Kommuniek April/Mei 2018

Page 51

Jenewer,

of gin (soos ons dit ken), is die in-ding, deesdae. By al wat troue of partytjie is, word gaste bederf met ‘n gin bar waar jy kan kies uit ‘n verskeidenheid gins, tonikums en selfs vrugte om jou drankie aan te vul. Maar dis nie ‘n modegier wat vir Ian Sieg, Bestuurder van ons Landzicht-wynkelder, beetgepak het nie. “Ek het al vir baie lank met hierdie idee in my kop rondgeloop, maar het besluit om eers ons Landzicht-brandewyn perfek te kry en suksesvol te loods,” sê Sieg. “Ek het eintlik by die Engelse leer gin drink, in Zimbabwe. En, wel, ek het ses jaar daar gebly en nooit malaria gekry nie, so ek vermoed dit het ook gesondheidswaarde!” Landzicht Gin, nog ‘n eksklusiewe produk uit dié wynkelder, is sedert Januarie vanjaar op die rakke, maar die proses is maande gelede reeds begin. Om seker te maak dat die volmaakte gin bekend gestel word, is blindetoetse gedoen soos met Landzicht Brandewyn, waar ongemerkte bottels gin geproe word. “Ek kan nie net vir myself gin maak nie,” sê Sieg. “Ander mense moet ook daarvan hou.” Volgens Sieg word ‘n goeie gin gemaak van die regte jenewer-bessies. Die basis van gin kan enige spiritus wees wat byvoorbeeld uit suikerriet of aartappels gemaak is. Landzicht Gin se basis is ‘n spiritus wat uit druiwe gestook is. “Die geheim is om ‘n suiwer spiritus te gebruik. Jou mengsel van bessies en ander geurmiddels – of dit nou suurlemoen of koljander is – word dan hierby gevoeg en gedistilleer. Wanneer dit ‘n rukkie gestaan het, distilleer jy dit wéér,” vertel Sieg. “So kry jy die perfekte infusion van geure.” Die geurmiddels wat vir Landzicht Gin gebruik word, is ‘n geheim wat Sieg nie bereid is om te verklap nie. Hy sê dat die terugvoer op die produk uitstekend is, met kopers wat weer en weer bestel. Die rede hiervoor is die tyd en sorg wat aangewend word om te verseker dat alle produkte eers bekend gestel word wanneer dit vervolmaak is. En steeds is dit nie die laaste verrassing wat Landzicht beplan nie.

51


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.