
8 minute read
Les 1.2: Die media en loopbane
Les 1.2: Die media en loopbane
Inleiding
Hierdie les handel oor die sepie as televisiegenre en hoe dit as kommunikasiekanaal in die media gebruik word.
DIE MEDIA
Die media verwys na enige kommunikasiekanaal wat nuus of inligting in gedrukte of digitale formaat versprei. Massamedia verwys na media wat ’n wyer gehoor in ’n kort tydperk bereik. Dit behels onder meer advertensies, rolprente, die uitsaaiwese (radio en televisie) en gedrukte en digitale media (sosiale media, videokanale, ens.).
Die invloed van die media bly ’n betwisbare kwessie omdat die media beide positiewe en negatiewe aspekte behels. Van die positiewe aspekte sluit in die vinnige verspreiding van nuus en inligting deur nuuskanale, hetsy op TV, gedrukte media of elektroniese media. Dit herinner aan die idee van ’n wêrelddorpie, aangesien hierdie soort media mense saambring en hulle blootstel aan gebeure van regoor die wêreld. ’n Mens kry blootstelling aan verskillende kulture, sosiale en politieke stelsels en tradisies. Die media hou ons op hoogte van nuwe uitvindings, vooruitgang in die wetenskap, politiek, sosiologie en die vermaaklikheidsbedryf.
In teenstelling hiermee kan die media massahisterie veroorsaak deur fopnuus (fake news) te versprei. Fopnuus is ’n nuwe term wat al hoe meer algemeen voorkom. Hierdie term verwys na gefabriseerde nuus (opgemaakte nuus), wat geen basis in die werklikheid het nie, maar wat as feitelik korrek voorgehou word. Fopnuus gaan hand aan hand met internetrobotte en -trolle (bots and trolls) wat tot misleidende stories op verskeie platforms soos Twitter en Facebook bydra.
Die media is ook lankal onder die vergrootglas oor die hoeveelheid geweld wat kinders op televisie, in rolprente en in rekenaarspeletjies sien. Jonger kykers is dikwels slagoffers van die media se negatiewe invloed deur die gebruik van propaganda, advertensies en negatiewe rolmodelle. Blootstelling aan die media moet bestuur word en diegene wat kwebaar is, moet van enige moontlike negatiewe gevolge beskerm word.
Moenie bloot alles glo wat jy lees of sien nie – gaan die feite na en gebruik geloofwaardige bronne.
SEPIES
Waar het dit alles begin?
In die 1930’s het Amerikaanse radiodramas al hoe meer gewild geraak. Uitsendings van hierdie dramas was meestal op ’n vroulike gehoor gemik. Radiostasies het advertensiegleuwe begin verkoop om hul luistergetalle (station ratings) te vermeerder en hul winste te verhoog. Die advertensies is baie noukeurig gekies om tot die teikengehoor (huisvroue) te spreek en het huishoudelike produkte soos skoonmaakmiddels geadverteer.
Maatskappye soos Proctor & Gamble en die Lever Brothers het radiodramas geborg. Ma Perkins was een van hierdie radiodramas en handel oor ’n dame wat ’n houtwerf besit en bestuur. Die maatskappye het gou die omvang van hul teikenmark besef en self radiodramas begin skep. Die radiodrama-uitsendings het van streeksradiostasies na nasionale radiostasies verskuif. Die maatskappye het selfs verder gegaan en televisiereekse soos As the World Turns (1956 – 2010) en Guiding Light (1952 – 2009) geborg. Sedertdien hou “sepie”-produkte (soap products) met radiodramas en telereekse verband.
Dit is belangrik om te kyk na hoe stories in sepies vertel word. Wat is die narratiewe struktuur en hoe verskil dit van rolprente of ander televisiedramas?
Fig. 1.10: ’n Plakkaat van die radiodrama Ma Perkins
Gaan luister na uittreksels van Ma Perkins by bit.ly/2F169JJ.
Struktuur van die stories
Sepies het gewoonlik ’n deurlopende storielyn en elke episode het ’n oop einde. Sepies kan as melodramaties beskryf word en karakters word met tyd aan die gehoor bekendgestel. Daar word gewoonlik een episode per dag uitgesaai, met die gevolg dat die dialoog langer is en die storielyn stadiger ontwikkel as in ’n rolprent of televisiedrama. Sepies maak staat op ’n paar storielyne wat inmekaar verweef is. Sepies is al jare lank gewild onder kykers, hoofsaaklik omdat die verskillende storielyne nie op dieselfde tyd ontvou nie. Die skrywers gee gewoonlik net genoeg inligting om te verseker dat die kykers definitief verder sal wil kyk.
Verskeie protagoniste
Sepies of telereekse het verskeie protagoniste, elkeen so belangrik soos die volgende een. Uurlange sepies het gewoonlik 15 tot 20 sentrale karakters – baie meer as die gemiddelde film- of TV-drama. Die rolverdeling van sepies is die grootste van alle TV-programme. Daar is twee redes hiervoor: Eerstens beteken die groot aantal karakters dat geen karakter belangriker as ’n ander is nie – en in sommige gevalle kom en gaan die karakters baie vinnig. Tweedens werk die meeste sepie-akteurs onder kontrak wat gekanselleer kan word indien die sepie nie genoeg kykers lok nie. Verskeie karakters maak voorsiening vir ’n ingewikkelde web van storielyne en intriges.
Uiteensettings en verhaalraaisels
Elke episode begin in medias res – dit beteken die storie het reeds begin. Elke episode begin in die middel van die intrige/storielyn. Kykers word in die middel van ’n ingewikkelde storie “geplaas”, wat maande, of selfs jare gelede, al begin het. ’n Sepie floreer op verhalende enigmas of raaisels – dit is sepies se grondslag. Sommige raaisels sluit in:
• Sal Joan se baba terug in haar sorg geplaas word? • Het Amanda vir Betty by die trappe afgestamp en wat vang Amanda se bose ma nou weer aan? • Sal Keith en Sally hul vervalsde huwelik eg maak? • Wanneer sal John en Bert uitvind dat hulle broers is?
Storielyne en karakters
Die meeste sepiestorielyne fokus op die lief en leed van ’n groep karakters – soms ’n gesin en ander familielede soos ’n ouma of oom – wat in ’n sekere omgewing (gewoonlik fiktief) woon en werk. Die storie speel gewoonlik in ’n bekende, huislike omgewing af. Dit gebeur selde dat sepies nuwe en onbekende plekke gebruik. Marknavorsing toon dat kykers bekende omgewings verkies en beter met die karakters in hul alledaagse omgewing kan vereenselwig.
Die meeste sepies se storielyne bevat vurige romanse, buite-egtelike verhoudings, knoeiery, wrokke en ingewikkelde verbintenisse. Dit sluit ook gebeure in waarmee kykers kan vereenselwig, alhoewel meestal oordrewe is, soos ’n troue wat ontwrig word, moeilike geboortes en onverwagte rampe. Dan is daar ook elemente soos toeval, verspeelde kanse, gebeure op die nippertjie en deus ex machina-ontknopings. Deus ex machina beteken “god van die masjien”, maar het oor tyd ontwikkel in ’n dramatiese plotverskynsel – sodra dit lyk asof ’n probleem nie opgelos kan word nie, maak ’n nuwe karakter sy verskyning en keer die situasie op sy kop.
Tipiese sepiekarakters verskil van land tot land. Die VSA fokus meestal op glansryke, welaf en aantreklike karakters, wat minder realisties is. Die TV-bedryf in Amerika is op die rolprentbedryf gebaseer – glanspersoonlikhede, handelsname en (soms) oordrewe idees, terwyl TV in die VK meer op teater en letterkunde gebaseer is – die outeur se stem, Dickens en Shakespeare.

