Preekdd01122013

Page 1

1

Sondag 1 Desember 2013 Efesiërs 1:3-23 Die Christelike hoop Wanneer daar vandag na die geskiedenis van Suid-Afrika gekyk word, word dit anders vertel as vyftig jaar gelede. Toe is byna geglo dat ons geskiedenis begin het met Jan van Riebeeck se koms op 6 April 1652 aan die Kaap. Vandag weet ons dat daar baie ander mense voor die tyd reeds in Suider-Afrika was. Daarom word daar met ander oë na die verlede gekyk. So is daar ook verskillende maniere om na Christus se koms van die aarde te kyk. Die bekendste manier is om in Kerstyd die Kersverhale te lees soos wat die Evangelies dit vertel. Dit is goed so, veral vir ons kleiner kindertjies. Solank ons net onthou dat die briewe in die Nuwe Testament baie min maak van die Kersverhale. Die briewe, wat voor die Evangelies geskryf is, kyk vanuit ’n ander hoek na die betekenis van Christus se koms na die wêreld. Daar is veral drie gebeure wat vir hulle uitstaan het, drie belangrike dinge wat hulle verstaan van die boodskap van die Evangelie bepaal het. Dit is die opstanding en die hemelvaart van Christus en die uitstorting van die Heilige Gees. Die beeld (prentjie) wat hulle van Jesus het, is nie die van die kindjie in die krip of van die rabbi wat in Galilea opgetree het nie, maar die van die opgestane en verheerlikte Christus. Hulle leef en dink vanuit die tyd na die opstanding en hemelvaart van Christus (vs. 19b-23). Jou prentjie van Jesus gaan bepaal oor hoe jy oor Kersfees dink (watter plek jy daaraan gaan gee) en hoe jy oor die kerk dink. Watter beeld/prentjie kom by jou as jy oor Jesus dink – die van ’n kindjie in die krip? Die Een wat aan die kruis vasgespyker is? Die verheerlikte


2

Christus wat opgevaar het na die hemel? Dit is die beeld van Christus waarmee die eerste Christene geleef het. Om regtig te weet wie Jesus was, moet ons nie net aan Hom dink as die verheerlikte Christus nie, maar is dit net so belangrik dat ons onthou dat ons leef in die tyd na die uitstorting van Heilige Gees. Ons leef in die kragveld van die Gees. Paulus sê dat die Heilige Gees die waarborg (deposito/eerste paaiement) dat ons alles sal ontvang wat God belowe het (vs.14). Wanneer Paulus dan vir Christene in die streke van Klein-Asië skryf, bid Hy dat God, die Vader van onse Here Jesus Christus, Hom deur sy Gees so aan julle sal openbaar dat hulle Hom werklik kan ken (vs. 17). Het jy al ooit só daaroor gedink dat die doel van Kersfees behoort te wees dat jy God kan leer ken vir wie Hy regtig is? Om dit reg te kry moet die Heilige Gees jou verstand verlig en jou hart op God rig. Daarom bid Paulus vir die gemeentes dat God hulle geestesoë sal verhelder. Dit is ook my gebed dat die Heilige Gees ons sal help om nuwe oë na Kersfees te kyk. Om anders te kyk, selfs verby gebruike wat ons uitsig op God kan verduister. Dat ons God as die Vader van Here Jesus Christus werklik kan leer ken. Die boodskap van Advent wil ons daarin help. Dit is ’n boodskap van: Hoop, Vrede, Vreugde, Liefde! Ons staan vanmôre by die eerste, die hoop, stil. Paulus bid dat hulle sal ontdek watter “hoop hulle roeping inhou” (vs.18). Mense wat leef vanuit ’n roeping, ideaal, ambisie het iets waarvoor hulle leef. Hulle het ’n dryfkrag wat vir hulle energie gee, Hulle het iets om voor op te staan en voor te werk. Dit is goed om bepaalde doelwitte in jou lewe te hê. Maar die belangrike is dat die


3

doelwitte moet staan in die teken van die Roeping (met hoofletter), naamlik dat God jou uit genade verlos het, dat jy in Christus vrygespreek is van jou sonde (doop) en dat jou belangrikste roeping is om binne die reëls van die koninkryk van God te lewe en om mee te werk aan die koms van sy koninkryk in die wêreld. Daar is ongelukkig soveel dinge wat ons fokus kan laat verloor, ons raak so vasgevang in ons werk, so moedeloos as gevolg van ons landsomstandighede, dat ons hoop verloor. Ons voel moeg en moedeloos, uitgebrand en ontnugter. Dan is die boodskap van Kersfees dat die God en Vader van ons Here Jesus Christus is Immanuel, God by ons. Daarvan wil die Gees ons weer vanmôre oortuig. Die hoop word gedra, so het ons vir mekaar gesê, deur iets waarna ons uitsien. Ons kan volhard as ons weet dat daar ’n beloning is, dat daar ’n vakansie is om na uit te sien, kinders wat kom kuier. Paulus bid dat hierdie Christene, wat in baie moeilike omstandighede was, se geestesoë so verhelder sal word dat hulle iets sal sien van die “rykdom van die erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het” (vs. 18). Hierdie rykdom is nie net iets vir die toekoms nie, maar ’n lewe in die teenwoordigheid van God - nou en tot in ewigheid. Wanneer die Gees ons met nuwe oë laat kyk, kan ons ook sien dat ons in die jaar wat verby is geleef het uit die rykdom van God se genade en sy versorgende liefde. Het jy dit raakgesien? Waarvoor wil jy die Here vanmôre dank? Die voorreg van ’n kind/kleinkind? Die liefde wat jy ontvang en uitgedeel het? God se kinders is skatryk omdat ons glo dat ons ’n Vader in die hemel het wat vir ons sorg!


4

Maar, die laaste waarvoor Paulus bid, is dat hulle sal ontdek “hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo” (vs. 19). Hierdie is ’n moeilike een. Ons voel dikwels met ons rug teen die muur, so hulpeloos, so kragteloos. Dit is dan dat die Gees ons wil help wanneer ons weer raaksien hoe geweldig groot God se krag is wat Hy uitgeoefen het in Jesus Christus – gebore in ’n stal, kind van nederige ouers, verwerp deur die mense van sy tyd – en na 2000 jaar vier miljoene mense regoor die wêreld Kersfees. Mense wat hulle verlustig in die heerlike werk van God deur die lewe en werk van Jesus Christus – die Een wat leef en regeer tot in ewigheid. Hy is die Hoof van die kerk as sy liggaam, waarvan ek en jy as gedoopte mense deel is, mag ons ook in hierdie tyd ons krag in Hom ontdek en daaruit lewe! Die uitdaging vir die kerk vandag is om te leef uit die krag van die opgestane en verheerlikte Christus. Mag ons deur sy krag ’n verskil maak in die omgewing waar ons is en die deur die manier waarop ons gaan optree in die Kersfeestyd. Mag ons hoop bring omdat ons leef vanuit die hoop wat Christus gebring het!


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.