Fasiliteerdersgids G05 ~ Lewensvaardighede
VOORWOORD Baie welkom in graad 5! Die vak Lewensvaardighede dra daartoe by om elke leerder as geheel te ontwikkel. Dit vorm die middelpunt van die holistiese ontwikkeling van die leerder. Leerders word toegerus om hulle volle potensiaal te bereik op ’n fisiese, intellektuele, persoonlike, emosionele en sosiale vlak. Die leerders word toegerus met kennis en vaardighede om hulle te help om as volronde mens in die samelewing te funksioneer. Die vak moedig leerders aan om lewensvaardighede te ontwikkel wat hulle sal toerus om op ’n doeltreffende wyse die aanslae van die samelewing te hanteer. Die leerders word ook aangemoedig om ’n aktiewe en verantwoordelike rol in die samelewing te kan speel. Lewensvaardighede as vak bestaan uit drie afdelings: • Persoonlike en Sosiale Welsyn (PSW) • Liggaamlike Opvoeding (LO) • Skeppende Kunste (SK) – Uitvoerende Kunste en Visuele Kunste Die handleiding is só saamgestel dat die drie afdelings inmekaar vloei. Die LO-aktiwiteite is nie agter in die handleiding geplaas nie, maar ingesluit in elke kwartaal se werk. Jy kan wel die lesinhoud aanpas volgens jou goeddunke, maar jy moet seker maak dat al die werk tydens die kwartaal gedek word. Die handleiding is in oorleg met die KABV-vereistes opgestel. Persoonlike en Sosiale Welsyn leer leerders hoe om op te tree in die verhouding tot hulself en die omgewing en gemeenskap. Dit gee aan leerders die lewensvaardighede om ingeligte besluite te neem, ten opsigte van die alledaagse lewe. Dit sluit ook besluite oor persoonlike leefstyl, gesondheid en sosiale welsyn in. Dit sal leerders help om moeilike situasies te kan hanteer. Dit fokus veral op drie onderwerpe: 1. Ontwikkeling van die self 2. Gesondheids- en omgewingsverantwoordelikheid 3. Sosiale verantwoordelikheid Liggaamlike Opvoeding fokus op die fisiese ontwikkeling van die leerders. Die leerders leer van gesonde eet- en oefengewoontes, sodat hulle ingeligte besluite oor hul fiksheid en gesondheid kan neem. Die laaste deel is Skeppende Kunste. Dit word verdeel in Uitvoerende Kunste en Visuele Kunste.
9
© Optimi