Issuu on Google+

Sondag 27 Oktober 2013 Hervormingsondag: Ef. 2:1-10 31 Oktober staan in ons kerk as Hervormingsondag bekend. Die NG Kerk staan in die tradisie van die Hervorming waarin Martin Luther ’n belangrike rol gespeel het. Nadat Luther op 2 Julie 1505 in ’n geweldige donderstorm beland het en die weerlig ’n boom langs hom omgeslaan het, het hy in sy doodsangs belowe om ’n monnik te word as die Here sy lewe sou spaar. Hy het sy belofte gehou en het by ’n Augustynse klooster aangesluit. Luther het groot erns met sy godsdiens gemaak en was ’n uitstaande student. Op 29 jarige ouderdom is hy as ’n professor in Bybelse Teologie in Wittenberg aangestel. Ten spyte van al sy studies kon hy nie innerlike vrede kry nie. Hy was altyd bang dat die Here hom sou straf omdat hy nie genoeg gedoen het om ’n regverdige God tevrede te stel nie. Totdat hy in Rom. 1:17-18 ontdek het: “In die Evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: „Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat Hy glo, sal lewe‟”. Dit was die keerpunt in sy lewe. Vandaar die vier solas (alleen-) van die Hervorming: Christus alleen (solus Christos), genade alleen (sola gratia); geloof alleen (sola fidei) en Skrif (Bybel) alleen (sola Scriptura). Luther het op 31 Oktober 1517 sy 95 stellings op die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker . Daarin het hy die sake uiteengesit waarvan hy van die Roomse kerk verskil het. Die stryd wat daarop gevolg het, het uitgeloop op die Hervormers wat uitgeban is uit die Roomse Kerk. Daar word nou reeds beplan vir die 500 jarige herdenking van die Hervorming in 2017.


Wanneer Luther in die stryd om die waarheid van die Evangelie gevoel het dat dit vir hom te veel word, het hy terug gegryp na sy doop. Dit word aangrypend beskryf deur die gedig van Neels Jackson oor Martin Luther. Martin vat aan sy voorkop as die blitse om hom slaan en die klipkerk se mure te dun is om die kommer na buite te ban.

Martin vat aan sy voorkop asof hy die doopwater nog kan voel die koel lafenis van God se genade wat oor sy babagesiggie spoel.

Martin vat aan sy voorkop asof sy oumansvingers vat aan die oeroue beloftes van God met die water wat oor hom spat.

Martin Luther vat aan sy voorkop en voel hoe sy hart bedaar. Worstel ons ook soos Luther met die vraag of ons genoeg gedoen het om ’n regverdige God tevrede te stel? Het ons klem op God as ’n God van liefde, nie dalk vergifnis goedkoop gemaak nie? Vergeet ons dalk te maklik watter duur prys die vergifnis van my sonde gevra het? Ons moet onthou dat dit die lewe van sy eie Seun gekos het. Daarom behoort die lewe van Christene anders te lyk as die van ander mense. Uit hulle


optrede behoort dit duidelik gesien te word dat hulle dankbaar vir die verlossing wat hulle ontvang het nie. Wanneer God ons verlos, het Hy ’n doel met ons lewe. Ons lewe nie “meer t.w.v. vir onsself nie”. Mense wat eers die koninkryk van God soek is mense wat uit dankbaarheid lewe omdat hulle in Christus uit genade verlos is. Watter dinge behoort deel te wees van ons lewe uit dankbaarheid? Aanbidding: In die erediens is ons besig met die Woord, die gebed en die viering van die sakramente. Hierdie lewe van aanbidding word voortgesit in die lewe van elke dag waar ons in die teenwoordigheid van die Here ons werk doen en met mense omgaan. Omgee vir mekaar: Nie net met woorde nie, maar ook (juis) met dade. Ons maak tyd vir mekaar, bemoedig en ondersteun mekaar, gee ons geld en ons gawes, neem deel aan projekte wat ’n verskil in mense se lewens kan maak. Daar word vertel dat in die 3e eeu met die pokkeepidemie toe almal die siekes in die steek gelaat het, dit die Christene was wat hulle versorg het – selfs ten koste van hulleself. Dit het aanleiding gegee tot die grootste groei in die geskiedenis van die Christelike kerk. Só dat die Christelike Kerk onder Konstantinopel die Staatskerk geword het. In ’n land van armoede en ellende word ons dikwels beskaam deur ander gelowe se vrygewigheid soos die “Gift of the givers”. Ons grootste verleentheid in die land, kan ons grootste geleentheid word wanneer ons ons lewe wy aan die goeie dade waarvoor God ons bestem het. Van hierdie diens word ons nooit vrygestel nie, hier is nie ’n aftreedatum nie, net ’n sterfdatum. Getuienis: Die manier waarop ons die Here aanbid en die manier waarop ons vir mekaar omgee, lewer die duidelikste getuienis van wie


ons is as mense wat uit genade verlos is en uit dankbaarheid lewe. Die Seisoen vir Menswaardigheid waarop ons Sinode, saam met die ander kerke van die familie van NG Kerke besluit het, kan ons daarin help.


Preekdd31102013