Preekdd08122013

Page 1

1

Sondag 8 Desember 2013 Johannes 14:1-11; 25-31 Die Christelike vrede Die vrede waarvan Jesus hier praat het eintlik niks te doen met die afwesigheid van oorlog en geweld nie – inteendeel, net verder sê Jesus dat Hy aan die geweld van die owerste oorgegee sal word wat Hom sal uitlewer en doodmaak. Dit gaan ook nie om ’n innerlike vryheid van spanning en bekommernis nie. Dit is nie ’n sentimentele gevoel van geluk nie. Hierdie vrede sluit aan by die betekenis van vrede (shaloom) in die Ou Testament. Hierdie vrede is ’n gawe van God wat beteken dat die gelowige sy geborgenheid in die Here vind – ten spyte van die omstandighede. Daarom kan Jesus met sy dissipels praat oor hierdie vrede te midde van hulle angs en bekommernis terwyl Hy besig is om van hulle afskeid te neem. Hy begin deur vir hulle te sê: “Glo in God en glo ook in My” (vs.1). Skielik is daar baie vrae. Thomas vra: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons die weg daarheen ken?” (vs.5). Filippus voeg by: “Here, wys vir ons die Vader en dit is vir ons genoeg” (vs.8). Al staan Jesus tussen hulle is dit nie maklik om die om die boodskap van Jesus te verstaan nie. Daarom maak Hy die ongelooflik belangrike uitspraak: “En wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (vs. 24). Dit is die Heilige Gees (soos on vir mekaar gesê het) wat ook in hierdie advents-/Kerstyd moet leer en herinner wat die ware betekenis van Christus se koms na die wêreld is. Jesus as die Vredevors wil die


2

vrede tussen God en mens kom herstel. Dit wat die sonde kom verbreek het, wil Hy kom heelmaak. Hy is die “weg en die waarheid en die lewe na die vaderhuis (-hart)” (vs. 6). Die doel van Christus se koms na die wêreld is om God werklik te leer ken as ons God en Vader van Here Jesus Christus. En dit gebeur, volgens Johannes, as die Heilige Gees ons verlos van ons ou sondige natuur, die wedergeboorste in ons lewe bewerk, ontvanklik maak vir die boodskap van verlossing, die geloof aan ons skenk om dit sien wie Jesus is en wat Hy vir vir ons kom doen het. Daarom sê Jesus vir Filippus: “Wie My sien, sien die Vader” (vs. 9). Deur die geloof in Jesus Christus word ons verhouding met die Vader herstel en ervaar ons God se vrede is ons lewe. In beginsel is dit so, in praktyk is dit nie altyd waar nie. Inteendeel! Daar is soveel dinge wat ons hierdie vrede wil ontneem. Dit is ’n beleërde vrede. Ons het die Heilige Gees nodig om ons oë daarvoor oop te maak vir die dinge wat ons vrede wil vernietig. Ons moet die vrede koester sodat die belofte van Jesus se vrede vandag nog waar kan word in ons lewe. 1. Ons vrede word bedreig wanneer ons meer ons vertrou in aardse dinge en ons eie vermoëns stel. “Julle kan nie God én Mammon dien nie” (Mt.6:24). Daarom het Jesus vir sy dissipels gesê dat hulle hul nie moet bekommer oor môre nie, want hulle het ’n Vader in die hemel wat vir hulle sorg (Mt.6:25 ev). 2. Ons vrede word bedreig deur ons gesindheid wat verkeerd is. Ons is ontevrede met onsself en ander mense, daarom is ons veroordelend, onvergewensgesind, haatdraend. Ons sien die splinter in iemand anders se oog, maar die balk in ons eie oog


3

sien ons nie raak nie (Mt. 7:3). Daarom leef ons soos die heidene: “’’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand” (Mt. 5:38). 3. Ons saai onvrede deur die woorde wat ons gebruik “Raka, jou dwaas, jou gek” (Mt.5:22). En deur die manier waarop ons praat. In plaas van dat ons “ja ons ja is”, gaan ons roekeloos met die waarheid om. 4. Ons vrede word vernietig omdat selfsugtige begeertes ons verhoudings vernietig. Ons gee toe aan die versoekings en dit vernietig ons huwelike en gesinne (Mt. 5;27-32). Soos met enige geskenk, moet ons ook die geskenk van vrede wat Jesus vir ons beloof het en wat die Heilige Gees wil waar maak in ons lewe, oopmaak en gebruik. As ons in hierdie Kerstyd iets van die vrede van God wil ervaar, moet ons begin leef soos wat die Vredevors vir ons in die Bergpredikasie geleer het. En as ons so begin leef, ontdek ons daardie vrede wat alle verstand te bowe gaan, maar wat ook tot in ewigheid bly. Jesus het gesê: “En as Ek gegaan het, kom Ek terug om julle ook te neem na waar Ek is” (vs. 3) – na die huis van die Vader met die Vader met sy baie woonplek. Mag jy hierdie vrede van die Vredevors in hierdie Kerstyd ervaar! - ’n Lewe in sy volheid in die teenwoordigheid van die Here. Amen


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.