgelope dae aan ons lywe gevoel ná die skielike dood van my nefie. Soveel mense in ons gemeentes het ons met liefde en warmte omvou. Soveel mense in ons kerke troos en gee om. Maar die goeie goed wat in kerke gebeur, gaan baie verder as dit. Ek sien al hoe meer voorbeelde van hoe mense die liefde van God waaroor gepreek word in dade uitleef teenoor mense wat dit nodig het. Ek dink aan aksies wat nood en armoede verlig, aan mense wat verslaafdes regtig help as daar niemand anders vir hulle is nie, aan kerkmense wat doelbewus uitreik na ouens wat hul werk verloor het, na vroue wat verniel word, na kinders wat koers in die lewe soek. Ek dink aan mense wat werk vir versoening en geregtigheid. (na bladsy 9)

7


ATKV sê : BAIE DANKIE!!!!

deur Janna Erasmus

Daar is lank beplan, gereël en naels gekou voordat die Paas-musiekaand eindelik gerealiseer het. Van buite af het dit nie goed gelyk nie. 'n Bitter koue aand met wind wat ons wil wegwaai en reën wat in strome neerstort. Maar “the show must go on”. Ons gaskunstenaars het darem veilig aangekom en alles is in plek. Baie stadig begin die gaste ook arriveer. Dirk en sy span het gesorg vir 'n kelkie sjerrie om die koue te verdryf. Wat 'n wonderlike aand! Ons eie Bécarre musiekgroep het die mooiste voorprogram aangebied. Mens was eintlik jammer dat dit einde moes kry. Daarna was dit Phillip en Ella Kotze en hulle twee pragtige kinders. Die koue was vergete en almal het hulle sang geniet. Daar is soveel in hierdie hele gebeurtenis waarvoor ons moet dankie sê : Ons Hemelvader wat ons so ongelooflik geseën het; ondersteuners wat ten spyte van die ongunstige weersomstandighede opgedaag het; die Kerkraad van Quellerina wat die kerkfasiliteite vir ons beskikbaar stel en hulp vanuit die Kerkkantoor ten opsigte van reklame en reëlings; ondersteuning van ATKV-hoofkantoor; ons goeie borge; lede van die tak wat oral ingeval en hulle deel bygedra het; Alma, Eddie & Kie wat net oral gewig ingegooi het en net altyd daar was; Hester vir die pragtige blommerangskikkings.... As daar enigiemand oorbly wat nie genoem is nie – wees verseker dis as gevolg van 'n senior-oomblik en nie van onerkentlikheid nie. Na finale berekenings kon ons R4 000 elk oorbetaal aan die Claremont Ontwikkelingsprojek en Ons Huis Tehuis vir Bejaardes. Soos gewoonlik was daar weer 'n skenking van ATKV-Oorde vir 'n lekker uitspankans by een van ATKV se oorde waarvoor daar 'n prystrekking gehou is. En die wenner was....tannie Maryna Potgieter. Maar die storie hou nie hier op nie. Tannie Maryna het toe besluit sy gaan die prys nie self benut nie, maar aan Hester Potgieter skenk om te gebruik vir 6 van die Claremont mense. Alles in ag genome, kon ons nie vir 'n beter aand gevra het nie!!!

- 8 - Hartklop Junie 2011


(vervolg vanaf bl 6) Ek is veral opgewonde oor hoe hierdie visie van die evangelie onder jongmense leef. Ek het al vir ’n student gesê hul geslag verstaan iets van die evangelie waarvan ek op daardie ouderdom geen idee gehad het nie.

Laastens: Dit gaan ook nie oor die kerk nie. Dit gaan oor God en sy boodskap van liefde en redding op soveel vlakke. En omdat Hy mense liefhet en hulle wil red, gaan dit ook oor mense en oor die aankweek van ’n lewenstyl van liefde tenoor mekaar.

Daarmee is ek by my vierde rede. In die woorde van Rick Warren: Dit gaan nie oor my nie.

Uiteindelik is die kerk ’n versameling mense wat juis dit probeer doen. Ons kry dit nie altyd reg nie, maar ons kan aanhou probeer.

Die kerk is nie daar as ’n soort geestelike supermark of vermaaklikheidsplek om my te plesier of aan my behoeftes te voldoen nie. Dit is nie daar om my kultuur, politiek of magsbelange in die samelewing te bevorder of te beskerm nie. Daarom is my persoonlike grille of giere nie ’n maatstaf vir my lidmaatskap of betrokkenheid by die kerk nie. Daar is ’n groter saak wat gedien moet word in die kerk, en daarom bly ek daar.

Dis omdat ek hierdie visie deel dat ek een van die baie mense is wat steeds in die kerk bly. (Artikel deur Neels Jackson : Beeld 25 Mei 2011)

Ps 139:14 Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.

9


Sluit aan by Quellerina se facebook groep en skryf op ons muur! Kyk gereeld na die foto album op facebook—dalk is jy daar!

1 Digitale klavier en 1 Akoestiese klavier te koop. Skakel met Alma Botes vir meer inligting.

- 10 - Hartklop Junie 2011


PINKSTER 2011

11


Quellerina se jeug kampe bly steeds tops!

Uittreksels uit briefies wat tieners geskryf het, na afloop van ‘n kamp: •Die kamp was GR8. Ek het myself gevind. Dankie almal as dit nie vir julle was nie, was ek verlore;

•...het nie uitgesien om te kom nie, maar nou was dit die beste naweek ooit om nader aan die Here te kom en Sy teenwoordigheid te voel... •Dit was die beste kamp ooit! Wil hier kom bly! •...ek het so baie antwoorde gekry op my vrae.

•...dit het my geestelik gehelp om weer met God te “bond”...

Wat sê die tieners van Quellerina se aanddiens formaat? ...ek kannie wag om Sondae aande kerk toe te gaan nie – dit is amazing, great, wonderlik en nog meer... ...dit gee mens moed vir die komende week... ...die sosiale atmosfeer is baie lekker en dis ‘n goeie idee. Ons hou nie van vroeg opstaan nie! ...‘n lekker atmosfeer by die kerk— asseblief hou so aan! - 12 - Hartklop Junie 2011


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.