Fig. 1.11: Spelers van die gewilde Amerikaanse sepie The Bold and the Beautiful
Britse en Australiese karakters behoort gewoonlik tot die werkersklas en is meer realisties. Familietwis, finansiële verknorsings en huweliksprobleme is die kern van die kwessies wat aangeraak word.

Fig. 1.12: Akteurs van Brittanje se Eastenders Fig. 1.13: ’n Paar karakters van die Australiese sepie Home and Away

Suid-Afrikaanse televisiereekse behels ’n mengsel van die bogenoemde karakters en het oor die jare karakters en situasies van verskeie rassegroepe begin insluit. Voorbeelde van bekende Suid-Afrikaanse sepies sluit 7de Laan, Isidingo en Generations in.

Fig. 1.14: Spelers van die gewilde Suid-Afrikaanse televisiereeks Isidingo Fig. 1.15: Karakters van die gewilde sepie 7de laan

Sepies bring graag gevestigde karakters se kinders, broers en susters of ’n bose tweeling waarvan niemand geweet het nie by storielyne in. Komiese en atipiese karakters is gewoonlik baie eienaardig en kom ook soms in sepies voor.
Fisieke aksie en waagtoertjies is meestal nie deel van sepies nie. Alhoewel daar na hierdie soort gebeure verwys word, word dit om verskeie redes nie gewys nie: ’n sepieskedule is baie streng en daar is nie tyd om meer as een episode per dag te skiet nie. Sepiestelle laat ook nie toe vir hierdie soort aksie nie. Die skrywers fokus liewer op die karakters se reaksies op ’n rampspoedige gebeurtenis, eerder as om dit uit te beeld.
Daar is egter uitsonderings, soos wat kykers van die gewilde reeks Days of Our Lives uitgevind het:
In 2008, op pad terug na Salem van Ierland af, het inwoners per ongeluk op John Black se gesaboteerde straler (jet) geklim. Bo Brady het vir almal vertel dat hy kanker het. John was gedwing om vlieënier te speel omdat die vlieëniers bedwelm was, terwyl almal gedebateer het oor hoe hulle die beperkte suurstof sou deel. Die mees onvergeetlike oomblik: Oupa Shawn Brady het sy laaste asem geskep en ’n leemte in die harte van sy geliefdes en kykers agtergelaat.
Tipiese karakters
Sepies bestaan uit ’n verskeidenheid karakters, maar maak staat op geykte karakters (stock characters). Kykers weet presies wat om van hierdie karakters te verwag en dít skep ’n gemaklike en veilige ruimte. Die doel van geykte karakters is om die storie te vertel sonder dat die kyker die karakter hoef te probeer verstaan.
Geykte karakters is gestereotipeerde fiktiewe karakters met tipiese plat eienskappe. Hulle kan ook as argetipies, gemiddeld of afgesaag beskryf word. Voorbeelde sluit in die moeilike tiener, die skurk, die goeie ou, die mal buurman, die komiese figuur, die bleeksiel (nerd), die boekwurm, die dom blondine, die casanova, die kwaai ou man, die vergeetagtige professor, ens.

Fig. 1.16: Ridge Forrester, die casanova van The Bold and the Beautiful

Fig. 1.17: Betty as die bleeksiel in Ugly Betty
Vir die nuuskieriges
Kyk ’n paar episodes van enige Suid-Afrikaanse sepie of telereeks en kyk of jy die geykte karakters en scenario’s kan identifiseer. Bepaal dan hoe en waarom die karakters in die sepie gebruik word.